Die hoenders op oom Piet se plaas
Die hoenders op oom Piet se plaas
Gewoonlik is dinge baie rustig op oom Piet se plaas en verloop alles volgens ‘n goed uitgewerkte
roetine. Sy diere, sy werkers en almal wat hom ken, kan getuig van ‘n lieflike en rustige atmosfeer op
die plaas. Oom Piet boer nou al vir die afgelope 25 jaar met sy hoenders. Elke oggend, wanneer die
groot vragmotor, wat die vorige dag se eiers kom laai, deur die hekke ry, staan hy op. Gewoonlik is dit
dan nog nagdonker, want sien, hoenders is mos diere wat vroeg uit die vere is, en hy moet wakker wees
voor hulle opstaan. Hy drink sy eerste koppie koffie vir die dag en met die wegsluk van die laaste
slukkie, stap hy na die hokke, waar hy die een is wat die hoenders wakker maak, al driehonderd van
hulle.
Die lang rye hoenderhokke is oom Piet se trots. Hy het hulle almal self gebou, eers net een, en soos die
boerdery gegroei het, het hy meer en meer hokke en neste gebou. Dit is gemaklik ingerig, sodat die
hoenders die hele dag lank kan eiers lê. Daarom sorg hy ook elke dag dat alles skoon en netjies is. Drie
maal per dag word eiers uitgehaal, sewe-uur, elfuur en drie-uur, waarna dit gewas, sorteer en verpak
word, gereed om na die mark vervoer te word. Hierdie is elke dag se roetine, Maandag tot Sondag.
Vanoggend is dinge egter anders. Reeds voordat die groot trok deur die hekke ry, is daar ‘n andersheid
in die lug, ‘n onrustigheid wat oom Piet nie lekker verstaan nie en dit pla hom. Nog voordat hy
behoorlik wakker is en die ketel kon aansit, hoor hy ‘n groot onaardse lawaai en dit klink asof dit daar
van die hoenderhokke se kant af kom.
“Ek hoop nie dit is al weer ‘n paar rondloperhonde nie of slange.”
‘n Paar weke vantevore het drie honde daarin geslaag om in een van die die hokke in te kom en
gelukkig was daar werkers aan diens wat die honde kon verwilder voordat hulle enige skade kon
aanrig. Dit was egter deur die loop van die dag. Daar is nou niemand aan diens nie. By twee
geleenthede was daar slange in die hok wat eiers kom steel het en Piet vrees die ergste.
“Ek reken ontbyt sal maar vandag effe laat wees.”
Hy stap vinnig uit om te gaan ondersoek instel wat hy die hoenderhokke aangaan, maar is verras om te
sien dat daar geen hond of slang in sig is nie. Al die henne is al wakker en dit lyk asof hulle met ‘n
vergadering besig is.
Toe hy die deur oopstoot, is dit Hannetjie Hen wat hom amper uit die grond uit spring. Al die ander
henne, almal wat veronderstel is gereed te maak om hulle eiers vir die dag te gaan lê, sit in ‘n kringetjie
en staar haar aan. Dit is baie duidelik dat sy die middelpunt van alle belangstelling is. Oom Piet is stom
van verbasing en voordat hy mooi tot verhaal kan kom, begin Hannetjie met haar gekekkel en gekla. Sy
klink nie baie vriendelik nie en hits die ander aan terwyl sy verwoed haar vlerke klap.
“Kêkkelêkêkkelêkê, ek het iets om te sê.”
“Ja, ek luister.”
“Ons lê, ons lê ons lê, want dis mos soos julle dit wil hê.”
Oom Piet antwoord verbaas.
“Maar dit is mos soos dit behoort te wees. Dit is wat julle veronderstel is om te doen. Dit is waarmee ek
geld maak. Dit is my lewe!”
“Kêkkelêkêkkelêkê, presies net wat ek sê.”
“Nou wat is dan jou probleem, julle probleem?”
