Ambivalent (silwer)
soms is vryheid sommer mos maar net
‘n sewe-letter woord
‘n kinkel in die kabel
‘n reksprong sonder koord
eufories malse tuimeltrein
met niks om te verloor …
maar soms ‘n ou verlangliedjie
waarvan jy die woorde nie kan hoor
dan skryf jy jobspsalms
op ‘n vergeelde krapboekblaai
raam dit met uilspieëloomblikke
uit jou hart se bêrelaai
ja, soms is môre vasgeketting aan gister se onthou
en tint die gekgoudglans van vrywees jou hede bitterblou
*jobspsalms – klaagwoorde
*uilspieëloomblikke – bedrieglike oomblikke
*gekgoudglans – piriet, fool’s gold,
Blink, maar waardeloos
©️Elize Kruger
4 Februarie 2023
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2023 BLOU projek