
As die laaste dolos draai (Goud)
vanuit rimpelhande
tuimel versteende bene
oor ’n bokvelmatjie neer
wyl die Inyanga se goëlgesange
teen die hange
van Mapochsberg uitbeur
daar, waar ‘n vroeggebore baba
tussen dood en lewe draai
sal haar voorsate se geeste
die septer nogeens
in sý guns ook moet swaai
onder die awendster
se wakenede oog
hou sy die klein lyfie
na die godestad omhoog
terwyl sy moederhart onwillig
in die vuur van noodlot brand
kleef die geur van moetie
brakbitter aan die nag
want vir háár
het die laaste dolos
gatoorkop
in die semelstof
geland.
© Loretta Szikra
3 Kommentare
-
Caren Kearley
Baie mooi geskryf, Loretta.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Februarie 2024 - Dolos projek