Jongste aktiwiteit:

die mense wat ons saamvat

Ek skryf deesdae baie oor verhoudings.

 

Nie net oor die romantiese soort nie, maar oor al die verskillende verhoudings wat ons in ’n leeftyd opbou en die mense wat ons op een of ander manier langs die pad ontmoet.

 

Mense wat my ken, weet ek is nie eintlik iemand wat maklik nuwe mense ontmoet nie. Ek het ’n tipe sosiale angs wat veral kop uitsteek wanneer ek in ’n nuwe situasie beland of wanneer ek nie heeltemal weet wat van my verwag word nie. Ek is nie die persoon wat by ’n groep vreemdelinge instap en vyf minute later almal se name ken en sommer ook weet wie se kind in watter klas is nie. Ek staan eerder ’n bietjie op die kant. Ek kyk eers. Ek luister. Ek probeer uitwerk hoe almal bymekaar pas voordat ek besluit of ek dalk ook iets gaan sê.

 

En tog het ek deur die jare wonderlike mense ontmoet.

 

Baie daarvan het eintlik sommer vanself gebeur. Vroue met wie ek op een of ander manier aanklank gevind het, sonder dat ons dit beplan het. Soms omdat ons kinders besluit het om maats te wees.

 

Die skoolhek het vir my ’n paar van hierdie mense gegee. Dit begin met iets baie eenvoudig. “Jou kind is ook in juffrou se klas, né?” En voor jy jou kom kry, staan julle ’n jaar later langs die sportveld en praat oor tieners, huiswerk, punte en die feit dat jy nie meer weet of jy moet raas, huil of net die WiFi afsit nie.

 

Daar is die ma wat saam met jou wag vir die skoolkonsert om klaar te maak. Sy is ook moeg. Sy wonder ook hoe haar kind môre se toets gaan slaag. Sy verstaan hoekom jy op ’n sekere dag net jou kop teen die kar se dak wil druk en vir vyf minute niks wil hoor nie. Jy hoef nie eers veel te verduidelik nie. Sy het ook kinders.

 

Dan is daar die gym-vriendin. Aanvanklik ken jy haar net as die vrou op die fiets langs jou. Later weet jy van haar knie, haar werk, haar man, haar kinders, haar slegte week en haar nuwe jeans wat sy eintlik ’n nommer te klein gekoop het omdat sy vas geglo het sy gaan daarin pas.

Julle het begin oefen, maar iewers tussen die sweet en die lag en die kla oor burpees begin julle oor die lewe praat. Sy weet wanneer jy gewig verloor het voordat iemand anders dit raaksien. Sy kan sien wanneer jy eintlik nie lus is om daar te wees nie. En wanneer jy sê jy kan regtig nie meer nie, sê sy: “Kom, nog tien.”

 

Jy haat haar dan ’n bietjie.

 

Maar jy doen die tien.

 

Daar is ook die vriendinne wat jy by die kerk ontmoet. Die een wat langs jou sit en jou hand druk wanneer die preek net ’n bietjie te naby aan jou eie lewe kom. Die een wat nie noodwendig alles van jou verstaan nie, maar steeds daar is. Party mense hoef nie jou hele storie te ken om vir jou ’n veilige plek te wees nie.

 

En daar is die vriendin wat jy deur jou kind ontmoet het. Iemand wat jy waarskynlik nooit sou ontmoet het as twee kinders nie op ’n stadium besluit het dat hulle beste vriende is nie. Jou kind bring mense in jou lewe waarvan jy nooit geweet het jy hulle nodig het nie.

 

En dan is daar daai vriendin wat jy al jare ken. Die een vir wie jy die foon kan optel en sê: “Jis, vandag was ’n kak dag,” en dan net afpak. Jy hoef nie jou woorde mooi te kies nie. Jy hoef nie die storie van voor af te vertel nie. Jy weet sy verstaan. En môre is dit dalk haar beurt om vir jou dieselfde te sê.

 

Party vriendskappe is soos seisoene en dit kom ongelukkig met ‘n horlosie wat uitloop.  Ek dink ons praat nie genoeg oor hierdie soort vriendskap nie.

 

Ons praat baie oor beste vriende en mense wat al van skool af saam met ons is en die mense wat ons vir altyd ken. Maar wat van die mense wat net vir ’n sekere tyd in jou lewe is?

 

Dit is seker een van die moeiliker dinge om te aanvaar. Ons dink maklik dat as iemand vir ons belangrik was, hulle vir altyd moet bly. As die verhouding eindig of mense uitmekaar beweeg, begin ons wonder of dit dan ooit werklik iets beteken het.

Maar miskien hoef dit nie so te werk nie.

Miskien was iemand net daar vir daardie spesifieke stuk pad.

 

Om saam met jou deur ’n egskeiding te stap. Om saam met jou deur ’n kind se moeilike tienerjare te kom. Om jou deur ’n nuwe werk te praat. Om koffie te drink terwyl jy oor ’n verhuising kla. Om langs jou te sit wanneer iemand in jou familie siek is. Om jou te help wanneer jou hart gebreek is.

 

En dan, op ’n stadium, verander die lewe. Julle praat minder. Julle sien mekaar nie meer so gereeld nie. Soms weet jy nie eens presies wanneer die vriendskap stiller geword het nie.

Ek dink ons maak dit soms groter as wat dit hoef te wees. Asof ’n vriendskap net waarde het as dit vir altyd hou.

 

Miskien is dit nie waar nie.

Miskien kan iemand vir ’n kort tyd baie belangrik wees.

 

Ek dink aan al die vroue wat ek sommer langs die pad opgetel het. Die een met wie jy ’n koffie drink terwyl die kinders by ’n verjaardagpartytjie is. Die een wat vir jou ’n boodskap stuur om te vra of jy veilig by die huis gekom het. Die een wat jou laat lag op ’n dag wat jy eintlik wou huil. Die een wat saam met jou kwaad is oor jou tiener se huiswerk. Die een wat saam met jou op die skaal klim. Die een wat vir jou sê jy lyk mooi op presies die dag wanneer jy glad nie mooi voel nie.

Ons ontmoet mekaar op vreemde plekke. By skoolhekke. Op parkeerterreine. In ’n gimnasium. By ’n kerk. By ’n koffiewinkel. In ’n WhatsApp-groep wat jy eintlik nooit wou join nie.

En soms word een van daardie vreemdelinge iemand vir wie jy jou hart oopmaak.

 

Nie omdat jy dit beplan het nie. Nie omdat jy op daardie spesifieke dag besluit het jy het ’n nuwe vriendin nodig nie.

 

Dit gebeur net.

 

Miskien is dit wat ek al hoe meer van verhoudings begin verstaan. Nie almal is bedoel om vir altyd te bly nie. Sommige mense loop ’n hele leeftyd saam met jou en ander net ’n klein entjie.

Maar daardie klein entjie kan steeds saak maak.

 

En dalk moet ons minder bekommerd wees oor wie gebly het en wie weggegaan het.

 

Dalk moet ons net dankbaar wees vir die vroue wat, vir ’n rukkie, langs ons geloop het. 

@marthamariajones




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed