Jongste aktiwiteit:

Betonduwweltjies (Silwer)

Dit was ‘n mooi sonskyndag. Die hemelruim se blou geskilder met ‘n nuwe potlood uit die hand van die Skepper. Geluide van die veervolkies getuig van harmonie in ‘n andersins deurmekaar wêreld. Ek stap energiek en vol lewe, gereed om die bul by die horings te pak, met ‘n lied wat borrel in my hart. Dit is op die punt om oor my lippe te stort. Die blydskap is dalk aansteeklik op jou gesig, soos jy hier lees. Toe gebeur dit!

“Ag nee, sies man!” skree ek heel verontwaardig oor die sopperige blerts modder oor my hemp. Jy kan jou seker voorstel hoe sleg dit op ‘n ligblou hemp lyk. Redelik vies, en erg omgekrap, draai ek om, gereed om die skuldige die leviete voor te lees. Die kersie op die koek is al die aandag wat so ‘n bruin merk in ‘n besige straat trek. Om alles te kroon, is ek laat vir die vergadering. Vandag se beplanning werk eenvoudig nie uit nie!

Met ‘n “jammer, Oom”, en ‘n stout glimlag in sy diepblou oë, stap hy verder. Sommer so dwarsdeur die modderplas wat my so pas bemors het. Iesegrimmig oor die gemors op my hemp, stap ek toe maar verder. Die onderlangse gemompel, om my misnoeë bekend te maak, is natuurlik nie afwesig nie. Jy ken dit mos. Ja, ek sien hoe jy lag.

Die skouerstamp teen my arm, op daardie oomblik, is effe ongevraagd. “Gaan jy nou opgeblase wees oor ‘n modderstreep op jou hemp, en dit terwyl die son skyn? Jy loop en mor soos ‘n stoomtrein.” Die stem behoort aan ‘n redelik kort mannetjie met ‘n aansteeklike energie in hom. Hy het net een been en loop met krukke. ‘n Skoen ontbreek aan sy voet. Die blou van die lugruim is vasgevang in sy oë. Ek kyk af na hom. ‘n Glimlag breek deur op sy gesig en dit laat my ook glimlag, al wou ek nie. Dit is besonders in vandag se tyd dat ‘n glimlag en oë nog ooreenstem met mekaar.

Die onstuimige rumoer van golwe, wat vernietigend teen die duine van my siel vasslaan, kalmeer onverklaarbaar vinnig. “Hoekom?” peins ek byna hardop teenoor myself.

“Verskoon tog, asseblief!” Die drie vinnige houe tik-tik-tik teen my been vas en wag op reaksie. Ongeduldig swaai ek om. Voel die steeds ongemaklikheid van die nat modderblerts wat smag na aandag. Nog ‘n brander stoot onskadelik rustig oor die strand van my lewe toe ek die blinde man agter my raaksien. Die glimlag op sy gesig was beslis welkom in my gemoed. Stadig maak ek spasie vir hom om met blydskap verder sy pad te vind, ongeag die hindernisse op sy pad. Die nat modderblerts skuur aan my siel.

Ek gaan sit sommer net daar op die sypaadjie. Ja, sommer die sypaadjie van die lewe ook. Voetstappe dreun onsamehangend om my. Vir ‘n kort oomblik kyk ek na die see en strand van my eie lewe. So stormagtig. Wat opvallend is, is die sigbare skade wat golwe en getye aan die duinewerk van my siel gemaak het. Ek kyk weer en weer, want iets is anders. Die stormgolwe blyk dieselfde te wees in krag, maar die effek is anders. In netjiese chaos is die krummels van ‘n betonoerwoud soos duwweltjies in ‘n ry gepak. Hulle soen die breekwater van die storms.

Die glimlag op my gesig is spontaan. Die kortgat kom sit wraggies langs my. Met ‘n stamp teen my arm glimlag hy en sê: “Jou oë vertel my die storms raak stil.”

Ek “mmmm” toe maar net, wetend dat hy die spyker op die kop slaan. Hoeveel onverbiddelike karakters word nie daagliks op my strand gepak sodat die skade van breekwater minimaal in my siel kan wees nie?

Ek neem ‘n kiekie van die modderblerts, wat intussen kraakdroog geword het, en raam dit in my hart. Fyn stowwerigheid, smerig oor die res van my ligblou hemp, maak ‘n verskil in die fyn besonderhede om hierdie dag te verstaan. Die stamp van kortgat, en die tik-tik-tik van die blinde man werk ek by as agtergrondmusiek, sodat ek elke dag rustig, sommer so op die sypaadjie van die lewe, kan luister hoe die betonduwweltjies op my lewe se strand verseker dat ek ‘n spieëlgladde spoelstrand kan beleef.

Die strande van die lewe sal vol erosieslote wees, was dit nie vir betonduwweltjies wat ons beskerm teen die branders nie. Mense en omstandighede word fyn ineengeweef met mekaar, dikwels in totale wanorde in ons lewens gepak. Ja, jy is reg. Dit maak nie sin nie.

Ek staan toe maar op om voort te gaan met wat oor is van die dag. Die ligruim is steeds potloodblou. Iewers in my geestesoog sien ek die Bouer met ‘n paar betonduwweltjies in sy hand. Ek kyk vraend na Hom en dan na die strand van my lewe. Die gety is besig om in te kom, en ek weet dat iewers langs hierdie strand, gaan nog ‘n paar betonduwweltjies gepak of sommer net gestrooi word. Betonduwweltjies wat, volgens my mening, maar deurmekaar lyk, maar heel suksesvol die skadelike breekwater van die lewe wegweer.

Die glimlag op my gesig is onvermydelik, goedkeurend en vol afwagting om te sien waar die volgende betonduwweltjies gaan opduik. Ek wonder of ek hierdie ligblou hemp, met die verdroogde modderblerts ooit sal vergeet!

© Francois Meyer

Woorde 887




My naam is Francois Meyer, getroud met n pragtige vroutjie, Jessica. Ek is n trotse pa van vier seuns. Die kewe is ryk aan kosbare waarhede wat ons gedagtes daagliks vul. Soms het ons die moed om dit op papier neer te pen sodat ander dit kan lees. Hoop jy geniet die lees soos ek dit ook geniet!

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed