SOSIAAL / KOMMERSIEEL
Sosiaal / Kommersieel
Huidiglik beweeg die wêreld oënskynlik in ‘n nuwe rigting. Nie net filosofies/religieus, ekonomies of polities nie, maar al drie saam: Die neo-liberalisme. Hoe en waar dit aangevang het, kann ‘n interessante studie afgee; só is dit nou maar, so het dit geword. Dit beteken dat mense (ek en jy en hy en sy) van al drie sisteme gedwing word om in ‘n nie-gevraagde orde in te pas. Kerk en staat en bank staan saam in hul pogings om ons daartoe te bring, bek te hou en te koes: As jy getrou die wette gehoorsaam, kom jy sonder alte veel moeite in die hemel met ‘n mooi, nuwe, blink doodskis – van die versekering nogal. Nou is dít nie juis wat ons Heiland gepreek het nie: In die afgelope twee duisend jaar is ons meniges tussen die vingers deurgeglip.
☼
In Suiderafrika is daar ‘n besondere beswaarnis: Ons het as kind grootgeword om ongehoorsaam te wees. Of anders: Ons is tot ongehoorsaamheid opgevoed. Nie net na 1976 of na Sol Plaatjies en Mohandas Ghandi nie. Veel verder terug: Terug na Lord Charles Somerset, terug na die Kaap van die Hollanders, na Adam Tas, Jonker Afrikaner. Almal van ons. As ons ouers met die heersende regering ontevrede was, was hulle oortuig dat rebéls reg en aangepas sleg was – en het ons dit al die jare, al die eeue, bygebring. So het die weglopers uit die kompanie se tuin trekboere geword, so het die groot trek en die anglo-boere-oorlog tot stand gekom, die weiering van die Engelse om Afrikaans te praat of om op te staan as die Stem gesing word, van die Afrikaners om op te staan as die King gesing word, en so voort en voort en voort. So het Engelse kinders moedswillig met swart kinders gepraat, mense met wie hulle eintlik niks uit te waai gehad het nie – uit trots. So het die Afrikaners geweier om sokker te speel. …
Kern van die saak is, dat gehoorsaam van die staat verlang word; daarom het hy ‘n polisiemag, ‘n wetstafel en ‘n bestrafingsdiens – juis om die gehoorsaam af te dwing. Hierdie instrumente van die staatsgeweld mag hy nie uit sy hand gee nie, anders verloor hy sy mag, krag en geloofwaardigheid – dan woed hy soos ‘n ou tandlose sirkusleeu. As die staat nog sy verpligtinge wil nakom, moet hy hierdie drie instrumente koester en pleeg.
☼
In die onlangse verlede (2005) is daar berigte van ministers gewees, wat ‘n harde-piep!-houding teenoor „hulle” aangesteldes en amtenare ingeneem het. Dit spruit hoofsaaklik uit aksies, veral van die vakbonde — wat „die Party” óf aktief gestig het, of totnogtoe kragdadig ondersteun het, of beides – om beter voorwaardes, insluitende loon, vir die mense te bekom. Dit sluit die lewens- en werkomstandighede van sogenoemde sleutelpersonaal soos onderwysers, verpleegsters, brandweerlui, polisie en gevangenisbewaarders in; ook amtenare in vertrouensposisies soos byvoorbeeld toonbankpersonaal in Binnelandse Sake, wat persoonlike, dikwels intieme, dokumente van lede van die publiek hanteer.
Minister Balfour was dom-astrant om die tronkbewaarders te dreig dat hy hulle in die pad gaan steek.
Die minister is dog nie oor die wet verhewe nie!
Tronkbewaarders, wat ‘n besondere lewensnoodwendige diens vir die staat voltrek, wat daagliks voor misdadigers (gevonnisde, nie beweerde nie) regop moet bly staan, misdadigers wat die staat in oorvolle tronke prop, sodat die lewensomstandighede van sowel die insittendes asook die van die bewaarders omtrent onmoontlik is. Nie hý is bevoeg om aangestelde dienaars van die staat af te dank nie. Dit is die plig van ‘n hoë amtenaar (miskien op sekretarisvlak?) of ‘n kommissie, wat volgens amtelike aanstellingsbrief elke geval op sy meriete moet beskou en dan besluit. Soos die aangeklaagde is ook die kommissie volgens reg aan ‘n pligskedule gebind: Die aangeklaagde moet in sy eie saak gehoor word; die meule van die wet maal langsaam – maar deeglik. Dis nie ‘n sommersose ding nie. Daar heers ‘n strenge reglement, waaraan alle partye hulle moet hou. Met staatssake ís dit eenvoudig so.
