Aandadig aan moord (Silwer)
Verwoed gooi ek wal toe Boet eendag by die huis aankom met ‘n klein, sagte bondeltjie, maar die oomblik toe hy haar versigtig in my hande plaas, is my hart verlore. Die verskonings was gou vergete met die bang, kloppende hartjie teen my vingerpunte. “Toemaar” troos ek sag, “hier is jy veilig.”
Sy was die pragtigste, sagste chinchilla-dingetjie wat ek nog ooit gesien of vasgehou het. Met deernis het ek haar teen my hart vasgedruk al het ek geweet hoeveel tyd en versorging sy gaan verg. ‘n Nagkind wat slaap in die dag en woel in die nag.
Hoekom ek altyd ingee wanneer die kinders troeteldiere huis toe bring weet nugter, want hulle verloor gou belangstelling en dan word dit my verantwoordelikheid.
Na ‘n paar maande was sy groot genoeg om ‘n maatjie te kon kry. Versigtig en nuuskierig het sy die nuweling in haar domein ontvang en nie lank daarna nie was hulle ‘n gesinnetjie van drie. Daar is ge”oe” en “aah” oor die nuwe baba.
Nog ‘n jaar later was daar ‘n tweeling by. Identies en baie skugter het hulle diep weggekruip, selde kom groet. Sy het hulle gewys hulle hoef nie bang te wees nie, ons sal hulle geen leed aandoen nie.
Saans kon ek hoor hoe sy met hulle speel en gesels, bevele uitblaf om hulle te leer. Nie dat daar seker veel van die lewe te leer was in hulle beperkte lewensomstandighede nie, want hulle is, net soos sy, ook in gevangenisskap gebore. Haar leef-en-oorleef-instink het nooit kans gekry om te ontwikkel nie. Van gevare buite die hok was sy nie bewus nie, want hier, in hulle eie koninkryk, was hulle veilig, beskut en versorg.
Ek het soms gewonder wat hulle dink wanneer hulle vir ure so doodstil op ‘n stomp sit en deur die ogiesdraad staar. Wonder hulle dalk hoe dit moet voel om vry te wees; van boom tot boom te kan spring; hul eie kos bymekaar te kan maak; getrou aan hulle natuur te leef; gevare te trotseer; vry en ongebonde te kan wees, soos God hulle geskape het, maar mens dit van hulle kom ontneem het.
Later was die babas groot genoeg om te kan verkoop. Dit was mos die aanvanklike rede waarom Boet hulle aangeskaf het, om met hulle te teel vir ‘n ekstra inkomste. Maar by verkoop het dit nooit uitgekom nie, want hoe kry mens dit oor jou hart om so ‘n pragtige gesinnetjie op te breek?
Op ‘n dag besluit manlief om die kleintjies bietjie te laat proe aan vryheid. Hy maak die hok se hek oop en haal die tweeling uit. Sit hulle buite die hok neer met die wete dat hulle nie te ver van hul ma sal wegdwaal nie. Sy teorie werk, hulle bly naby die hok, hardloop en speel net rondom die hok, in die koelte van die groot perskeboom.
Een oggend staan die hek wawyd oop. Ek skrik en dog dadelik dis ‘n rondloper kat se werk, maar besef ‘n kat sal nie die hek kan oopmaak nie. Ons fynkam die binne- en buitekant van die hok vir leidrade en spore. Een van die tweeling en die ma is weg. Ek stap om die huis om te kyk of daar enige teken of spoor van hulle is en skok tot stilstand. Op die rand van die swembad lê sy op haar magie, sopnat met lewelose, oopgesperde ogies. ‘n Bietjie verder weg lê die baba ook.
“Aggenee, Bubbels, wat het gebeur?” snik ek my hartseer uit.
Kyla, ons getroue herdershond, kyk my met hartseer oë aan. “Wat het gebeur, Kyla?” vra ek asof ek ‘n antwoord van haar verwag. Ek het haar hoor blaf in die nag. Ek glo sy het die spartelende bondeltjies, wat hulle misgis het met die blink poel water, probeer red deur hulle met haar bek uit die water te haal, maar dit was te laat. Die geheim van die gebeure lê agter haar oë weggesluit, oë wat nie woorde kan praat nie.
My hart is seer. Daar heers ‘n atmosfeer van treurigheid in die chinchilla-hok. ‘n Gesin van vyf is nou net drie, en ‘n kleintjie soek sy ma.
Wie aandadig is aan dié chinchilla-moord, sal ons sal nooit weet nie.
©Driekie Grobler (700 woorde)
2 Kommentare
-
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2022 – Drama projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Madelé Burger
Baie dankie vir hierdie lieflike vertelling.