Jongste aktiwiteit:

  • Ricco het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze en Profiel foto van RiccoRicco is nou vriende

  • Ricco het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Ricco het n geregistreerde lid geword

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Colin het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Jessica Venter het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze en Profiel foto van CHRISTELLECHRISTELLE is nou vriende

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak

Bessie: 8

Die naweek breek aan en Bessie word mismoedig. Sy het so lanklaas iets geverf of geteken, maar sy voel nog nie reg om na juffrou Malherbe se huis terug te keer nie. Sy het nog nie weer met die juffrou gepraat na die besoek aan haar kantoor oor die tas-insident nie. Bessie moet erken, sy mis nie net haar kuns nie, sy verlang ook na die huis met die swaar houtdeur en sy stoepswaai, Sylvie én juffrou Malherbe. Die Saterdagoggend sit Bessie met ’n voorgeskrewe leesboek in die koshuis se sitkamer. Die gange is weer stil, want omtrent al die ander kinders is huis toe vir die naweek. “Hallo Bessie.” groet ’n vrouestem haar. Bessie kyk van haar leesboek af op. Dit is juffrou Malherbe. “Môre juffrou.” groet sy senuagtig terug. “Ek het kom kyk hoe dit met jou gaan. Jy is baie skaars die afgelope tyd.” sê die juffrou. “Ja, juffrou, ek weet. Dis net … dis net …” Bessie weet nie hoe om dit te sê nie. “Dis net wat, Bessie? Is daar fout?” vra juffrou Malherbe. “Nee juffrou. Dit is maar net dat ek gedink het dat juffrou nog kwaad is vir my.” antwoord Bessie. Die juffrou frons. “Kwaad vir jou?” vra sy. “Ja, juffrou. Oor my en Rentia se storie nou die dag.” sê Bessie.

“O dit.” sê juffrou Malherbe. “Ek was baie teleurgesteld ja, maar ek is nie kwaad vir jou nie, Bessie.” sê die juffrou en Bessie voel effens verlig. “Kon jy en Rentia darem al vrede maak?” wil juffrou Malherbe weet. Bessie skud haar kop heftig. “Nee juffrou, of eintlik soortvan. Ek probeer haar maar vermy.” sê Bessie. “Maar hoekom is julle gedurig in die een of ander twis, Bessie?”
“Ek weet nie regtig nie, juffrou. Ek dink sy hou maar net nie van my nie.” sê Bessie.
“En hoekom het jy haar rompie afgetrek? Dit was darem ’n baie lelike ding om te doen.” sê juffrou Malherbe streng.
“Ja, dit was seker, juffrou, maar ek was op daai oomblik so kwaad. Ek het nie mooi gedink wat ek doen nie.” verduidelik Bessie. “Jy moenie toelaat dat dinge jou so ontstel nie, Bessie.” sê die juffrou. Bessie pers haar lippe saam en knik stadig. Dit is bietjie moeiliker gesê as gedaan, dink Bessie. Juffrou Malherbe weet nie hoe dit is om ’n tiener te wees in vandag se tyd nie. Sy weet ook nie hoe dit voel om nie ’n ma of pa te hê nie. Of hoe dit voel om deur iemand soos Rentia getreiter te word nie. Bessie kry dadelik skaam vir haar eie gedagtes. Juffrou Malherbe praat die waarheid, sy moet haar nie so vererg vir Rentia nie. Dit maak dinge net erger, want elke keer as sy kwaad word vir die goed wat Rentia en haar vriendinne sê, kry Rentia presies wat sy wil hê en Bessie kom weer in die moeilikheid.

