Twee hande
Twee hande
Ouma Plaas het altyd gesê ’n mens se tien vingers is jou eerste telraam. Daarmee leer jy hoeveel jy het, hoeveel jy kortkom en hoeveel jy kan weggee.
Ons het grootgeword met die idee dat tien ’n besonderse getal is. Tien jaar maak ’n dekade, tien dekades ’n eeu. Ons gee tien uit tien vir uitnemendheid, tel agteruit van tien wanneer ’n vuurpyl lanseer word en verwag dat die wêreld ná die laaste sekonde van ’n ou jaar op een of ander manier anders sal wees. Ek weet ook die meeste mense wat ’n mikrogolf gebruik, stel dit op tiene in, want ek dink nie iemand gaan die 9 druk wanneer hulle die botter effens sagter wil kry nie.
Dan sê ek ook altyd vir my boerman dat ek hom tien liefhet. Hy weet wat ek bedoel. Tien is alles. Dis die meeste. Die liefste.
Tog wonder ek soms wat sou gebeur as ons net nege vingers gehad het.
Sou nege dan volmaak gewees het? Sou ons kinders geleer het om in neges te tel? Sou jy op jou negentigste verjaarsdag ’n eeu oud wees?
Die ou Grieke het tien as ’n simbool van kosmiese orde beskou. Pythagoras en sy volgelinge het selfs geglo dat die heelal deur getalle verklaar kon word. Ek wonder wat hulle met ’n kind met elf vingers sou gedoen het?
Die samelewing hou mos nie van ’n skeefte op ongemaklike plekke nie. Ons het self besluit hoe volmaaktheid behoort te lyk.
Ons hou daarvan om dinge af te rond. Ons maak lysies van tien, stel doelwitte vir ons dertigste en veertigste verjaarsdae en glo dat ’n mens iewers in jou lewe ’n punt behoort te bereik waar alles uiteindelik in plek val. Asof die lewe ’n som is wat net een regte antwoord het.
Die natuur hou egter nie boek nie. ’n Boom tel nie sy jaarringe voordat hy besluit om nog ’n tak te maak nie. ’n Rivier hou nie op vloei omdat hy sy bestemming bereik het nie. En die maan word elke maand vol, net om weer stadig te krimp.
My ouma het altyd by tien opgehou tel. Dan het sy haar hande oopgemaak en weer van voor af begin, want sy het geweet dat voltooiing net die oomblik tussen twee beginne is.
© Hester Steenkamp, 2026
(381 woorde)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.