
Avonture van ‘n swerwer
Teen vyf uur die middag het hy geweet hy sal dit nie vandag terug maak tot by sy kamp nie. Dit was nie asof dit sy eerste keer sou wees om in die bos te slaap nie, maar hierdie keer was hy glad nie voorbereid daarvoor nie. Dit was veronderstel om ‘n vinnige draai te wees, en daarom het hy sy eie reёls oortree. Normaal weg sal Johan eers sy kamp sorgvuldig kies en dan sy tentjie opslaan en die kampplek inrig. As hy alles op hulle plekke het, pak hy gewoonlik sy herwinnings toerusting terug. In werklikheid is dit ook meer van ‘n oorlewenspak, want hy hou altyd ‘n sorgvuldige voorraad van blikkieskos, water, en poeier aanmaakkoeldrank. Daar is ook ‘n basiese noodhulp stelletjie in wat al male sonder tal die belangrikheid daarvan bewys het.
Maar vandag het hy sy eie reёls gebreek, en iets gedoen wat hy nog nooit voorheen toegelaat het nie. En dit het nou alles in Gharries by die vulstasie gebeur. Hy stop altyd eers hier om brandstof aan te vul, en ook genoeg drinkwater te koop voor hy verby ry na Groenrivier. Vanoggend toe hy hier intrek staan hier twee mans en ‘n tranerige meisiekind voor ‘n bakkie se enjin. Tussen hulle gebede en dreigemente kom Johan agter die drietjies het probleme. Altyd gewillig om sy naaste te hulp te snel, vra hy wat makeer. Hulle beduie vir hom hulle het tot hier gery sonder probleme, en toe besluit om te stop vir iets te ete. Die bestuurder het versuim om die ligte af te skakel, en nou het die battery afgeloop. Hulle kry die ding ook nou nie weer aan die gang nie, al het hulle met hulle oorbruggingskabels probeer. Een kyk na die meisiekind se gesig, en Johan trek sy voertuig nader en maak die enjinkap oop. Hy sien dadelik die supermark “special” oorbruggingskabels in hulle besit, en haal sy eie oorbrugkabel uit en help gou om hulle voertuig aan die gang te kry. Na ‘n “Dankie oom” piksoen van die meisiekind en ‘n “Thanks” oom van die manne, val die kolmp weer in die pad. Die ge “oom” het hom laat en befoeterd gemaak. Hy het sy kampplek maklik bereik, en daar het hy sy fout begaan. Hy het alles afgelaai soos gewoonlik, en sy tentjie staan gemaak. Maar toe hy opkyk, sien hy die sonsondergang oor die golwe, en op die ingewing besluit hy om net gou tot by die voёl skuiling te ry in die hoop om ‘n foto van ‘n Kaapse Kormorant te kry. Omtrent halfpad daarheen onthou hy van sy herwinning sak wat vergete in die kamp lê, maar hoeveel keer kry mens dit nou in elkgeval nodig. En die tyd sou hom vang as hy nou moes omdraai.
Hier sit ek nou, en dit nou alles ‘n verdomde volstruis se skuld. Kyk sê nou van ‘n volstruis wat jy wil, maar slim is hy nie. Op die ergste skuinste van die helling by die Spoegrivier grotte hardloop “ta” mos voor my in, en moet ek hard rem om die pes ding te mis, en laat die Cruiser dood ruk. Na ek tot stilstand gekom het, en die dom voёl weggejaag het, skakel ek die enjin weer aan en trek weg. In plaas van agteruit stoot tot heel onder, soos ‘n ervare veld ryer, wil ek mos nou op die skuins deel in die diep sand wegtrek soos ‘n amateur, uit beneuktheid. Nou het ek myself mooi begrawe. Die Cruiser lê op sy pens. Sonder ‘n graaf, en die afstand beheer van die wenas veilig in die herwinnings sak, is ek nou net so mobiel as ‘n granietkoppie. Johan kan dit nie help om vir homself te lag nie, want daar is nie pille vir dom mense nie. Nou staan hy voor ‘n keuse. Slaap hier sonder enige kos, water of warmgoed, of stap die vyftien kilometer terug kamp toe tussen al die volstruise en ander wilde diere. Hy besef dat om te stap nie ‘n goeie keuse is nie. Hy gee nie om vir die stap nie, maar besef dit sal donker wees lank voor hy sy kamp bereik. Sonder ‘n flitslig, wat weereens in die oorlewings pak by die kamp lê, is dit maklik om in die donker die pad byster te raak. In so ‘n geval kan die Namakwaland ‘n baie gevaarlike plek wees as ‘n man verdwaal sonder water by hom. “Dan slaap ons maar hier” praat hy hardop met homself, “Die parkeraad mense sal my wel môre hier kry en hulp aanbied.”
