Amper dood.
Amper dood.
Ons was kinders van ʼn baie warm Keetmanshoop. Met pa en ma wat gewerk het, was ons so half aan eie genade oorgelaat. Die reël was egter dat die grootmense te alle tye moes weet waar ons is. Vrydae was die dag waarvoor ons almal geleef het, want dan mag ons na die “Dorp se Swembad” gegaan het om die week se hitte af te spoel. As ek sê “ons”, bedoel ek dit is ek, die enigste meisiekind: Sus, my broer Nico en nefie Nic. Ons was die driemanskap wat jy altyd bymekaar sou vind.
Die pad na die swembad was warm en stowwerig. Ons het ʼn speletjie daarvan gemaak en gehardloop van boomskaduwee tot boomskaduwee. Dan het ons vir die lekkerte peule gepluk en die soet daaruit gekou.
As jy by die swembad aankom, is daar vinnig toegangsgeld betaal en dan moes jy deur ʼn vlak poel pers water loop om al die stof en kieme van jou voete af te was. Hier het jy gehuiwer, moed bymekaar geskraap en dan baie vinnig deur die pers water gehardloop, want daar is altyd gespot dat jou voete pers gaan verkleur as jy te stadig deur die pers water sou gaan.
Die spesifieke Vrydag in Oktober 1973 was dit vir jou ʼn bedrywigheid van ʼn ongekende soort toe ons by die swembad aankom. Daar gekom sien ons baie meer mense as gewoonlik, plakkate en vrolike bont linte orals opgesit, ʼn oom wat praat en vrolike musiek speel.
Ons hoor dat daar ʼn vriendskaplike gala-dag gereël is vir die Keetmanshoop-kinders en dat daar sommer lekker pryse op die spel is. Ek sien hoe almal oefen en party wat sonder aarseling pens en pootjies instem om deel te neem. Op die pawiljoen sit daar klomp toeskouers en party deelnemers lyk soos regte modelle met hulle swemkeppies en swembrille in mooi helder kleure. Nico en Nic stem dadelik in dat hulle gaan deelneem. Ek wou darem nou nie die enigste een wees wat nie deel gaan wees nie.
Met bewerige stemmetjie skryf ek ewe braaf in en kyk hoe die eerste jong swemmertjies inspring en fluks swem tot aan die anderkant. Ons jonger groepies het geswem in die breedte van die swembad sodat die afstand nie te erg is nie.
“Ag nee wat, dit is mos nou maklik”, is my gedagte toe ek op die rand staan, gereed vir die groot oomblik. Ons spring almal gelyk in, maar gou besef ek dat ek nog nie regtig kan swem nie! Ewe skielik lyk die anderkant ook glad nie meer so naby nie, maar moedig skop en spartel ek braaf in die water. Die bene skop en arms swaai vir die vale, maar ek voel hoe ek al meer onder die water insink. Ek sluk, hoes en proes en wonder bo wonder maak ek dit tot by die wal.
Met ʼn flou gevoel klim ek uit en wil net verdwyn van al die oë wat my laggend aanstaar. Daar is geen teken van my broer en nefie nie en al waaraan ek dink is dat ek moet wegkom. Ek hardloop oor die plaveisel om die swembad en voel hoe my voete onder my uitgly. Ek kyk op en sien die palmboom nie te ver van my nie en toe is dit swart om my! Pikswart donkerte en ʼn salige “niks-weet” volg. So, dan is dit nou hoe dit voel om dood te gaan.
Na, wat soos ʼn ewigheid voel, kom ek by met ʼn maat wat langs my sit en bekommerd oor my gesig vryf. “Is dit ʼn engel? Is ek in die hemel?”, wonder ek toe sy met my praat. “Jong, jy het my baie groot laat skrik. Ek het gedink jy is dood!”, is haar eerste woorde aan my.
“So, ek is nie dood nie”, maar dit het soos die regte doodgaan gevoel. Dink ek.
Nico en Nic kom ewe besorg by my sit en ons spreek af dat die episode tussen ons moet bly, anders gaan ons nooit weer mag kom swem nie.
Ons is huis toe en nooit het ons vir ma vertel van die keer dat ek amper dood was nie.
©Marlene Erasmus
30/01/2022
(683 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2022 – Drama projek