Antieke Drome
Antieke Drome – 1109 woorde
Lilly stap met klam straat af en trek haar jas so bietjie stywer om haar té maer skouers. Vandag is veronderstel om ‘n blye dag te wees. Dis nie almal wat die geleentheid gegun word om die groot K ‘n uitklophou te gee nie. Tog, voel sy asof haar lewe vir so lank op hou was, asof sy soveel het om te doen, maar tog ook nie weet waar om te begin nie. Hoe lank sy al so half doelloos in die stad se strate rondgedwaal het, weet sy nie rerig nie, maar net om die volgende hoek vang ‘n vreemde winkel haar oog. Sy kom nie gereeld in hierdie deel van die stad nie, maar sy kan nie dink dat sy dit al ooit gesien het nie.
Die deur is van ‘n donker hout, wat beslis al beter dae gesien het. Dis vreemd om ‘n hout deur as winkelfront deur te sien, maar dis die naam wat haar aandag trek. “Antieke Drome”.
Lilly stap versigtig oor ‘n modderplas om te sien wat in klein letters onder die winkel se hout naam op die agtergrond ingebrand is.
“Niks het nog ooit gebeur, sonder ‘n droom nie – Carl Sandburg”
Die vensters is dof van die stof en allerlei items is voor die groot glas venters gepak. Watter tipe winkel gebruik nie hulle vertoon vensters ten volle nie?
Met ‘n onseker maar nuuskierige hand draai sy dit swat eens ‘n blink gepoleerde koper deurknop was.
Sy stap binne. Die plek is stil. Té stil. Oral is snaakse kontrepsies, bottels met vreemde inhoud en notaboeke. Die half skemer winkel ruik na muf lappe en koerantpapier. Sover sy stadig deur die wanorde van die rakke stap, kreun die hout vloer onder haar.
“Ah, ek dog ek hoor iemand. Welkom,”
Lilly gee ‘n klein gil en swaai so vinnig om dat sy amper ‘n hele stapel boeke van die tafel langs haar afstamp. “Skuus, ek wou nie pla nie. Ek dog ek is alleen.”
“Is ons almal nie maar alleen nie kind?”
Die ou oomie voor haar is half krom van ouderdom en hy beweeg moeilik, sonder om sy voete te sleep. Hy het ‘n potsierlike lyfie, amper soos een van Liewe Heksie se gifappels met die ronde lyfie en kort beentjies. Op die brug van sy neus sit ‘n koelronde goueraam brilletjie wat net-net pas onder die boskasie ooghare. Sy spierwit hare groei in ‘n verwarde ontploffing om die rondte van sy kop, sonder om sy besonder groot ore te verbloem. Sy bles blink soos ‘n spieel.
“Skuus, ek wou nie steur nie. Ek kon myself net nie help nie. Wat op aarde verkoop u in hierdie winkel met so uitsonderlike naam?”
“Juffrou, dis presies wat die naam sê, antieke drome. Hoewel ek nie eers kan onthou wanneer laas ek iets aan iemand verkoop het nie. Ek woon al soveel jaar in die woonstel hier bo die winkel. Dalk sal ek eendag vir iemand alles gee, of dalk net die deur sluit, wie weet. Maar tot dan, is almal welkom hier.”
“Skuus as dit dalk dom klink, maar wat op aarde is al hierdie goed. Dit lyk soos eksperimente uit een of ander antieke wêreld.”
Die gifappeltjie gaan sit op een van die verweerde ou stoele en kyk om hom heen. “Dit juffie, is mense se drome.”
“Hoe nou oom?”
“Dis soos die naambord hier buite sê. Dis ‘n aanhaling van die Amerikaanse digter Carl Sandburg. Niks in hierdie ou wêreld sal bestaan of tot stand kom, as iemand nie eers eenmaal daaroor gedroom het nie. Vat byvoorbeeld vir Leonardo da Vinci. Ons moderne wêreld sou so anders daar uitgesien het as hy nie sy sketse gemaak het en gedroom het oor vreemde wonders nie. Ons sou nie helikopters gehad het nie, die duikpak, selfs modern oorlogsmasjiene soos die tenks, is alles dinge wat hy oor gedroom het. Tog onthou mense hom nie noodwendig as ‘n visionêre ingeneur of ontwerper nie, maar wel vir sy beroemde skildery, die Mona Lisa. Soos Carl Sandburg, Leonardo en soveel anders, is dit dikwels die kunssinniges, die skrywers, digters en skilders want met ander oë na die wêreld kyk. Hulle sien soms dinge wat ons praktiese mense nie kan opdroom nie. Maar ons praktiese klomp siele het weer die kennis om hulle drome uit die lug te pluk en dit ‘n werklikheid te maak”
“Ek verstaan nie so lekker nie oom. As hierdie dan alles rewolusionêre uitvindsels is, wat maak dit hier, in oom se winkel?”
“Dit my liewe mens, is die verskil tussen iemand wat deurdruk en iemand wat dalk net een dag te gou opgee. Sommige van hierdie goed, was soveel jaar voor hulle tyd, maar die skeppers daarvan het eenvoudig nie deurgedruk nie. Hulle het opgehou, voor hulle moes.”
“Hoekom sou enige iemand wat op die punt van ‘n groot deurbraak staan, dan net ophou?”
“Party het te laat begin werk maak van hulle drome en so het die lewe hulle ingehaal, voor hulle dit kon voltooi. Ander het met soveel twyfel in hulle harte rondgeloop, dat die stem van twyfel harder begin praat het as hulle selfvertroue. Sommige het langs die pad moeg geword om elke keer voor ‘n volgende struikelblok te staan te kom en dan is daar die wat eenvoudig opgehou het om te droom. Juffie, almal wat deur daardie deure stap, doen dit vir ‘n rede. Ek vra nie wat die rede is nie. Ek sê net vir elkeen van hulle dieselfde ding. Moenie ophou droom nie.”
Oom gifappeltjie het nie gewag vir ‘n antwoord of kommentaar nie. Hy het opgestaan en homself verskoon. “Trek net die deur weer agter jou toe as jy loop Lilly”. En toe is hy weg.
Lilly het nog ‘n wyle tussen die notaboeke rondgestap en die vreemde dinge bekyk. Is dit nie dalk waar sy moet begin nie? By al haar drome wat sy opsy moes skuif om die siekte te beveg wat haar wou verteer? Sy het nie opgegee toe sy moes veg nie. Dit tyd dat sy ophou terugkyk en haar drome weer gaan afstof. Daar wag ‘n hele lewe wat smeek om geleef te word.
Sy trek die deur saggies agter haar toe. Vandag is die eerste dag van die res van haar lewe en sy stap met ‘n nuwe doelgerigtheid in die straat af. Sy moet by die huis kom. Sy het ‘n lang lys van dinge wat hopeloos te lank gewag het om beleef te word. Met ‘n glimlag op haar gesig, breek eerste sonstrale deur die wolke en kan sy die warm van die lewe in haar voel groei.
Nothing ever happens without first a dream – Carl Sandburg
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou inskrywing vir die Augustus 2026 – Aanhalingsprojek