
Bessie: 6
Die Saterdagoggend kom maak juffrou Malherbe haar wakker. Sy gee vir Bessie koffie en sê sy moet aantrek, hulle gaan sommer vroeg al by die koshuis ’n draai maak. Bessie staan traag op en trek aan. Die koshuis is loopafstand van juffrou Malherbe se huis af en hulle stap sommer die entjie daarheen. Op pad gesels die juffrou opgewonde met Bessie oor hoe lekker dit in die koshuis gaan wees. Bessie kan sommer hoor juffrou Malherbe praat net so om haar op te beur.
By die koshuis wag die koshuisvader hulle in. Sy naam is Stiaan Marais. Oom Stiaan is ’n kort oompie met grys hare. Hy stel vir Bessie voor aan tannie Martie, sy vrou. Tannie Martie is in beheer van die kombuis. Bessie ontmoet ook die verpleegster by die siekeboeg en oom Stiaan verduidelik dat Bessie na haar toe moet kom wanneer sy siek is of ’n besering opgedoen het. Hulle loop deur die gange van die koshuis en oom Stiaan wys haar waar die badkamers, die eetsaal en sitkamer is. Alles lyk vir Bessie baie skoon en netjies, maar die lang gange met hul koue vloere laat dink haar aan ’n hospitaal. Die koshuisvader verduidelik vir Bessie al die koshuisreëls. Jou bed moet altyd opgemaak wees en jou kamer netjies. Ontbyt, middag- en aandetes is op spesifieke tye en jy moet altyd betyds wees. Studietyd is van ag tot nege saans en ligte-uit is tienuur. Dinsdae is dorpdag, dan kan jy van drie tot vyf saam met die ander kinders dorp toe loop.
Bessie luister na al die goed wat oom Stiaan sê, maar sy weet nie hoe sy ooit alles gaan onthou nie. Sy kyk na juffrou Malherbe en sien dat sy ook maar net staan en luister. En toe is dit tyd dat Bessie haar kamer kan gaan kyk. Tannie Martie stap saam met hulle. Die koshuis is baie groot met drie verdiepings. Die seuns en dogters bly in aparte vleuels. Op die grondvloer is die eetsaal, kombuis, sitkamer en siekeboeg. Die laerskool kinders se kamers is op die tweede vloer en die hoërskool kinders se kamers op die derde vloer. Hulle klim ’n hele paar trappe om tot op die boonste verdieping te kom. Tannie Martie wys vir Bessie waar die badkamers is en wys ook vir waar die telefoonhokkies is, indien sy ’n oproep wil maak. Die derde vloer is ook een lang gang met kamers aan weerskante. Op die kamerdeure is plakkers met die kinders se name. “Hoekom is dit so stil?” vra Bessie. “Waar is al die kinders dan?” “Meeste kinders bly nie oor naweke in die koshuis nie. Hulle gaan terug na hulle ouerhuise en kom dan weer Sondagaande terug.” antwoord tannie Martie. Bessie pers haar lippe saam. Sy sal naweke hier moet bly, want sy het nie ’n ouerhuis om na toe te gaan nie.
