Tandpyn in my hande (393 woorde)
Ons hoor gereeld dat swanger mammas tevrede sal wees met enige geslag, seuntjie óf dogtertjie. Solank al tien vingers en tone teenwoordig is, is hulle nie kieskeurig nie. Wanneer Baba ‘n peuter word, word die vingerrympie Duimpie, Duimpie se maat… eindeloos en tot groot vermaak van die kleinding gespeel.
Ek het dit ook gedoen en later het ek net geleef, laat leef en my eie hande as vanselfsprekend aanvaar.
Sowat ‘n jaar gelede het ek my hande en spesifiek my vingers, herontdek.
Regterhand was eerste met ‘n baie geïrriteerde vel en ‘n pinkie wat lyk asof hy deur die een of ander onsigbare mag, stadig maar seker om sy eie eerste lit gedraai word. Later het die pynlikste elektriese impulse soos wafferse weerligstrale deur my hand geklief telkens wanneer ek iets swaar opgetel of my hand in enige van die windrigtings gedraai het.
‘n Baie bekwame fisioterapeut het ingespring toe ek gaan hulp soek by haar en die probleem grootliks opgelos. My hand se krankheid het ‘n naam gekry: Karpale Tonnelsindroom.
Terwyl ek die oefeninge getrou gedoen het, het die linkerhand van hom laat hoor en toe ek weer sien, sit ek met twee baie geïrriteerde, kwaai, pynlike hande.
Soggens met opstaantyd word ek gekonfronteer deur tien geswelde, stywe vingers wat weier om enigsins oop of toe te maak voor ek op my voete is en begin regmaak vir die dag. Die meeste take, handelings en basiese bewegings veroorsaak van intense tot dowwe, onheilspellende pyne wat ek nog nooit in my hande ervaar het nie.
Ek het gou agtergekom dat die mensdom in my daaglikse handel en wandel, nie eintlik begrip het vir my dilemma nie. Na vele, herhaaldelike verduidelikings, het ek eendag spontaan vir iemand gesê: “Ek het tandpyn in my hande.”
Daar het onmiddelike begrip in die luisteraar se oë gespring. Daardie skerp pyne wat deur ‘n mens se tandkas trek vanweë ‘n stukkende tand, ken ons almal. Die onophoudelike, deurdringende geknaag in die kakebeen waar ‘n tandabses sy intrek geneem het, is net so bekend. Dit gaan in die tande en in my hande, oor senuweepyn en dít kan mense verstaan.
Ek vermoed dat die Karpale Tonnelsindroom dalk omgesit het in Artritis, indien enigsins moontlik. Daarom sal ek moed bymekaar skraap en na my huisdokter toe gaan.
Die goeie wat hieruit spruit, is dat ek nie tien tánde het wat gelyktydig pyn nie!
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2026
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.