Jongste aktiwiteit:

Genoeg (229 Woorde)

  • Waarskuwing vir sensitiewe lesers: Een grafiese beskrywing in verhaal

Die nuwe, peperduur vleismes se besonderse sierlikheid vang haar oog waar dit in die lug huiwer.

Die vlymskerp lem is ideaal om skaapboud en varknek in perfekte skywe te sny, maar dit gaan binne sekondes bloedbevlek wees…dink sy spytig.

Dan laat sak sy haar hand met mening. Sy hoor die siek klank toe die lem wegsak in die niksvermoedende rug, gevolg deur ‘n (verbaasde?) kreet uit die vertrekte mond. Sy verluister haar aan die eggo’s van die bloedstollende gille.

Sy moes die kans benut terwyl hy gebukkend by die wynrak sit, op soek na die perfekte wyn vir aandete.  ‘n Aandete waar hy voor die gaste sou spog met sy wyne en spot met sy vrou. ‘n Aandete waar hy haar soos ‘n valk sou dophou vir een verkeerde woord, een onnodige glimlag, een oomblik te lank buite haar kassie. Hy verkies die aandag op hóm…

En dan…dít wat wag wanneer die voordeur agter die laaste gas toegaan.

Genoeg is genoeg.

Haar wakkerword uit die droom is traag, onaangejaag.

Sy draai haar kop en kyk vas in sy vroegoggend-oë.  Met ‘n manjifieke vertoon van selfbeheer, pen sy haar narsis-man se blik vir ‘n paar sekondes vas. Dan staan sy stadig op om met ontbyt te begin.

O, en sy moet onthou om die nuwe vleismes met die vlymskerp lem uit te haal vir vanaand se ete.

© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2026




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed