Stille nag
Die woorde van hierdie lied is male sonder tal aangewend as bemoediging en om hoop in te boesem by mense wat hartseer, rou en verlies beleef. Stille nag dra die boodskap van Kersfees uit en dit simboliseer oor kleurgrens en status redding aan die ongereddenes.
Dit is hartseer dat soveel mense juis tydens die feesgety die swaartste tyd van die jaar beleef en deurleef. ‘n Tyd wat familie samesyn en gesinstyd simboliseer, het ontaard in ‘n tendens van depressiewe persone en gebroke huise waar daar nie meer versieringe in die huise aangebring word, kersliedere gespeel word en feesmaaltye voorberei word nie. Die tradisie is kaal gestroop net soos die menswees van medemens.
Dit is inderdaad ‘n tyd van hartseer onthou, seer alleen tye en eensaamheid wat individue oorspoel. Liewe lesers hou hierdie feit in gedagte waar u tydens hierdie feesseisoen uitgaan na winkelsentrums en ook buite op straat. Selfs net die deel van ‘n vriendelike woord of ‘n daad wat opregte omgee weerspieël mag u instaat wees om ‘n lewe te red.
Dat nie een van ons as mens gebeure dieselfde beleef, verwerk en aanvaar nie is ook nodig om in aanmerking te neem. Soggens oppad werk toe kyk ek na die mense wat verby beweeg en wonder waar elk van hulle, hul hierdie Kersdag en Nuwe jaar gaan bevind. Is daar ook vir hulle ‘n ster wat lig skyn in die donker? Dit sou wonderlik weens indien daar vir elke persoon ‘n geliefde, maat en vriend kon wees wat die feestyd kan deel en meemaak. Ons is op die einde van die dag net gewoontediere wat smag na omgee en nabyheid.
Vertroosting word gedeel in die oomblikke waar ons uitreik met dit wat nie op ‘n winkelrak te vinde is nie.
Geld koop nie vrede en geluk vir ‘n eensame hart of vir ‘n hart deurdrenk met smart en rou nie. ‘n Glimlag kos tog niks en as die gees van Kersfees opreg in ons harte brand neem dit niks van ons weg om dit mildelik op ons roete uit te deel tydens die feestyd nie.
Laat ons streef om die boodskap van Stille nag daadwerklik in ons daaglikse wandel uit te leef teenoor ons naastes.
Ek wens ieder en elk ‘n vreugdevolle en voorspoedige Kerstyd en Nuwe jaar toe.
Shalom
3 Kommentare
-
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek
-
Inkmoderator
Let op spelling: wees en nie weens/ nuwejaar sal een woord wees. Dit is 'n bemoedigende bydrae. Dankie. IM
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
Baie dankie! En vrede vir jou ook. GvT