REGEER / PRIVATISEER
Regeer / Privatiseer
Dit skyn ‘n hedendaagse mode te wees, nie net in Suid-Afrika nie, om moontlik alle staatseiendom en -diensleweringe aan juristiese persone uit die handelswêreld af te gee en – so goed dit gaan – met wins te verkoop. In hoever is dit reg en billik? Of anders gevra, is dit beregtig? Is dit reg wat hulle so maak? Wat is sin en doel van regering? Of: Waartoe het ons regering, ‘n regering, die regering, nodig? Nog vrae: Wat is regering, waar kom die begrip vandaan?
☼
Ek verbeel my dit was so: In oertye, toe daar min mense in klein verstrooide groepies op die wêreld was, het hulle skaars dit wat ons „regering” noem nodig gehad. Die natuurlike toeneiging of liefde van die gesinslede teenoor mekaar, die eise van die bestaansnoodwendighede en die arbeidsverdeling in die groep het ‘n vanselfsprekende, noodwendige (nood-afwendende) orde tot gevolg gehad, waarby vermoedelik ‘n mate aan voorsorgmaatreëls nodig was, wat deur die volwasse, ervare lede van die familie getref is of deur hulle uitgevoer is. ‘n Enkeling kon die hele gesin in lewensgevaar bring, sou hy onnadenklik optree. Dit was tot relatief onlangs nog immer in die „gesagstruktuur” van die San-mense na te speur. (Of dit nòg so is?)
In ‘n latere stadium van die mens se sosiale ontwikkeling, toe die eerste nedersettings en dorpies ontstaan het, was dit waarskynlik vir die vlotte afloop van die samelewing nodig om die een of ander reëling te tref. En hoe groter die groep wat saamleef, hoe strenger word die beperkings op die enkelinge met die oog op die sekerheid van die groep. Hoe groter die bevolking, hoe meer geleentheid vir enkelinge om hulle afsonderlik te gedra. Totdat dit, by die ontstaan van die stede, wat aanvanklik nie meer as ‘n paar honderd mense beherberg het nie, klaarblyklik nodig geword het om die reëlings en afsprake tussen hulle skriftelik te bevestig. Nog altyd het die mense hulle, enkel en groepsgewys, aan die goddelike ingewing gehou, en dit as grond vir hulle besluite gebruik, soos ons dit byvoorbeeld in Moses se wetstafels kan aflees. Die natuurlike, „van God gegewe” arbeidsindeling, die mondelinge of skriftelike ooreenkomste ondermekaar, die wete dat alle van mekaar afhanklik was, het daartoe gely, dat daar harmonie was – oor die algemeen.
Natuurlik was daar twis en stryd; maar dit was deur die omstandighede streng beperk. Individuele bestrewings van lede van die gemeenskap kon tot wrywing lei, en dit moes so goed dit gaan stopgesit word. En so het dit grotendeels tot vandag toe gebly.
Maar oor die eeue heen het daar wel menige vernuwings en verfynerings plaasgevind: In ons tyd word die vryheid van die enkeling hoog op prys gestel, en ons samelewing slinger tussen die pole sosiaal (of gemeenskaplik) en individueel (of enkel-menslik). Daarby mag die enkeling hom slegs só gedra dat hy nie ‘n bedreiging vir die gemeenskap is nie, en die gemeenskap stel middels en tegnieke daar, om enkelinge in die deurvoering van hulle onderskeie neiginge en talente en ter bevrediging van hulle behoeftes behulpsaam te wees. So het handel, nywerheid en kuns in die reël die gebiede van die enkeling geword, en die erkende politiese struktuur versorg die nodige dienslewering vir die gemeenskap.
Soos ek dit sien, lewer die staat as beheerorgaan van die mense wat op sy gebied saamlewe dienste in die vorm van hulp vir diegene, „wat nie klaarkom nie” – soos mediese en ander sogenoemde „sosiale dienste” – om verkeer tussen mense en groeperings ondermekaar te bevorder en om die saamlewendes te beskerm – teen geweld sowel van buite asook uit die eie geledere –, dit wil sê om te sorg dat almal hulle aan die onderlinge ooreenkoms van ons voorvare hou.
☼
In hooftrekke: Die regering van die staat beskerm en bevorder die bevolking as geheel wat op sy grondgebied leef en sorg dat enkelinge hulle so vry moontlik kan ontvou sonder om hulle medeburgers skade aan te doen. Dit loop nie alles gratis af nie: Om die deurvoering daarvan te waarborg is – en word – enkelinge en groepe met die onkoste belas.
