Ons nederige dank (Brons)
Dankbaar vir mooi woorde op papier,
vir plakate teen die pale om strate te versier
Dankbaar vir beloftes van water, krag en werk,
vir nuwe teerpaaie tot reg voor die plaaslike kerk
Dankbaar vir glimlagte, drukkies en kos,
vir T-hemde as groot busse ons aflaai en los
Dankbaar dat jul vyfjaarliks ons name onthou,
en met opregte trane vir ons rookdrome bou
Dankbaar vir een enkele droë witbrood,
wat ‘n hele gesin moet red uit hul nood
Dankbaar vir kameras wat alles vasvang,
maar ons steeds honger na ‘n toekoms verlang
Dankbaar wanneer die stembusse sluit,
vir koue waarheid wat steeds vertroue uitbuit
Dankbaar dat alles bly soos dit was
vooruitgang pas mos nie in ons leiers se kas.
—oooOooo—
© Ilana Oosthuizen, 2026
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.