Bessie: slot
Toe sy in haar koshuiskamer kom, lê Chantelle uitgestrek op die bed. Sy het oorfone in haar ore en lê toe-oë na musiek en luister. Dit lyk asof sy slaap. Bessie haal die rok uit die boks en hang dit aan ’n hanger teen haar kas. Die skoene sit sy netjies op die grond onder die rok neer. “Dit is beautiful!” roep Chantelle skielik agter haar. Bessie wip soos sy skrik. Chantelle spring regop, gooi die oorfone op die bed neer en kom staan langs Bessie. “Waar kry jy die mooi rok, Bessie?” vra sy oopmond. “Dit was ’n geskenk.” antwoord Bessie. “Ek gaan dit vanaand na die kultuuraand toe aantrek.” Sy kry baie snaaks vir Chantelle wat die rok so oopmond staan en kyk.
“Wow. Dit is al wat ek kan sê. Jy gaan stunning lyk.”
“Dankie.” sê Bessie. “Ek hoop regtig so.” Chantelle is vir die naweek in die koshuis. Sy woon ook vanaand die kultuuraand by, want sy neem deel aan ’n dansitem. Chantelle het verlede week al haar uitrusting vir die kultuuraand gekry.
Dit is ’n wit leotard en tutu, kompleet met die ballet skoentjies wat met linte teen haar bene opryg. Sy moet dit ook dra vir die eisteddfod volgende week. “Ek sê jou, Bessie, jy kan hierdie rok saam met jou skilderye vir die eisteddfod instuur en hy sal sommer trippel goud kry!” sê Chantelle en die twee kamermaats lag uitbundig vir die grap.
Bessie sit en tel letterlik die ure af van die middag. Die geleentheid begin sesuur en die deelnemers moet reeds halfses by die skoolsaal wees. Vyfuur haal sy die rok van die hanger af. Sy trek dit versigtig aan en kyk na haarself in die spieël. Die rok hang tot by haar enkels en die materiaal is sag. Nadat sy die skoene ook aangetrek het, vleg Chantelle haar hare in ’n mooi visgraat vlegsel. Chantelle is klaar aangetrek. Vir Bessie lyk sy soos ’n klein feëtjie wat enige oomblik gaan opspring en vlieg. Die twee dogters doen die laaste afrondings aan hulle uitrustings en loop dan skoolsaal toe. Daar is al ’n hele paar mense. Meestal die kinders wat betrokke gaan wees by die eisteddfod en hulle ouers.
Toe Bessie by die saal inloop soek sy dadelik vir haar prente teen die muur. Daar is baie skilderye. Dit maak haar effens op haar senuwees. Almal is so mooi. Daar is onderwater skilderye, riviere, kinders wat swem en enige iets waaraan mens kan dink wat met water te doen het. Dan sien sy hulle. Haar drie werke hang langs mekaar. ’n Goue plakker met haar naam staan onderaan elkeen. Dit voel so onwerklik om haar eie kunswerke tussen die ander prente te sien. Die vlinders op haar maag kom terug. Sy wonder wat die ander mense daarvan gaan dink. Bessie kyk om haar rond. Stoele is voor die verhoog gepak in rye. Agter in die saal is twee lang tafels waarop eetgoedjies en sap uitgepak is. Meer en meer mense kom die saal binne, kyk na die prente teen die mure en gaan neem hulle plekke in voor die verhoog. Bessie se bors swel van trots elke keer as iemand voor haar skilderye gaan stilstaan. Sy staan bietjie nader om te hoor wat die komentaar is. “Sjoe, hierdie is werklik mooi.” sê ’n tannie. “As een van die drie nie ten minste goud behaal nie, weet ek darem nie.” sê die tannie se vriendin. Bessie glimlag tevrede.
’n Hand op haar skouer laat haar omkyk. “Ek het geweet die rok gaan goed lyk aan jou.” sê juffrou Malherbe en glimlag. “Dankie, maar dit is Juffrou wat sulke goeie smaak het.” sê Bessie. “Jy lyk beeldskoon, jonge dame.” sê oom Wouter en hou sy arm dat sy vrou by hom moet inhaak. “Sien jou bietjie later.” glimlag juffrou Malherbe en loop saam met haar man om van die gaste te gaan groet. Die saal is nou amper vol. Bessie soek deur die mense om te sien of haar pa al opgedaag het. Daar is geen teken van hom nie. Meskien kom hy laat, dink sy. Sy gaan staan weer naby haar skilderye om te hoor wat die mense wat daarna kyk te sê het. Die mense se komentaar laat Bessie baie goed voel oor haar werk. Sy het nou bietjie meer selfvertroue wat die eisteddfod aan betref. Een vrou staan besonders lank na haar werk en kyk. Sy is lank met rooibruin hare en ’n skerp neus. Die vrou haal ’n selfoon uit haar handsak en neem foto’s van Bessie se skilderye. Bessie se wenkbroue lig. Hoekom sal sy dit doen? wonder Bessie. Die vrou draai skielik om en kyk na Bessie. “Hi daar.” groet sy vriendelik. “Is hierdie jou werk?” vra sy en beduie na die drie seetonele teen die muur. Bessie knik. “Dit is asemrowend goed gedoen.” sê die vrou. “Dankie,” sê Bessie skaam. “Gee jy om as ek ’n foto van jou neem? Staan sommer hier voor jou skilderye.” sê sy en Bessie staan onseker nader na waar die vrou vir haar wys. “Smile.” sê die vrou en verblind Bessie met ’n flits van die selfoonkamera. “Perfek. Dankie.” Sy sit die selfoon weer terug in haar handsak. “Mooi rok.” glimlag sy vir Bessie en verdwyn tussen die ander mense in.