Só het die bevolkings van verskillende state deur hul belasting – geld, skenkings (nie altyd vrywillig nie) èn hul liggaamlike arbeid – aan die opbou van die geriewe wat hulle tans geniet; bygedra, by òns ook: Mediese dienste en hospitale, damme, kommunikasie – soos paaie, see- en lughawens, spoorweë en telegraafdienste –, geregshof en wetstoepassingsorgane, verdedigingsmag, en andere sosiale dienste ten gunste van alle burgers, alle inwoners van die gegewe staat. Let wel dat die armes met hul sweet net soos die rykes met hul geldelike belasting bygedra het. Oral op die wêreld en met of sonder rassiese onderskeid. Elkeen – man en vrou, ryk en arm, oud en jonk, gelowige en heide – elkeen het bygedra. Ons sê: in ideaalgeval of in die reël – skurke en skelms laat ons hier vireers uit die betragting weg.
Die nuwe vraag is nou: Wat is die beregtiging om ons erfenis – ons almal se erfenis – te verkwansel? As dit die inname van valuta of finansies sou wees, is dit ‘n besonders kortsigtige sienswyse – om nie dom te sê nie. Want die ingenome geld gaan slegs uitgegee word, en dan is dit nie meer daar nie. Dan is die staat net so arm soos hy voorheen was, buiten dat hy geen bates meer het nie. Kom dan die bankrotverklaring? Die uitverkoop aan juristiese persone?
Die land behoort aan al sy bewoners, en die staatsgesag hou dit in goedertrou vir alle om te benut: As iemand ‘n reg of beregtiging op ‘n perseel het, is dit een ding, en hy kan daarop werk of speel of maak wat hy wil, hoe groot of klein die areaal ook al mag wees, so lank hy sy bure nie vererg nie. Maar as ‘n volontwikkelde gebied soos byvoorbeeld ‘n hawe, ‘n spoorweggevleg wat oor die hele land uitgebrei is, of ‘n stasie daarvan, ‘n waterversorgingswerk, hospitaal of tronk aan privaat afgegee word, is dit anders. Want dit is „volkseiendom” en mag nie uit die hand van diegene wat ons as vertrouenspersone aangestel – dws. gekies – het om daarop op te pas en dit te pleeg, gegee word nie. Anders verloor hulle ons vertroue. Dit sien ons alte gou wanneer ‘n privatiseerde noodwendige diens wins afwerf, waarby net ‘n klein groepie daaruit ryk word, en die res van ons bly arm – veral diegene wat in die pad gesteek is weens die nuwe „slanke” winsbringende bestuur, natuurlik. Maar as dieselfde noodwendige diens in die moeilikheid kom, dan moet die staat gou-gou inspring en red wat nog te redde is.
☼
Ek kry seer as ek sien hoe ons eiendom, ons besit, ons erfenis – ons land – in die naam van die neo-liberalisme aan geldhaaie uitverkoop word.
Dan huil ek weens ons minderbevoorregte medeburgers, aan wie byna twintig jare gelede versprekinge van ‘n beter lewe gemaak is. Ek huil om hulle frustrasie en woede, wat stap vir stap groter word, totdat hulle aanvang uit rand en band te raak en hulle wreek teen die mense wat (uit hulle sig!) die nuwe ellende op hulle koppe ophoop. Ek huil namens ons burgers uit alle stande en klasse, wat hulle demokratiese regte verloor, want jy hèt geen politiese afweer teen die bestuur van ‘n handelsmaatskappy wat jy nie demokraties gekies het nie.
Dan is jy uitgelewer.
Dan gaan ons almal uitgelewer wees.
☼
©19e. Junie 2017______…ooOoo…____________tjepolit’04f
[Hierdie artikel behoort onder die opskrif „Politiek, Afrika en die Wêreld”.]
[Naskrif: Kyk na my resensie van „En dan die Reën”, waarby ‘n burgeroorlog veroorsaak is deur die uitverkoop van waterregte aan ‘n buitelandse konsortium.]
5 Kommentare
-

Evelyn van der Merwe
Dankie vir die deel Toom, inderdaad interessant.
-

Anze
dankie vir hierdie in diepte bespreking Toom, baie interessant gewees
-

Arnold
Dis nie meer geletterde eerbare mense wat die land regeer nie, maar dis nou in die mode dat ongeletterde skuim van die land oor die regdenkende mens regeer. Dis nie net in ons dierbare land nie, dis 'n wêreld tendens ding hierdie. Alles word verkwansel, maar die geld gaan nie terug na die belastingbetaler se sak nie, maar na hierdié boewe.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Toom daar is soveel waarhede in hierdie artikel wat jy geskryf het. Mag ek dit share op my facebook blad