“En hier is jou kamer.” sê tannie Martie en gaan staan by een van die toe deure. Daar is ook twee naamplakkers op die deur. Op die een staan die naam, Chantelle. Die ander plakker het háár naam op. Bessie. Die tannie maak die deur oop en staan terug sodat Bessie kan ingaan. Sy kyk na juffrou Malherbe en dié knik vir Bessie. “Jou kamermaat se naam is Chantelle. Sy is huis toe vir die naweek, maar jy sal haar wel moreaand ontmoet. Baie oulike kind.” sê tannie Martie toe Bessie by die kamer inloop. Bessie sien heel eerste die groot venster wat uitkyk op die skool se rugbyveld. Aan weerskante van die venster, teen die mure staan die beddens. “Hierdie een is joune.” sê die tannie en beduie na die bed aan die linkerkant. Die bed is mooi oorgetrek met ’n wit en pienk duvet en bypassende kussings. Elke kind het sy eie bedkassie en klerekas. Daar is ’n lessenaar en stoel wat hulle moet deel. Bessie loop na haar klerekas toe en maak dit oop. Binne-in hang ’n splinternuwe volledige skooluniform. “En dit?” vra Bessie en beduie na die klere. “’n Vrou het dit gister saam met die beddegoed gebring. Ek neem aan dit is van jou pa af.” sê tannie Martie. Die vrou is seker die sekretaresse van haar pa wat gister ook vir juffrou Malherbe gebel het. “Dis baie gaaf van hom.” sê juffrou Malherbe. “Ja, seker maar.” sê Bessie afgehaal. Sy sal veel eerder haar ou skoolklere wil aantrek en by juffrou Malherbe bly as om in hierdie kamertjie te wees met die nuwe skooluniform.
“Wat dink jy van jou kamer?” vra juffrou Malherbe toe hulle later terugstap huis toe. “Dis seker maar okay.” antwoord Bessie. “Jy klink nie baie gelukkig met die idee nie. sê die juffrou. Bessie skud haar kop. “Ai my kind, ek kan dit verstaan, maar voor jy jou oë uitvee het jy ’n hele paar maats gemaak en aangepas daar. Oom Stiaan en tannie Martie is twee liewe mense, hulle is soos die ma en pa van al die koshuiskinders. Hulle gaan uit hulle pad uit om dit vir elke kind lekker te maak in die koshuis. En jy is altyd welkom by my huis.” Bessie voel dadelik ’n bietjie beter. “Regtig juffrou?” vra sy. “Regtig, Bessie. Hou net by die koshuis se tye van wanneer julle mag en nie mag uitgaan nie.” sê juffrou Malherbe. “Goed juffrou. En naweke?” vra Bessie. “Wat daarvan?” wil die juffrou weet. “Kan ek naweke ook kom kuier, want ek weet darem nie of ek vir ’n hele naweek alleen in daardie groot plek wil wees nie.” Juffrou Malherbe lag. “Ja, dit kan seker nogal eensaam wees dan. Jy kan oor naweke ook kom kuier, ja. Ek kry nou net ’n idee, weet jy.” sê juffrou Malherbe en sy klink sommer opgewonde. “Wat is dit, juffrou?” wil Bessie weet. “Dis ’n verassing!” sê juffrou Malherbe. Toe hulle by die huis kom, vat juffrou Malherbe haar motorsleutels en handsak en roep vir Bessie. “Waarheen gaan ons, juffrou?” vra Bessie. “Ons gaan jou verassing haal.” sê juffrou Malherbe vrolik en Bessie kan nie help om ook opgewonde te voel nie.
Later die dag sit Bessie met ’n splinternuwe verfkwas in haar hand. Sy het ’n hele stel nuwe kwasse. Juffrou Malherbe het vir Bessie na ’n kunswinkel in die dorp geneem. Bessie kon haar oë nie glo nie, daar was ’n groot verskeidenheid verwe, potlode, papier en enige iets wat ’n kunstenaar kan aan dink om te gebruik. Hulle het die winkel ’n hele paar keer deurgeloop en ’n uur later daar uitgestap met twee groot sakke vol goed. Juffrou Malherbe het vir haar kwasse, papier en verf gekoop. Nog nooit het iemand vir haar so ’n groot geskenk gegee nie. Toe hulle by die huis kom, het sy juffrou Malherbe gehelp om ’n tafel in Bessie se kamer in te dra. “Nou het jy jou eie verfhoekie.” het die juffrou gesê. Bessie kan hier kom sit en verf en teken wanneer ook al sy wil. Bessie sit en staar na die skoon papier voor haar.
