African-Nasionaliste / Afrikaner-Nationalists
African-Nasionaliste / Afrikaner-Nationalists
Wat is die verskil tussen die Afrikanernationalists en die Africannasionaliste? Is daar hoegenaamd ‘n verskil? Altwee sit op dieselfde regeringsbank in Kaapstad saam#. Altwee het hulle stemvolk uit die veilige plattelandse setels in die stede gehaal om die stemverhoudings te verander en daardeur die regering oor te neem. Die Africannats het, soos beweer word, mense van die „verlate” Transkei in die sandwoestyne aan die Kaapse weskus gehaal – op ‘n vragmotor met R100 kontant om ‘n nuwe lewe te begin! (Menige mense beweer, dit was slegs tien Rand.) Die Afrikanernatte het soortgelykes gedoen: Met drie weke oponthoud — veral by vriende en partygenote – want dit was destyds die minimum-verblyfduur om in die betrokke kiesafdeling op die stemregister opgeneem te word.
☼
Altwee groepe het gesorg dat „ons mense” in gesaghebbende poste ingesluis is om hulle magbasis uit te bou: Die Afrikaners het die spoorweë, die poskantoor en die staatsdiens met partysoldate gevul en met wetgewing gesorg dat ander partygenote teen „wederstrewige” konkurrensie in handel en nywerheid beskerm was. Die Africans het ook die wetgewing as werktuig ingespan om gevoelde ongeregtigheid teenoor voorheen-benadeeldes teen te werk.
Uit die gesigspunt van altwee was dit ‘n hoogs morele stap, want beide het dit beleef dat „ons mense” totnogtoe onreg behandel gewees is. Teen alle raad en teenstand het beide partye wetgewing deurgeboks, wat „slegs hulle éíe doel dien”, soos die afgunstiges gesê het en sê, en sou nie die noodwendighede van die daaglikse lewe in die oë kon sien nie, sodat dit uit die oogpunt van die res van die inwoners hoogs immorele handelinge was. Dit het baie lang geduur voordat dit tot die leiers van die afrikanernasionaliste deurgedring het; dan was dit te laat en die ondergang was al voorprogrameer.
Hoe lang dit wel gaan duur totdat dit tot die bewussyn van die africannationalists deurdring?
Is dit nog in enigiemand se herinnering hoe Louis Botha op een slag afstand van bykans ‘n hele volk geneem het? Dit was die dag toe die foto van hom in die koerante verskyn, hoe hy by die britse koningin voorgestel is, in ‘n middeleeuse kostuum met ‘n strawwe kuitkousbroek en blink gespeskoene aan. Dit wil sê, die volk het van hom afstand gedoen. Is die leier van die huidige regeringsparty# bewus hoe sy volk voel, as hy ‘n joernalis, wat hom in Xhosa ‘n vraag stel, voor al die mense antwoord met die woorde: „Put your question in English!”; hoe die lede van al die volke voel as hulle opvoedingsministerin sê dat sy hulle moedertaalonderwys slegs tot die derde klas gun. Hier is dit nie meer belangrik, wát woordelik gesê is nie, maar hóé dit by „ons mense” aankom.
☼
Is daar verskille tussen die Africannationalists en die Afrikanernasionaliste, buite dat die ene met c en die andere met k gespel word? Waarskynlik op die gebied van die taalkwessie, en dit om die eenvoudige rede dat dié wat agternakom, nie kan toelaat dat hulle hoegenaamd iets doen wat vaagweg soortgelyk is aan hul voorgangers se werk nie. Aldus: Vang glad nie eers met moedertaalonderrig aan nie, bou nie die nagelate infrastruktuur in die tuislande uit nie. Maar dit is ook niks beter of anders as wat hul voorgangers gedoen het nie: Maak veranderinge slegs omdat dit veranderinge is: Wat ons voorheen gehad het moet verkeerd wees en móét dus verander word!
☼
Op één gebied verskil die Afrikaners (of nasionaliste oftenot) van andere inwoners van Suid-Afrika: Hulle gun die ander mense hul kultuur en taal. Dit wil sê, hulle het al die jare vir die tweetaligheid geveg – nìè vir die almag van Afrikaans nie – die nasionaliste wou hê dat elke volk (engl: nation!) sy kültuur en tradisies sou moes koester en pleeg. En dit moet ons dìè mense ten goede hou, wat deesdae als sleg en bosaardig uitgelag word.
☼
Die Afrikanernasionaliste se ondergang het begin kort nadat hulle ‘n twee-derde-meerheid in die parlement gekry het, en nie volle veertig jare daarna is hulle as sulks nie meer eksistent nie. Nou het die Africannationalists sewentigpersent.
Tel ons die jare?
☼
#Dit was na die algemene verkiesing 2006: Thabo mBeki, ANC.
©30e.Januarie2017_______…ooOoo…______________(2006)tje
[Dit pas onder die Opskrif „Politiek, Afrika en die Wêreld”.]
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
hierdie het ek nou werklik insiggewend gevind Toom