Bessie: 7
Dit is weer Maandag. ’n Week is verby sedert haar ma oorlede is. Vanoggend toe sy wakker word, het sy vir ’n oomblik vergeet waar sy is. Dit het haar ’n tydjie geneem voor sy besef het sy is in die koshuis. Sy het opgestaan en aangetrek en saam met die ander kinders eetsaal toe gegaan. Dit was die mees eensaamste oomblik van Bessie se lewe toe sy die eetsaal binnekom. Almal het hulle plekke ingeneem en dit het haar lank geneem om ’n oop sitplek tussen die meisies te kry. Oral tussen die groepies was daar vrolik gesels en gelag terwyl sy stil-stil haar ontbyt geëet het. Op pad skool toe, het Chantelle van agter afgekom en by haar ingehaak. “Môre roomie en hoe het jy geslaap?” het sy gevra. “Môre, lekker dankie.” het Bessie geantwoord. “Dan is ek bly. Ek dog nog jy kom saam met ons eet gisteraand en toe ek jou weer sien, is jy lankal in droomland.” “Ja, ek was bietjie moeg, toe kruip ek maar vroeg in.” het Bessie verskoning gemaak. Sy wonder waar Chantelle vanoggend was toe sy wakker word, want haar bed was reeds opgemaak en haar gedeelte van die kamer was netjies aan die kant. Chantelle het nog ’n entjie saam met Bessie geloop toe sy haar twee vriendinne gewaar. “Nou maar toe, Bessie. Sien later weer.” het sy gegroet en by haar vriendinne aangesluit. Bessie is ’n jaar jonger as hulle. Dit het sy by ontbyt gesien, want al elke graad het sy eie tafel en Chantelle en die ander twee meisies het by die graad nege tafel gesit.
Toe eerste pouse aanbreek, kry Bessie haarself dat sy in die rigting van juffrou Malherbe se huis loop. Sy klop aan die deur en sekondes later word dit oopgemaak. “Goeiemôre Nonnatjie, goed om djou weer te sien.” groet Sylvie haar. “Hallo Sylvie.” groet Bessie terug. “Wat sal dit vandag wees? Koeldrank of tee?” vra die bruin vrou en glimlag. “Koeldrank sal lekker wees, dankie. Ek gaan sommer bietjie hier op die stoep sit.” sê Bessie. “Goed, ek bring vir djou.” sê Sylvie en loop terug in die huis in om vir Bessie koeldrank te gaan haal. Bessie gaan sit op die stoepswaai en dadelik sak die rustigheid op haar neer. Sylvie kom uit met ’n glas koeldrank en gee dit vir haar. “Mevrou sê djy bly nou in die koshuis?” sê-vra sy. Bessie vat ’n groot sluk van die sap en knik. “Ja, ek het gisteraand vir die eerste keer daar geslaap.” sê sy. “Ek hoop die mense is darem goed vir djou daar. Ek ken vir Lilly wat in die kombuis werk. Sy is ’n sterke antie met groot hande. Djy moet net sê as iemand met djou mors, ek laat weet vir ou Lilly dat sy hulle kan klap.” Bessie stik amper in haar koeldrank soos sy lag vir Sylvie. “Djy lag, Lilly het al baie vertel hoe gemeen die koshuiskinders soms met mekaar kan raak.” sê Sylvie ewe ernstig. “Hoe bedoel jy?” vra Bessie. “Ag, djy weet mos hoe’s djulle kinders. Hou van poetse bak en mekaar se siele uittrek.” sê Sylvie. “Maar drink djy djou koeldrank, ek het werk om te doen. Sien weer nè. En onthou wat ek gesê het oor ou Lilly met die groot hande.” sê Sylvie. “Reg Sylvie. Dankie, vir die koeldrank.” sê Bessie en Sylvie verdwyn weer by die huis in. Bessie voel lus en sit vir die res van die dag op die stoep, maar sy sal nie kan nie, want Sylvie sal haar sien en sy moet buitendien later terug by die koshuis wees vir middagete. Sy drink haar koeldrank klaar en staan lui op en loop terug skool toe.
