Aarbeie op my sjokoladekoek – my ding.
Aarbeie op my sjokoladekoek, my ding!
‘n Oulike hondjie, ‘n katjie of vriende op eksotiese kuierplekke. Resepte vir eiers. Lewensraad oor die soek van ‘n lewensmaat, die slaggate en die alewige bybelversie. (Ek ken die woord, dankie) ‘Goeiemôre, ek hoop jy het lekker geslaap in Jesus naam’. Nog ‘n resep, dié een vir koekies. Aborsiewette in New York en Isis in Parys, klipgooiery in ‘n klein dorpie en Hilary se manewales, terwyl iemand ‘n lied uit die sestigers verwurg. Gedigte, baie gedigte wat rym, oud-stryders uit die bosoorlog, die wêreldoorlog en nog oorloë op onbekende plekke, waar mense goedkoop vakansie kan hou en nog resepte. ‘n Mooi katjie, ‘n walvis, trekkers en blommetjies, maar tik tog net ‘Amen’ as jy in Jesus glo (ad infinitum oftewel ‘es ist zum kotzen’).
Ek blaai en blaai en blaai en ek begin wonder, wat het van my menswees geword? Wat het geword van ‘iets doen’? Waar was ek die laaste twee of drie ure en wat het ek daar geleer?
Ouma het altyd ‘n dieët gevolg, een of ander nuwe eetwyse, maar Ouma het nooit besef dat matigheid en verskeidenheid die sleutel is nie. As die dieët komkommers en pampoen op Woensdae voorgeskryf het, het Ouma nét komkommers en pampoen geëet vanaf Dinsdagoggend tot Donderdagaand (net om seker te maak). Te veel, te aanmekaar, oordoen en aanhoudend dieselfde. Ouma se dieët het nooit resultate gelewer nie.
Elke mens het maar sy ding. Vir party is dit hul ding wat hul laat leef. Hul ding gee bestaansreg en daarsonder vrees hulle ‘n geestelike dood diep in hul eie siel. Ek ken sulke mense. Ding mense. As daar nie ‘n ding is nie maak hulle ‘n ding. Iemand se woorde, die bure se hond, wolkformasies in die Sahara of restaurantkos. Alles en enigiets word ‘n ding en die ding word lewe gegee en kry gestalte en hulle is die eienaars en dit gee hul bestaansreg.
Ek kyk vir oulaas ‘n video oor ‘n resep. Ek hou van resepte en kos en kook maar resepteboeke is vervelige leesstof. Videos kan vinniger deur die hele proses gaan, vinnig vorentoe en siedaar, ‘n sjokoladekoek met aarbeie, room en mintblaartjies, en dan is dit verby. Kits, klaar en iets van die verlede, ‘n beeld op ‘n skerm en ek kan dit nie proe nie. Op Woensdae is dit net komkommer en pampoen, geen koek. Amen!
Dan beur ek myself weg van die skerm en gaan sit op die stoep. Die wolke kolk en maal en pas handskoensag in mekaar. Die lae son reflekteer geel en rooi, pienk en purper en die grys wind draai die wattewit wolke op onsigbare vlerke. Hier en daar skyn ‘n stukkie blou lug deur en elke nou en dan flits ‘n swaeltjie deur my gesigsveld. Hiervoor kan ek hard en duidelik ‘Amen’ sê en die Here dank dis nie Woensdag nie, dis nie komkommer en pampoendag nie.
Al die lewensraad, al die mooi versies en woordjies, al die nagsê groete met die prentjies van donkies, paddas of paddastoele, al die gesegdes en elke liewe kommentaar is iemand se ding. Op ‘n groter, dieper vlak het almal iets te sê, iets om by te dra, ‘n opinie. Almal het ‘n argument, idees en woorde wat volgens hulle, iemand anders, iewers baie ‘diep’ gaan tref. (Hulle moet dit hoor want dít sal hul lewens verander).
Nog nooit was mense so ingelig, so op die rand van algehele kennis nie. Nog nooit in die geskiedenis van die mensdom was mense so alwetend, so reg en so regverdig nie. Nog nooit! Tog kom dit my voor soos die konsep van skoolgaan. Vat ‘n kind en sit hom tussen ander kinders van sy/haar eie ouderdom. Sit dan al die kinders in ‘n stiriele klaskamer wat verwyder is van die werklikheid en totaal abstrak is. Wys hulle ‘n tekening van ‘n blaar en verduidelik teoreties hoe blare werk en die funksie wat hulle verrig in die natuur. Verwag dan dat die kind die abstrakte teorie sal verstaan. Wat het geword van regte blare gaan kyk waar hulle aan regte bome hang? So dan is die kommentaar en die mooi woordjies. Teorie dat dit iemand gaan aanraak (diep) want dit is tog ‘hartswoorde’ uit ongeëwenaarde lewenskennis. Dis die belangrikste ding wat jy ooit sal hoor. (Kommentaar tog net ‘Amen’ as jy glo en jy sal ryklik geseënd wees).
Almal is blind. Verduidelik asseblief wolke, selfs op Woensdae tussen happe komkommer en slukke pampoensap. Verduidelik blou en genade en sjokoladekoek met aarbeie en mintblaartjies. Verduidelik die siel van die mier. Vertel asseblief hoe moet ek maak en nie maak nie en debatteer die menslikheid van die fetus in die baarmoeder. Maak jou stem groot, wêreldwyd groot oor jou ding. Vind jouself, sê jou sê, laat jou ding in die kuberruimte eggo en word gehoor want jou ding is jy en jy is jou ding. Vra tog net eers; wie is jy en wat het jy geleer in die laaste twee uur?
My opinie geld vir my. My idees is werklik en my oortuiging oor koek, babas, diere, oorlog, aardverwarming, Isis, Antarktika, onbenullige snaaksighede, otters, bome en allerhande ander goed is myne. Hulle is aangeleer deur ondervinding en die lewe self. Ek is nie meer ‘n kind nie en ek het nie tyd vir argumente oor plaveisel nie. Komkommers op Woensdae komkommer my nie en aarbeie met mintblaartjies op sjokoladekoek bly vir my verdomp lekker.
My wensemmer is vol. Aurora Borealis, Andrea Bocelli, sneeu in die Alpe en die Sistynse Kapel is net ‘n paar van hulle. Eendag as ek groot is wil ek Matchupichu gaan kyk en terwyl ek daardie kant is sommer gaan koffie drink in Cuba. (Hierop ‘n luide ‘Amen!’)
Nou is nog ‘n uur verby en ek sien die palmboom oorkant die straat het nog ‘n ruiker helder geel blomme ontwikkel. Eendag as ek groot is, ja, eendag, maar nou is my ding om nie my ding ander mense se ding te probeer maak nie. Ek eet my eie komkommer, kyk na regte wolke en blare en droom in stilte oor aarbeie op my sjokoladekoek.
Grootvissie
Januarie 2019
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.