“Ons lê, ons lê ons lê, want dis wat jy wil hê. Maar dis nie wat ons wil hê. Dag in, dag uit sit ons en ons
lê. Dit maak ons moeg en pê. Ons slaap nooit, ons werk net en ons lê. Sodat jy kan geld hê. Maar wat
moet ons daarvan sê? Niks, net mooi niks kan ons sê.”
Al die henne spring op en af en skree agter haar aan.
“Kêkkelêkêkkelêkê, net hier om te lê. Kêkkelêkêkkelêkê, dis nie wat ons wil hê.”
Oom Piet is sonder woorde.
“Hoe verstaan ek jou dan nou? Dit is mos hoekom julle hier is. Nie waar nie? Om te lê.”
“Kêkkelêkêkkelêkê, dit is wat jy sê, maar nie meer gaan ons net lê. Dit is nie meer wat ons wil hê. Dismisbruik om ons heeldag net te laat lê. Ons gaan nie meer lê, omdat jy dit wil hê. Kêkkelêkêkkelêkê.”
Die klomp hoenders gaan erg tekere, erger as wanneer daar ‘n hond of slang in die hok sou wees en
oom Piet dink baie diep, terwyl hy met sy hand oor sy baard vryf. Hy kyk na Hannetjie en dan ook na
die ander hoenders. Dan skud hy sy kop. Die henne in die ander hokke het ook in die tussentyd begin
naderstaan en luister aandagtig waar hulle styf teen die draad staan. Sonder om ‘n woord te uiter, draai
oom Piet om en stap by die hok uit. Hannetjie spring op die hoogste punt wat sy kan kry om hom
agterna te staar en te sien wat hy gaan doen. Die ander henne raak skielik stil, want hulle wil ook graag
weet wat hy gaan doen. Ook hulle klim almal so hoog as moontlik om ‘n mooi uitsig te kry oor wat
aangaan.
Hannetjie sien hoe oom Piet in die rigting van die trokbestuurder stap, terwyl sy mense steeds besig is
om die vorige dag se eiers te laai. Dan gesels hulle by die trok se venster. Hannetjie probeer luister wat
hulle praat, maar dit is net te ver en oom Piet het die hok se deur agter hom toegetrek sodat sy hom nie
kon volg nie. Na sowat tien minute is oom Piet op pad terug en al die henne skarrel om weer op die
grond te kom. Rustig, soos hy altyd is, maak hy weer die hok se hek oop, stap in en druk saggies die
deur agter hom toe. Dan kyk hy na Hannetjie.
“Wel, wel, wel, ek het gedink oor wat jy gesê het en dit laat my dan seker met geen ander keuse nie.”
Hannetjie kekkel opgewonde. Sy is oortuig dat hulle die saak gewen het, maar dan sien sy hoe die trok
stadig nader beweeg.
“Dit is vreemd. Die trok kom nooit tot hier nie. Hulle laai net die eiers en dan ry hulle weer. Wat kom
maak hulle hier?”
Toe die trok net langs die hokke stilhou, klim drie mans uit. Hulle het sakke in hulle hande. Piet maak
vir hulle die hok se hek oop en stoot dit weer dadelik agter hulle toe. Dan praat hy weer.
“Soos ek sê, ek het dan seker geen ander keuse nie. Aan julle ongelukkigheid kan ek niks doen nie,
maar as ek nie meer by julle my eiers gaan kry, bly daar niks meer oor vir my. Dan moet julle maar
slagpale toe ry.”
Hannetjie skrik so groot dat sy van die vensterbank af val. Sy fladder haar vlerke en skree
“Slagpale, slagpale! Henne, hardloop vir die vale. Ons petisie moet maar wag. Dis beter om eerder
eiers te lê, as om te gaan vir slag.”
Alles is skielik weer rustig op die plaas en oom Piet is weer die baas. Hannetjie is nou versigtig. Nou
leer sy die ander henne.
“Wees tevrede met wat jy het, want môre braai jy dalk in jou eie vet.”
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2023 - OOP projek