Voor die wet is daar ‘n begrip, wat op die onbevoegde uitoefening van ‘n amp of vertrouensposisie dui. Dáárvan moet ‘n minister by die uitvoering van so ‘n dreigement aangekla word. ‘n Minister wat so onbekwaam is, om hom só aan sy mond verby te praat, moet gedwing word om af te dank. Dit wil sê, sóú ons van die demokrasie praat. Às dit die demokrasie is waaroor ons gesels.
☼
Glad nie anders is dit met die ministerin, wat aan die langere hefboom sit nie, want sy weet dat die stakers oor beperkte middels vervoeg. Kort na hierdie heftige uiteensettings tussen ministers en die werkers se verteenwoordigers oor loonverhogings, gun dieselfde ministers mekaar ‘n verhoging – wat persentueel hoër is as díé wat hulle op die amptenare se hongerloon toegebillig het en daadsaaklik ongeveer so hoog is soos die maandelikse loon van juis die amptenare! – op hulle eie fantasties hoë diëte! As die regter ook aanklaer is, dan laat hy oënskynlik ‘n klompie dinge toe, wat „normaalsterflikes” ontoeganklik, of glad verbode is! Mevrou Moloketsi moet dit klaar verstaan dat, as sy „haar” beamtes soos vuilgoed behandel, die algemene publiek dit haar gaan namaak. As sy lange nie meer daar is nie, gaan die beamptes daaronder ly. Geen wonder dat daar korrupsie is nie: As die mense nie genoeg geld kry om ordentlik te lewe nie. (Om nie eers van die voorbeeld van bo te praat nie!)
Dis die simpele hoon!
☼
Inrigtings vir vervoer, gesondheidsdienste, elektrisiteitverskaffing, telekommunikasie asook misdaadbestryding en verbetering van misdadigers móét almal onder die beheer van die staat wees. Die staat moet die moontlikheid, middele en die wil hê om die opsig oor hierdie en ander noodwendige inrigtinge in ‘n staat se lewe uit te voer. Dan moet die staatsgesag sorg dat die „staatsdieners” nie net tevrede nie, maar in hulle staatsdraende arbeid gelukkig is en bly. Telkom, Spoornet, Justisie en Polisie, Korrektiewe dienste, Gesondheidsdienste, Onderwys het ‘n diensplig teenoor die staat en sy burgers.
Die staat en sy apparaat is altyd daar; die verkose verteenwoordigers van die staat se burgers is nie; hulle kan af- of uitgestem word. Aldus moet hulle, die verteenwoordigers, daarvoor sorg dat die burgers hulle weer instem. Aldus moet hulle sorg dat die amptenare en staatsaangesteldes wat na die voorskrifte van die wet en die oplae van die regering van die dag werk – en alle opmekaarvolgende regerings trou moet dien – tevrede is met hul lot, dat hulle die opgelegde take graag doen. Dat hulle bly is om vir die staat te werk.
Daar dink ons aan minister Blackie Swart, wat destyds „sy kop op ‘n blok gelê het” vir „sy” polisiemanne. Hoe hét hulle hom vereer! Hoe hét hulle presteer! Ons kan verskillende menings oor sy politiek hê, maar „sy” polisie het gedien, graag gedien.
Andersins kom die dag van afrekening. Of in die volgende maande en jare of later, weet ons nie. Maar hy kom.
Stemdag.
☼
25e.Juni2016_____________…ooOoo…________________(2006).tje
[Hierdie stuk behoort onder die opskrif ,Politiek, Afrika en die Wêreld.’]
2 Kommentare
-

Koekekranka
Die spyker word hier deur jou behoorlik op die kop geslaan. Welgedaan Toom.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Toom ek plaas dit weer op Facebook want daar is soveel waarhede in jou artikels