Sy wonder wat sy eerste gaan verf. Juffrou Malherbe sit en werk op haar rekenaar in die sitkamer en oom Wouter het saam met vriende gaan visvang. Bessie kry meteens ’n idee vir haar eerste verfstuk. Sy gaan vir juffrou Malherbe en oom Wouter teken. Sy het ’n mooi foto van hulle in die kombuis gesien. Sy sal dit gaan haal en daarvan af werk. Sy gaan dit vir juffrou Malherbe gee as sy klaar is om dankie te sê vir al die verfgoed.
Die aand aan tafel vertel oom Wouter van sy uitstappie saam met die manne en al die visse wat hulle gevang het. Juffrou Malherbe het een van die visse wat hy huis toe gebring het sommer in die oond gaargemaak. Bessie sit en verkyk haar aan hoe lekker die twee mense voor haar met mekaar gesels. Moreaand dié tyd eet sy koshuiskos, dink Bessie met ’n swaar hart. Die prent van juffrou Malherbe en oom Wouter is amper klaar, sy moet nog net die laaste afwerkings doen vanaand en dit laat droog word. Sy wil dit môre vir hulle gee voor sy koshuis toe gaan. Die feit dat sy darem nog hierheen kan kom en teken en verf, maak die koshuisblyery darem nie meer so erg klink nie.
Sondagoggend kom maak juffrou Malherbe weer vir Bessie wakker rmet ’n koppie koffie. Sy vra of Bessie saam met hulle kerk toe wil gaan, maar Bessie besluit om te bly. Sy weet nie hoe dit is om soos ander mense Sondae kerk toe te gaan nie, want sy en haar ma het nooit gegaan nie. Die enigste keer wat Bessie binne die kerk was, was Vrydag, toe sy na haar ma se begrafnis toe was.
Die res van die dag gaan baie gou verby. Toe Bessie haar oë uitvee, is dit tyd om haar klere in te pak en reg te maak om koshuis toe te gaan. Juffrou Malherbe help haar en kyk dat sy alles inpak wat sy gaan nodig kry. Bessie skryf ’n dankie-briefie en sit dit saam met die prent wat sy geverf het op die bed in juffrou Malherbe se kamer. Sy wil hê dit moet vir hulle ’n verassing wees as hulle later by die huis teruggekom. Daarna neem juffrou Malherbe en haar man vir Bessie met die motor na die koshuis toe. Juffrou Malherbe help haar om haar tasse na haar kamer te dra. Sy groet die juffrou en haar man en loop alleen en sleepvoet terug na haar kamer toe. Chantelle, haar kamermaat is nog nie terug nie. Bessie gaan staan voor die venster en kyk uit oor die rugbyveld. Die laaste strale val oor die gras waar ’n paar hadidas rondpik. Sy dink skielik weer aan die duif op juffrou Malherbe se stoep en sy wens sy kon nou op die stoepswaai sit.
Kort voor aandete daag Bessie se kamermaat op. Bessie is besig om haar klere in die kas te pak toe die kamerdeur oopgaan. “Hallo.” groet ’n rooikopmeisie wat met ’n groot bondel tasse by die kamer ingestrompel kom. “My naam is Chantelle. Jy is Bessie, nê?” Sy gooi die tasse op haar bed neer en hou haar hand uit na Bessie. Bessie skud die meisie se hand. “Ja, ek is Bessie.” groet sy terug. “Wanneer het jy ingekom?” vra Chantelle. “’n Rukkie terug.” antwoord Bessie en gaan voort om haar klere in die kas te pak. “Okay, wel, welkom hier by ons. Hoop jy gaan lekker bly. Skree maar as jy iets nodig het.” sê Chantelle. “Dankie.” sê Bessie.
Chantelle is ook besig om haar tasse uit te pak toe hulle kamerdeur oopgaan en twee meisies met ’n lawaai die kamer binnekom. “Chantelly!” roep hulle al twee gelyktydig en storm op Chantelle af en val haar om die nek. “Heleen, Petronel, maggies meisies, het ek julle gemis die naweek!” groet Chantelle hulle ewe uitbundig terug. Die drie meisies raak dadelik bewus van Bessie wat hulle vannaf haar klerekas staan en aanstaar.
