
As die sonnette begin sing en dans (Engelse sonnet) (Goud)
die dag wat vry vers bloots die rymperd ry
en opdis teenoor sinmaak regop staan
die dag wat oudig na lam leemtes vry
en jambies en sy versvoet huistoe gaan
die dag wat letters in hul vlug vervaag
en skroeiend songestraf in prosa skuil
die dag wat gratis vers die ordes daag
en bloedseldiep sy siel vir eer verruil
die dag wat wysheid sonder grysheid loop
en Salomo se spreuke vloerwaarts val
die dag wat kennis al sy vlyt verkoop
en heuningsoet tot bitterals vergal
dié dag sal die sonnette dans en sing
en vry vers as ‘n offerhande bring
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2023 OOP projek