Vir die volgende paar dae draai Bessie se lewe om dieselfde roetine. Bedags in die skool hou sy by by al die klasse, doen haar werk volledig en teken nie prentjies in haar klaswerk boeke nie. Die sketse los sy vir na skool. Sy gaan eet haar middagete, doen al haar huiswerk en loop dan na juffrou Malherbe se huis toe, waar sy ongestoord kan verf en teken. Met haar kwasse en verf verdwyn die ure, maar sy sorg altyd dat sy saans betyds terug is by die koshuis vir aandete. Bessie raak gewoond aan hierdie daaglikse patroon, maar een ding waaraan sy nie gewoond kan raak nie, is die eensaamheid. Behalwe vir juffrou Malherbe, Sylvie en Chantelle, praat sy amper nooit met enige iemand om haar nie. Sy voel uit tussen die ander kinders, want hulle het ouers en ouerhuise en bly nie naweke ook in die koshuis nie. Bessie gaan party naweke by juffrou Malherbe en oom Wouter tuis, maar hulle het baie keer ander planne en verpligtinge en dan moet Bessie in die koshuis agterbly. Sy verlang na haar ma. Sy het dalk haar foute gehad, maar dit was ’n persoon wat Bessie familie kon noem, iemand om na huis toe te gaan na skool. Van haar pa hoor sy niks en sy wonder of hy ooit so baie aan haar dink soos sy aan hom. Sy weet nog steeds nie veel van hom nie, behalwe dat sy naam Paul is en dat hy baie geld het. Of altans, so dink sy, na aanleiding van die geld wat hy gereeld vir haar oorbetaal en die motor wat sy hom sien bestuur het die dag van haar ma se begrafnis. Sy wonder watter tipe werk hy doen, want dit moet ’n spesiale tipe werk wees wat ’n sekretaresse het wat hy so kan rondstuur en laat rondbel vir al sy persoonlike sake. Meeste van die oproepe tot dus vêr wat van hom afgekom het, is deur haar gemaak.
Die dae word weke en die weke vlieg vinnig verby, toe Bessie haar kom kry, is dit die begin van Junie. Die dag van die kultuuraand kom al hoe nader. Juffrou Malherbe het bly soebat dat Bessie deelneem en sy het uiteindelik ingestem. In die dae wat sy in haar verfhoekie spandeer het, het sy ’n hele paar skilderye voltooi. Twee daarvan was ook seetonele soos die heel eerste prent wat sy tydens haar detensie tydperk geverf het. Bessie het besluit om al drie vir die eisteddfod in te skryf. Die kunsjuffrou was baie in haar skik met Bessie se inskrywings en die feit dat sy dit in so ’n kort tydjie voltooi het. Sy het Bessie se skilderye gevat en haar gehelp om die nodige afrondings te doen. Nou gaan Bessie se prente ook by die kultuuraand uitgestal word.
Een koue oggend gedurende tweede pouse, glip Bessie weer weg na juffrou Malherbe se huis toe. ’n Paar treë van die huis af word sy voorgekeer. “En waarheen dink jy gaan jy?” Bessie stop in haar spore en draai om. Rentia en haar drie trawante staan agter haar. “Wat het dit met jou te doen?” vra Bessie vir haar. “Moenie my vraag met ’n vraag beantwoord nie, Bessie. Wat gaan soek jy by juffrou Malherbe se huis?” vra Rentia uitdagend. “Wie sê vir jou ek is op pad soontoe?” vra Bessie dapper, maar binne haar klop haar hart al hoe vinniger. “Ag man, ek het mos oë in my kop. Ons kan sien jy loop in daardie rigting.” vervies Rentia haar. “Jy kyk verkeerd man, ek is op pad koshuis toe. Ek het ’n handboek vergeet.” dink Bessie vinnig ’n verskoning uit. “O ja, jy is mos nou ’n koshuisbrak.” sê een van die ander meisies. Bessie voel hoe haar ore rooi word toe Rentia en die meisies begin lag. “Vlieg in julle kanon, man!” sê Bessie deur haar tande en draai om. Nou moet sy regtig koshuis toe stap, want hulle kyk vir haar. “Ja, jong. Hardloop weg. Dis mos al wat jy kan doen!” skree Rentia agter haar aan. Bessie stap stadiger. Meskien draai hulle om en loop weg en dan kan sy nog na juffrou Malherbe se huis toe gaan. Sy loer na ’n paar treë versigtig oor haar skouer. Die vier meisies staan nie meer daar nie, hulle is weg. Bessie draai terug en loop versigtig terug. Sy sien hulle nêrens nie.