“O dames, dit is my nuwe kamermaat, Bessie. Bessie, hierdie is Heleen en Petronel, my twee beste vriendinne.” stel Chantelle hulle aanmekaar voor. “Hallo.” groet Heleen eerste. Sy is ’n kort meisie met dik blonde krulle en sproete op die neus. “Hi.” groet Petronel ook, bietjie langer as Heleen. Sy is beeldskoon, dink Bessie. Met haar lang swart hare en groen oë lyk sy soos ’n prentjie uit ’n modetydskrif. “Hallo.” groet Bessie skaam terug. “So waar kom jy vandaan? Hoekom bly jy in die koshuis?” vra Heleen en val neer op Chantelle se bed. “Ek het eers hier in die dorp gebly.” antwoord Bessie effens onseker. Sy voel bietjie ongemaklik met die vrae wat Heleen gevra het. “Wag ’n bietjie,” sê Petronel en gaan sit langs Heleen op die bed. “Is jy nie die meisie wie se ma die week in daai motorongeluk dood is nie?” Chantellle hou op om haar klere weg te pak en kyk na Bessie. Die ander twee meisies sit en kyk ook na haar en wag vir ’n antwoord op Petronel se vraag. Bessie stol en die stilte in die vertrek word ongemaklik. Sy knik en draai haar gesig weg van die drie dames voor haar. “Shame, is jy okay?” vra Heleen. “Nou hoekom is jy in die koshuis? Waar is jou pa of jou oupa en ouma?” Petronel skiet die vrae af op Bessie soos skerp pyle uit ’n boog. Bessie antwoord nie, sy staan en staar net in haar klerekas in. “Toe nou julle twee, dis genoeg.” kom Chantelle vir Bessie op. “Ek gaan net gou klaar uitpak, dan kry ek julle onder by die eetsaal.” sê Chantelle. Heleen en Petronel staan op en loop by die kamer uit.
“Jammer, Bessie. Dié twee kan soms bietjie weghardloop met ’n ding. Hoop nie Petronel het jou nou ontstel nie?” Bessie maak die kas se deur toe. “Dis okay.” sê sy. “Bessie, ek weet nie presies wat gebeur het en wat jy als moes deurmaak nie, maar dit moet seker vir jou baie erg wees om nou hier te wees. Veral na jou ma, jy weet?” sê Chantelle. Bessie pers haar lippe op mekaar. “As jy ooit wil praat, ek is hier vir jou.” Chantelle se woorde maak ’n knop in Bessie se maag en sy voel hoe haar oë begin brand. “Dankie.” sê Bessie terwyl sy die huil wegsluk. Sy sal nie huil nie, nie voor Chantelle nie, nie op haar eerste aand nie, nooit! ’n Klok lui hard en eggo deur die koshuisgange. “Etenstyd!” sê Chantelle opgewonde. “Kom jy?” Chantelle maak die deur oop en wag vir Bessie. “Gaan jy solank, ek kom. Ek wil net gou ander skoene aantrek.” antwoord Bessie. “Okay.” sê Chantelle en verdwyn in die gang af. Bessie loop na die deur toe. Die gang wemel van meisies wat opgewonde lag en gesels soos hulle in die eetsaal se rigting beweeg. Bessie maak die deur toe en gaan sit op haar bed. Sy trek nie ander skoene aan soos sy vir Chantelle gesê het nie. Sy bly sit op die bed tot die geraas in die gang heeltemal stil is. Sy staan op en trek haar nagklere aan. In die kassie langs haar bed is ’n blik met koekies en beskuit wat juffrou Malherbe vir haar saam gestuur het. Sy eet twee droë beskuitjies en klim onder die pienk en wit duvet in. Toe Chantelle later na ete in die kamer kom, is Bessie vas aan die slaap.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Jou verhaal loop mooi Helena. Boeiend