Dan hoor hy duidelik die enjin van ‘n aankomende voertuig. Dit is nou ‘n onverwagte geluk by die ongeluk dink hy by homself, en nogal toevallig in die afgeleё deel van die park. Waar hy langs die pad staan aan die voorkant van sy voertuig, kan hy aan die stof die voertuig stadig sien nader kom. Skielik lyk die voertuig vir hom vaagweg bekend. Hy het maar nog altyd die gewoonte gehad om voertuie waarmee hy te doen kry in sy geheue te bêre. Die Land Rover het hy al vantevore gesien, maar waar? Totale ongeloof neem van hom besit as die voertuig langs hom stilhou en hy onthou waar dit was. Hy het nie lank terug nie dieselfde Landie hier naby uit die sand gehelp. Hy was die dag nogal kortaf en ongeskik met die vrou met haar vlamrooi hare. Maar net om sy ongemak en skaamte weg te steek omdat sy so dèm mooi was. Terwyl hy haar gehelp het was sy die heeltyd so vriendelik en dankbaar. En hy het soos ‘n vark gevoel oor hoe hy met haar gepraat het. En toe hy wou jammer sê was sy klaar weg. Die meisie by die kantoor wou ook nie haar nommer vir hom gee nie. En, het hy homself probeer oortuig, hy wou net sê hy is jammer oor sy optrede. Maar hy kon haar nooit uit sy gedagtes kry nie. Sy was altyd daar êrens in sy kop, die rooi hare en die diep groen oё.
Verdwaas hou hy die bestuurder dop terwyl sy die voertuig se penarie bekyk, stadig die ruit afdraai, en dan eers haar kop na hom draai. “Jy weet, ek sê altyd julle stadsjapies moet eers leer bestuur voor julle hier kom rondfoeter. Weet jy nie dit is gevaarlik om so alleen hier rond te ry nie?” Johan herken die woorde wat hy omtrent ‘n jaar gelede aan dieselfde rooikop vrou toegesnou het, toe hy haar moes help, en ten spyte van homself bars hy uit van die lag. Hy lag laat die trane oor sy wange rol, en verlig sien hy die vrou agter die stuur lag saam. “Sonja? Dit het ek darem verdien, wat maak jy hier?”
“Ek het jou kom soek, om met jou af te reken. Amper presies ‘n jaar gelede het ek hier vas kom sit, en ‘n man met min hare en baie plooie het my uitgehelp. Ek het uitgevind hy swerf maar elke jaar hierdie tyd in die Namakwaland hier langs die kus rond. Hy het my gehelp toe ek hulp nodig gehad het, en weer verdwyn net soos hy verskyn het. Maar hy is hier weg met my hart, en ek het hom kom soek, om hom vir syne te vra!” Daar was ‘n lang stilte terwyl hulle in mekaar se oё staar en dan sê sy vir hom, “En om vir hom te sê, sy dae van alleen rondswerf is verby. Wat sal hy sê as hy kon praat?” Daar is ‘n lang gevoelvolle stilte en Johan voel ‘n vreemde rustigheid van hom besit neem. Vir die eerste keer in sy lewe voel dit vir hom of hy sy bestemming bereik het, of hy uiteindelik by die huis is. Hy glimlag en maak die Landie se deur oop, en dan vat hy haar sagte hand in syne terwyl hy in haar groen oё kyk, “Ek sal net sê, Sonja, my hart kan ek nie vir jou gee nie. Jy is reeds in besit daarvan!” En dan weet hy, sy gesoek is nou vir altyd verby. Nou is hy vir die eerste keer werklik vry.
©Vossie
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.