“So, hoe gaan dit andersins?” vra juffrou Malherbe. “Dit lyk darem of jy goed aangepas het hier in die koshuis.”
“Ja, ek kan nie kla nie, juffrou. Dit gaan goed en ek kom reg met alles.” sê Bessie. “Dis goed om te hoor. En om te dink jy was so bekommerd aan die begin, nê?” sê juffrou Malherbe en glimlag. Bessie glimlag terug. ’n Vraag kom skielik by haar op. “Wanneer laas het juffrou van my pa gehoor?” vra sy. “Baie lanklaas, Bessie. sHoekom vra jy?”
“Ag, ek het maar net gewonder.” sê Bessie ietwat teleurgesteld oor juffrou Malherbe se antwoord. Bessie dink party aande as sy in haar bed lê dat hy meskien gereeld probeer kontak maak om te hoor hoe dit met Bessie gaan, maar klaarblyklik doen hy dit nie. “Wat dink jy daarvan dat ons hom nooi vir die kultuuraand?” vra die juffrou en Bessie sit dadelik regop. “Dink juffrou hy sal kom?”
“Ek weet nie, maar ons kan probeer. Ek sal hom self kontak en uitnooi as dit reg is met jou?” stel juffrou Malherbe voor. Bessie voel ’n klein bietjie opgewonde, maar die idee dat hy die uitnodiging van die hand gaan wys, dwaal ook in haar agterkop. “Dit is reg, juffrou kan hom maar nooi.” sê sy. “Nou maar goed, ek maak so. En gepraat van die kultuuraand, ek sien jy verjaar die week daarop. Ek wil vir Sylvie vra om vir jou ’n koek te bak. Wat is jou gunsteling?” vra juffrou Malherbe. “Ek weet nie regtig nie, juffrou. Ek hou van choclate, maar vanilla is ook baie lekker.” antwoord Bessie. Juffrou Malherbe glimlag. “Dan maak ons sommer vir jou een van elk.” Bessie glimlag terug. Sy kan nie onthou wanneer laas sy koek geëet het nie.

13 Junie 2016. Bessie kyk na die datum wat sy boaan die papier geskryf het. Dit is die begin van ’n nuwe week en die skool is in die middel van die Junie eksamenreeks. Vandag skryf sy Wiskunde. ’n Groot deel van die vraestel is gebaseer op hoofstuk twee in hulle handboeke. Dieselfde hoofstuk twee waaroor sy detensie moes sit.

Bessie se daaglikse roetine het effens verander vandat die eksamen begin het. Daar is nie meer die normale klasse van ag tot twee nie. Die skoolsaal is voorberei en banke is ingedra sodat almal van graad agt tot twaalf in die saal eksamen kan skryf. Gedurende die eksamentyd is die skooldag korter, want almal kom skool toe, skryf hulle eksamen en gaan dan weer huis toe na die tyd. Die koshuiskinders spandeer meeste van hulle tyd in die studiesaal. Bessie bestee baie tyd agter haar boeke, nie net omdat sy regtig goed wil doen hierdie kwartaal nie, maar omdat skoolwerk omtrent die enigste ding is waarmee sy haar kan besig hou. Dit en haar verfwerk. Sy ruim tyd in elke dag om bietjie by juffrou Malherbe se huis te gaan verf. Dit laat ontspan en gee bietjie afleiding van al die leerwerk. Soms, gaan sit sy op haar gunsteling stoepswaai en kyk na al die voëltjies in juffrou Malherbe se tuin.

Bessie werk gemaklik deur die Wiksunde vraestel en voltooi dit lank voor die tyd verstreke is. Sy lê op haar arms en kyk na almal om haar wat nog besig is. Konsentrasie en frustrasie is op baie van die kinders se gesigte. Hier en daar is nog ’n paar wat ook op hulle arms lê en wag vir die tyd om verby te gaan. Die onderwysers beweeg op en af tussen die rye banke om seker te maak niemand kyk op iemand anders se werk nie. Vrydag maak die eksamen klaar, dan word al die banke weer uit die skoolsaal gedra om plek te maak vir stoele en tafels, want Vrydagaand is die kultuuraand. Bessie sien nogal uit daarna. Die ding wat haar die meeste opgewonde maak, is die feit dat sy haar werke hierdie jaar ook op die mure gaan sien tussen die ander kunstenaars se skilderye. ’n Onderwyser kondig aan dat die tyd verstreke is. Antwoordstelle word ingehandig en die saal word vinnig ’n groot miernes soos almal by die deure probeer uitkom. Bessie sweef saam met die stroom by die saal uit.
Sy staan ’n rukkie buite en wag dat meeste kinders weg is voor sy na juffrou Malherbe se huis toe loop. Sy het nou lus vir een van Sylvie se lekker koppies tee.