Sylvia maak oudergewoonte die voordeur oop en nooi vir Bessie binne. Vandag kry Bessie nie koeldrank nie. Sylvia maak vir haar ’n lekker koppie warm sjokolade. “Hoekom lyk djy dan vandag soos een wat in die maag geskop is?” vra Sylvie. “Ag, dis sommer ’n klomp simpel meisiekinders wat niks beter het om te doen nie.” antwoord Bessie. “Is dit die koshuiskinders? Ek het djou mos gesê djy moet kom praat. Ek bel net vir Lilly met die groot hande.” sê Sylvie. Bessie glimlag. “Nee wat ou Sylvie. Dis nie die koshuiskinders nie. Sommer vervelige kinders by die skool. Niks ernstig nie.” stel Bessie haar gerus. “Nou goed, as djy so sê.” sê Sylvie en neem die leë koppie by Bessie. “Pouse is seker amper verby hoor, djy sal moet begin loop.” sê die bruin vrou. Bessie skraap al haar moed bymekaar. Sy loop nou al baie lank met hierdie vraag en sy vermoed Sylvie sal dalk die antwoord ken. “Sylvie, hoekom het juffrou Malherbe en haar man nie kinders nie?” vra sy versigtig. Sylvie draai vinnig om. “Hoekom vra djy nou dit?” wil sy weet. “Want hulle altwee is sulke gawe mense en juffrou Malherbe is baie goed met kinders en als. Ek het maar net gewonder hoekom het hulle nie kinders nie.” verduidelik Bessie. “Hulle kan nie kinders kry nie.” sê Sylvie. “Baie jare probeer, maar niks het gewerk nie.” “Dit is hartseer.” sê Bessie. “Ja, dit is nogal. Toe, nou moet djy loop. Mevrou sal nie daarvan hou dat ek hulle huissake met die skoolkinders bespreek nie.” sê Sylvie. Bessie groet haar en loop terug skool toe.
Bessie kan nie help om hartseer te voel vir juffrou Malherbe nie. Sy verstaan nou hoekom oom Wouter so kwaad was die eerste aand wat sy by hulle aangekom het. Sy onthou sy woorde; “Onderhoudsgeld maak nie van jou ’n pa nie, net so min soos die woord ma van iemand ’n moeder maak. Hulle het haar nie verdien nie. Sulke mense moet nie kinders hê nie!” Dit is eintlik waar wat oom Wouter gesê het; haar ouers is nie die tipe mense wat ’n kind moes hê nie. Juffrou Malherbe en oom Wouter, inteendeel, sou die perfekte ouers maak.
Bessie se dag by die skool eindig op ’n slegte noot. Toe die laaste periode begin, los sy haar skooltas in die klas en glip gou kleedkamer toe voor die onderwyser met die les begin. Toe sy terugkom in die klas, is haar tas skoonveld. Die kinders wat naby haar sit, weet ook nie waar die tas is nie. Sy kry raas by die onderwyser omdat sy nie in haar leesboek kan volg nie en kry uitskryfwerk. Bessie is uit die veld geslaan. Sy het haar tas net hier neergesit. Waar kan dit dan wees? Toe die huistoegaan klok lui, kry sy haar antwoord. Rentia kom stadig na haar toe aangeloop met ’n grinnik op haar gesig. “Waar is my tas, Rentia?” vra Bessie briesend. “Ek het nie ’n idee waarvan jy praat nie.” antwoord Rentia koel. Bessie verloor alle selfbeheersing en gryp vir Rentia aan die hare. “Eina! Wat maak jy?” gil Rentia en binne sekondes is daar ’n hele kring kinders om hulle besig om die geveg aan te huts. Rentia spartel en klap na Bessie, maar Bessie laat los nie Rentia se hare nie. ‘n Onderwyser breek deur die kring van kinders en druk die twee dogters uitmekaar. Almal word beveel om die klas te verlaat en Rentia en Bessie kry beide detensie.
Daardie aand maak Bessie nie ’n oog toe nie. Sy is te kwaad en ontsteld. Nie net sit sy nou môre detensie nie, maar haar skooltas is nog steeds weg en sy kon niks van haar ander huiswerk doen nie. Sy was so omgekrap, sy het nie eens na skool na juffrou Malherbe se huis toe gegaan om te skilder nie. Sy wens sy het geweet wat het Rentia met haar tas gemaak. “Is alles reg?” vra Chantelle iewers in die middel van die nag. “Nee.” antwoord Bessie. “My skooltas is weg.” Chantelle sit regop in haar bed. “Wat? Hoe het dit gebeur?” vra sy. “Iemand het dit weggesteek.” sê Bessie. “Nee! Wie sou so iets doen?” Chantelle klink ontsteld. “Iemand in my klas. Meskien het sy dit weg gegooi of iets, ek is nie seker nie.” Bessie vertel vir Chantelle die hele insident met die tas en Rentia. “Jy moet vir die onderwyser gaan vertel wat gebeur het, Bessie.” sê Chantelle. “Dit sal nie help nie, Rentia is al die onderwyssers se gunsteling. Sy kan niks verkeerd doen in hulle oë nie en sy sal in elk geval die storie so spin dat hulle haar glo.” sê Bessie mismoedig. “Maar ek sal saam met jou gaan as jy wil. Wat sy gedoen het, is nie reg nie.” hou Chantelle aan. “Dankie, Chantelle, maar laat ek eers môreoggend gaan soek en kyk of ek nie my tas kan opspoor nie.” Chantelle lê weer terug teen haar kussings. “Nou goed dan, nag Bessie. Lekker slaap.” “Lekker slaap, jy ook.” sê Bessie. Sy rol om en maak haar oë toe. Bessie probeer haar bes om te slaap, maar die skooltas bly heelnag in haar gedagtes.