Bessie staan verbaas die vrou en agterna kyk. Dit raak tyd dat die aand se verigtinge moet begin en Bessie gaan soek vir haar ’n sitplek. Daar is nog steeds geen teken van haar pa nie. Die ligte verdoof en die gordyne op die verhoog trek oop. Een vir een lewer die deelnemers hulle items. Bessie kan nie die vrou met die skerp neus uit haar kop kry nie. Sy bly die hele aand aan haar dink. Baie gou is die laaste item klaar. Dit was ’n heerlike aand en sy is baie tevrede met hoe haar skilderye tussen die ander deelnemers se werke gedoen het, maar sy kan nie help om effens ongelukkig te voel nie. Haar pa het nie gekom nie. Al het hy gesê hy gaan meskien hier wees, het sy tog duimvas gehou dat hy wel sou kom. Sy wou hê hy moes haar skilderye sien, sien dat sy ook goed in iets kan wees en sien hoe mooi hierdie rok is wat juffrou Malherbe vir haar gegee het.
“Toemaar Bessie, sê juffrou Malherbe toe hulle later mekaar buite die saal kry. “Jy het baie goed gedoen met jou prente en hier was so baie mense wat daarvan gehou het.” het die juffrou probeer troos, maar dit maak nie die teleurstelling weggaan nie.
Die res van Bessie se naweek bring sy in die koshuis deur. Chantelle is gisteraand na die kultuuraand saam met haar ouers huis toe, so Bessie het die kamer vir haarself. Sy lees, teken prentjies en slaap die naweek om. Sondagmiddag kom klop tannie Martie aan haar deur. Sy bring vir Bessie ’n boodskap. Juffrou Malherbe wil haar sien. Bessie trek haar skoene aan en loop na die Malherbes se huis toe. Sy wonder waaroor die juffrou haar wil sien.
“Goeiemiddag Bessie.” groet oom Wouter toe hy vir haar die deur oopmaak. “Hallo Oom.” groet Bessie terug. Hulle loop saam deur na die sitkamer waar juffrou Malherbe voor die televisie sit en ontspan. “Hallo Bessie.” groet sy en staan op.
“Hallo Juffrou. Hoe gaan dit met die maaggriep?”
Juffrou Malherbe kyk vir haar man en knipoog. “Nee, dit was toe nie griep nie.” sê sy.
Bessie frons. “Nou wat was dit dan?” vra sy. “’n Wonderwerk.” sê oom Wouter en glimlag. Bessie kyk van oom Wouter na juffrou Malherbe. Sy verstaan nie mooi wat nou aangaan nie. “Ek is swanger, Bessie.” sê die juffrou. “Ons gaan ’n baba hê.” voeg oom Wouter opgewonde by. “Wat?” vra Bessie verward. Sy dog dan hulle kan nie kinders hê nie. “Dit wat ek heeltyd gedink het, is maaggriep, is toe al die tyd ’n klein mensie wat hier binne my begin groei.” sê juffrou Malherbe. “Maar ek dog dan julle kan nie…” begin Bessie, maar onthou dan dat Sylvie dit vir haar vertel het en sy seker nie veronderstel is om te weet nie. “Ons kon nie.” sê oom Wouter. ‘Dit is hoekom dit ’n wonderwerk is.”. “Dit is wonderlike nuus!” roep Bessie uit. Sy gee hulle elkeen ’n drukkie. “Dankie, Bessie.” sê oom Wouter. “Maar die eintlike rede hoekom ek jou laat kom het, wag in die kombuis.” sê juffrou Malherbe en begin kombuis toe loop. Bessie volg haar. Op die kombuistafel staan twee groot pragtige koeke. Een met wit sjokolade versier, die ander een bruin. “Jou verjaarsdagkoek.” sê juffrou Malherbe. Sy verjaar môre. Bessie het dit heeltemal vergeet.
Die telefoon lui en oom Wouter antwoord dit. “Dit is die koshuis.” sê hy toe hy klaar gepraat het. “Hulle soek vir Bessie, daar is ’n besoeker vir haar.”