Toe Bessie aan die deur klop, is dit nie Sylvie wat die deur oopmaak nie, maar juffrou Malherbe self. “Hallo Bessie. Het jy klaar geskryf?” groet sy en staan terug sodat Bessie kan inkom. By hierdie tyd weet juffrou Malherbe van Bessie se daaglikse besoekies aan Sylvie. Wat vir Bessie vreemd is, is dat die juffrou dié tyd van die dag by die huis is, want sy bly gewoonlik op kantoor tot laat middae. “Ja, nou net klaar geskryf, Juffrou. Is Sylvie hier vandag?”
“Ja, sy is op haar pos. Gaan sit jy solank die ketel aan, ek wil net gou ’n draai loop, dan kom maak ek vir ons iets om te drink.” sê juffrou Malherbe en verdwyn in die gang af. Bessie loop kombuis toe, maak die ketel vol water en skakel dit aan. ’n Fluitende Sylvie kom van die agterdeur af ingeloop met ’n groot wasgoedmandjie in haar arms. “Môre môre!” groet sy vriendelik vir Bessie. “Hallo Sylvie. Ek sien dit is wasgoeddag vandag.” sê Bessie. “Einste. Hoe was vandag se toets?” vra Sylvie.
“Heel okay.” antwoord Bessie. “Hoekom is juffrou Malherbe so vroeg by die huis?”
Sylvie sit die mandjie vol wasgoed neer en trek haar skouers op. “Ek weet nie, jong. Sy klink bietjie siekerig. Meskien het Mevrou die flu.” Juffrou Malherbe kom by die kombuis ingeloop. “Skinder julle twee van my?” terg sy vir Bessie.
“Nee Juffrou, maar net gewonder hoekom Juffrou so vroeg by die huis is vandag.” sê Bessie. “Ek het vanoggend opgestaan met ’n aaklige kopseer. Nou werk ek maar vandag ’n bietjie hier van die huis af.” sê juffrou Malherbe. Sy maak vir hulle tee en hulle gaan sit buite op die stoep. Hulle gesels oor die eksamen en die opkomende kultuuraand. Toe Bessie se koppie leeg is, groet sy vir juffrou Malherbe en keer terug koshuis toe om vir die volgende dag se toets te gaan leer.

Die dae wat volg verloop rustig. Dit voel vir Bessie of elke dag verby sleep. Sy is so opgewonde oor die kultuuraand dat sy ekstra hard moet fokus op haar leerwerk. Toe sy Vrydagoggend wakker word, is die vlinders op haar maag baie woelig. Sy kry skaars haar ontbyt geëet. In die eksamenlokaal is dit vir Bessie net so moeilik om gefokus te bly. Sy dink die heeltyd aan die vanaand. Juffrou Malherbe het intussen haar pa gekontak en uitgenooi na die kultuuraand. Hy het gesê hy sal kyk wat hy kan doen. Dus is dit net ’n meskien dat hy sal opdaag. Bessie kan nie help om te hoop dat hy wel sal kom nie. Dit sal vir haar baie beteken as sy ook iemand daar het wat spesiaal kom om haar kunswerke te sien. ’n Familielid, ’n persoon van haar eie. Sy wonder hoe die ander kinders se prente lyk en hoe haar eie skilderye tussen die ander gaan lyk. Bessie skryf swaar klaar aan haar laaste eksamenvraestel, maar toe die tyd verstreke is, is sy soos blits uit die skoolsaal.