So vroeg as wat sy by die koshuis kan wegkom, draf Bessie die volgende oggend skool toe. Sy het nie ’n idee waar sy moet begin soek nie. Sy begin by die klas wat hulle gister laaste gehad, die klas waar sy haar tas gelos het. Bessie soek onder die banke en selfs in die kaste, maar tevergeefs. Sy beweeg aan na die ander klaskamers. Een vir een kyk sy almal deur. Sy soek selfs in die meisies se kleedkamer, maar haar skooltas is nêrens te sien nie. Vir ’n oomblik oorweeg Bessie dit om vir juffrou Malherbe te vertel, maar sy is nie ’n klikbek nie. Sy begin haar eerste periode met ’n swaar gemoed en dit raak swaarder in die twee periodes daarna. Die onderwysers is nie baie gelukkig met haar nie, want sy het nie ’n enkele boek om oop te maak nie en die werk wat sy sal moet inhaal, raak net al hoe meer.
In die middel van die derde periode word Bessie en Rentia na die hoof se kantoor toe geroep. Toe hulle in die kantoor kom, is Chantelle ook daar. Dit kan net een ding beteken, dink Bessie. Chantelle moes vir juffrou Malherbe van die tas vertel het. En dit is toe ook so. Rentia moes verduidelik hoekom sy Bessie se skooltas gevat het en waar sy dit weggesteek het. Rentia vertel toe dat sy dit gedoen het om Bessie terug te kry omdat sy haar rompie afgetrek het. Juffrou Malherbe was glad nie gelukkig met een van die twee dogters nie. Sy het vir Chantelle uit die kantoor verskoon en toe verder met Bessie en Rentia gepraat. “Ek is diep teleurgesteld in julle al twee se optredes.” het die juffrou gesê. “Na regte moet ek julle ouers in kennis stel en julle ’n waarskuwing gee, maar ek gaan dit nie doen nie.” Bessie wonder wie juffrou Malherbe wil bel oor haar optrede. Haar pa? “Ek gaan julle nog een kans gee, as ek weer hoor dat julle twee in mekaar se hare was, is daar groot moeilikheid.” sê juffrou Malherbe. “Waar is Bessie se skooltas, Rentia?” Rentia se onderlip bewe. “Op die skool se dak, Juffrou.” antwoord sy saggies. Bessie is verstom. Op die dak van alle plekke? Hoekom het sy nie daaraan gedink nie? Juffrou Malherbe beveel Rentia om die skool se opsigter gedurende pouse op te spoor en te reël vir ’n leer sodat die tas afgehaal kan word. “En Bessie, sodra jy jou tas terug het, probeer maar so gou moontlik met al jou werk op datum kom.” “Goed juffrou.” sê Bessie. Bessie en Rentia word ook uit die kantoor verskoon.
.
Toe pouse begin, het Rentia die skool se opsigter gaan roep om Bessie se tas van die dak af te haal. Gelukkig was alles binne-in die tas presies soos sy dit gelos het. Niks was weg of stukkend nie Bessie kon die res van haar dag by die ander klasse byhou en van die ander agterstallige werk inhaal. In die detensie-periode sit sy en Rentia so vêr moontlik van mekaar af. Rentia gluur kort-kort onderlangs na Bessie terwyl hulle hul uitskryfwerk doen, maar Bessie ignoreer haar heeltemal. Bessie wonder of sy nog na skool na juffrou Malherbe se huis toe kan gaan vandag. Die juffrou is gewoonlik tot laat in die middag by die skool besig, maar sê nou net sy is vandag vroeër by die huis? Bessie voel sy het vir juffrou Malherbe teleur gestel en sy wil nie by haar huis wees as die juffrou vir haar kwaad is nie. Dus bly Bessie maar die res vanmiddag in die koshuis en so ook elke middag vir die res van die week.
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Ek geniet jou storie baie Helena