“Wag, ek sny gou vir jou van die koek wat jy kan saamvat.” sê juffrou Malherbe. Sy sit vir Bessie twee groot snye in ’n bakkie. Bessie groet hulle haastig en met die bakkie onder haar arm draf sy terug koshuis toe.
Sy is so bly vir juffrou Malherbe en haar man. Hulle verdien regtig so ’n wonderwerk. Bessie wonder wie die besoeker kan wees. Sy ken tog niemand anders hier rond as die paar gesigte wat sy elke dag sien nie. Sy kom uitasem by die koshuis aan en gaan reguit na die sitkamer toe waar hulle besoekers mag ontvang.
Bessie laat val die bakkie met die koek. Daar staan hy! Die man met dieselfde bruin oë as sy. “Hallo Elizabeth.” groet hy haar. Die laatmiddagson loer deur die venster en maak goue stukkies in sy blonde hare. “Ha…hallo.” stammel Bessie. Hy stap na haar toe en buk om die bakkie wat geval het op te tel. Hy hou dit na haar toe uit. “Dankie.” sê Bessie sag. Die deksel het gelukkig nie oopgegaan nie, maar die versiersel en die koek is nou deurmekaar in die klein bakkie. “Kom.” sê hy en vat haar aan die arm. “Kom sit hier, dat ons kan gesels.”
Bessie gaan sit oorkant hom. Hy kyk na haar. “Weet jy wie ek is?” vra hy en Bessie knik. “Wat maak jy hier?” vra Bessie en sy wens dadelik sy kan haar tong afbyt. Dit het so onbeskof geklink. “Ek het jou kom haal, Bessie.” Bessie gaap hom aan. Hoor sy reg? “Familie hoort bymekaar.” sê die man. “Maar wat van jou ander familie?” vra Bessie skielik. “Watter familie?” wil hy kalm weet. “Jou vrou en kinders en …”
Hy frons. “Daar is nie ’n ander familie nie.” sê hy dan.
“Maar ek verstaan nie, hoekom nou? Hoekom wou jy my nie hê die dag toe my ma dood is nie? Hoekom wou jy nie eens met my praat die dag by haar begrafnis nie?” Bessie voel die trane brand in haar oë.
“Elizabeth, mag ek jou Elizabeth noem?” vra hy. Bessie gee nie eintlik om wat hy haar noem nie. Sy knik dom. “Elizabeth, my hele lewe draai om my werk. Ek het ’n paar besighede in die stad wat my pa my nagelaat het. Jou ma en ek…sy was die laaste vrou in my lewe, maar na ek uitgevind het dat sy my kind verwag, het sy my uit haar lewe verbied. Sy het geweier dat ek deel van julle lewens moet wees. Ek het oor en oor probeer, maar sy wou niks weet nie. Jou ma het wel ingestem dat ek vir jou opvoeding mag betaal, maar dit was dit. Toe ek hoor van haar dood, het dit my baie hard geruk. Ek het nie geweet wat om te doen nie. My optrede was verkeerd, ek weet en ek is jammer. Maar op daardie oomblik het ek nie geweet wat om te doen nie. Asseblief, sal jy my ooit kan vergewe?” pleit hy.
Bessie se hart krimp ineen. Haar pa sit voor haar. Die man wat haar eers nie wou hê nie, sit voor haar en hy vra vir haar vergifnis. Alles voel so onwerklik. “Ek wil graag hê dat jy by my moet kom bly. Ek wil graag my dogter beter leer ken. Ek het reeds een van die beste kunsskole in die stad gekontak. Hulle sal jou dadelik kan vat indien jy sou belang stel.”
“Hoe weet jy ek hou van kuns?” vra Bessie verstom.
Hy haal sy selfoon uit sy sak en soek na iets daarop. Dan wys hy vir Bessie ’n foto. Dit is sy! In die pienk rok voor haar skilderye. Dit is die foto wat die vrou met die skerp neus geneem het! Bessie frons. Die man glimlag. “My sekretaresse het dit geneem.” Bessie kyk na hom. “Bedoel jy dit regtig dat jy my wil hê?” vra sy. Hy knik. “Op my erewoord.” antwoord hy. Bessie kyk na die bakkie met die deurmekaar koek in haar hande. Hierdie is die beste verjaarsdag persent ooit!
4 Kommentare
-
Toom
Baie dankie! Besonders mooi!! Ek is bly dat jy dit tóg nogeens voltallig gebring het. Dis 'n goeie verhaal, goed geskryf -- die foutjies wat ek kon vind (ek het jawel gesóek!) is eerder tikfoute as swaar misdade teen die taal. En dit kan slegs iets goeds beteken. Veelversprekend. Groetnis fanToom
-
neels
Helena ek het jou storie end uit geniet. hoop daar kom nog baie van jou kant af
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Hierdie is 'n besonderse verhaal. Ek het heerlik gelees. Dankie dat jy die verhaal hier met ons almal gedeel het.