Sy wil gou gaan inloer by juffrou Malherbe. Sy is al heelweek siek by die huis en dit het alles met Maandag se kopseer begin. Sylvie maak die houtdeur oop en nooi Bessie binne. “Mevrou is in die kamer. Sy het gesê as djy kom, moet ek sê djy kan maar deurgaan na haar toe.” sê Sylvie. Bessie loop die gang af na juffrou Malherbe se kamer toe. Die juffrou lê gemaklik teen die kussings met ’n klomp papiere om haar op die bed. Sy is duidelik besig om vraestelle na te sien. “Bessie, kom binne.” nooi sy Bessie in toe sy haar sien. “Hoe voel juffrou vandag?” vra Bessie en loop nader. “Ek voel al baie beter dankie. Maandag is ek weer terug in my ou kantoortjie.” antwoord die juffrou en glimlag. “Is dit verkoue of wat?” vra Bessie.
“Ek dink dit was ’n bietjie van ’n maaggriep, maar die ergste is verby. Jy sê die eksamen is nou klaar?” “Jip, uiteindelik!” sug Bessie. Juffrou Malherbe sit haar pen neer en staan op. “Kom, ek het iets vir jou.” sê sy. Bessie volg haar nuuskierig na die kamer toe wat Bessie gewoonlik gebruik. “Spesiaal vir jou.” sê die juffrou en wys na ’n plat boks op die bed. “Wat is dit, juffrou?” vra Bessie. “Maar maak oop, moenie nog vra nie.” lag juffrou Malherbe.

Bessie gaan sit op die bed langs die plat boks. Dit is met ’n groot wit lint toe gebind. Sy trek die lint versigtig af en maak die boks stadig oop. Haar oë rek groot en haar mond val oop. “’n Spesiale uitrusting vir ’n spesiale kunstenaar.” sê die juffrou toe sy Bessie se verbaasde gesig sien. “Toe, haal dit uit.” Bessie steek haar hande in die boks en haal ’n pragtige ligpienk rok uit. Dit is ’n lang rok van kant met lang moue. “Ek het gedink die langer moue sal gepas wees. Die aande is nogal koud nou.” sê juffrou Malherbe. “Is dit vir my?” vra Bessie stadig. Sy kan haar oë nie glo nie. Juffrou Malherbe knik. Bessie gooi die rok neer en spring op. Sy omhels die juffrou en druk haar so hard dat sy kreun. “O wag, pasop Bessie. Jy sal my stukkend druk.” spot sy. Bessie staan vinnig terug. “Skuus, Juffrou. Dankie, Juffrou. Jissie, dit is die mooiste rok wat ek nog ooit gesien het. Juffrou Malherbe loop na ’n kas toe, maak dit oop en gee vir Bessie ’n kleiner boks. Bessie neem dit by haar en maak dit oop. Dit is pienk plat skoene met fyn blinkertjies op. Die kleur pas perfek by die pienk van die rok. “Juffrou,” snak Bessie na haar asem. “ek kan dit mos onmoontlik nie vat nie. Dit is alles so mooi, so … Dit moes baie geld gekos het, Juffrou.” sê Bessie. “Nonsens, natuurlik kan jy dit vat. Sien dit as ’n vroeë verjaarsdag geskenk van my en oom Wouter af.” sê die juffrou. Bessie gee haar weer ’n drukkie en kyk dan na die skoene. Sy hou dit langs die rok en sien hoe mooi dit by mekaar pas. Sy het nog nooit iets so mooi besit nie. Hierdie is ’n baie spesiale geskenk. “Nou toe, vat dit saam koshuis toe en gaan pas dit solank aan as jy wil.” sê juffrou Malherbe. “As ek hierdie rok en skoene nou moet aantrek, trek ek dit nooit weer uit nie. Ek sal dit vir altyd kan dra!” lag Bessie en sit die rok terug in die boks.
“Juffrou kom kyk vanaand, nê?” vra sy.
“Ek mis dit vir niks.” glimlag juffrou Malherbe. “Maar ek gaan eers ’n middagslapie moet neem voor dan, anders raak dit ’n lang aand. Die griep dreineer nogal ’n mens se energie.”

Bessie vat die twee bokse onder een arm vas. “Dan sien ek Juffrou later.” sê sy. Sy groet vir Sylvie in die kombuis en huppel die hele pad koshuis toe. Nou kan die kultuuraand maar begin, dink Bessie. Sy het drie skilderye wat teen die mure gaan hang, ’n pragtige rok en die moontlikheid dat haar pa dalk ook daar gaan wees. Sy het nog nooit in haar lewe so baie na iets uitgesien nie.




Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Ricco het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze en Profiel foto van RiccoRicco is nou vriende

  • Ricco het ‘n nuwe publikasie gemaak