Hans du Plessis
Droogte drie en tagtig
mielies skuifel skraal skrompeltjies blaar
maer en ritsel teen die droë wind
skalter skewerig skuins en ongekop
op bruin gelit die dorte deur
die draaiwind dribbel uit ’n tregterpot
droë derms uit die dors uitlos
son speel speke teen ’n windpomp vas
as stofstrepe staan waar water was
en diep in die donker van ’n put
bid die son ’n skelm skerfie wit
ek loer flegmaties af
toe stort en staar my kop
uit die wiegende weinig op:
watertjie wikkel wanorde:
lug word water word son word stof:
en word ek ooit weer uitgeput:
dié swart gal gaan in my sinne sit:
iewers in hierdie jammerjaar
het ek nog kop verloor
en die laaste sap
word uit my leë lyf getap
Boegoe vannie liefde (Hans du Plessis) – 2002
Ek wil jou vir altyd neffens my hê,
hou my sos boegoe teen jou vas:
ek wil sosse ring om jou se vinger pas,
en sos grashout op jou se hart loop lê.
Die liefde het eentlikie dood se krag,
hy gryp jou wa jy niks verwag;
die liefde die soek okkie ytie,
vra nou nie wat jy self beslytie.
Die liefde brandsteek ‘n annerlike vier,
en jy kannie hele waterse kom stier,
of goi ma Grootrivier yt op hy se kop,
môre sien jy, hie statie liefde self wee op!
Voer my (Hans du Plessis) – 2002
Vrouense, voer vi my met resyne,
versterk my mettie veld se wille vrig,
ek raak flou van liefde innie dyne:
hy se regteram voel ek hie agter my rig,
ennie linkerarm oener my kop is ok syne.
Psalm 23
Die Jirre is my Skawagter wat my nou
innie dradewerke van Hy se proewe hou.
Hy sal my nooit verloor lat lê nie,
en al sal ek ok niks oor my hê nie,
al wei ek nou wyd warie wind begin:
Hy lei my na waterse tissenie dyne in;
Hy sit my siel in my lyf in trig;
Hy breek slang se hoepelrig!
U melk my beker vol wa ek loop lê.
In my land wa ek Baas moet sê,
maak opslagstrale van my tegeparty.
Ma ek en U, ons sal oenerrie doringse bly!
Die gebed van ‘n Griekwa Psalm 121
Ek slat my twee oge op.
My kyk vang die verste kop:
waavanaf sal my hulp nou kom?
My hulp is van die Jirre, van Hom.
Hy’t nou jimmel en Prieska gekom maak.
Sonner lat jou voete klipperse raak,
is Hy skoene agterrie skaap.
Hy dink nooit eers oor slaap.
Sontyd is Hy hoed op jou kop,
Innie nag hou Hy gevaarlikheid dop.
Hy’s mos nou da om jou op te pas.
Jou siel hou Hy tussen jou ribbes vas.
Gan jy nou in of gan jy nou yt.
Hy’s oor jou ewig en vir altyd.
-Hans du Plessis-
Eendag was da
Diep, diep in onse rooi Kalarie in
hettie kaptein ‘n lap grond gehet,
die’t hy nou geloop ytgevehier,
ennie mense het pebeer petaal
met maer oeste ytie jaartse
en aanteel ytie bietjie bok.
En da was ‘n kroonkiewiet
vanne meisiekjent ok,
en hy en sy se ma
ennie broer-goed
het saam met anners op
hierie dors dyneveld gesit.
Dissi son
Julle kamma dink ek isse bietjie bryn,
sos hierie niewe soorte matjiesgoedgordyn;
ma my broer-goed het aspris vi my
allenig oppie jaartse gelat agterbly,
toe’t ek half sleg agter my eige drywe gekyk
nou sien ek vedag eers wee hoelat ek lyk.
Ek is altemit ‘n bietjie bryn,
ma mooi sosse skemerdyn
My wingerd is myne
My wingerd die is nou net myne,
ma liefde mag van hierie drywe eet.
Die kaptein vat ytie oeste
vannie jaartse sy eie deel.
My wingerd die is nou net myne,
ma liefde mag van hierie drywe eet.
Gjee net bietjie vannie rent vi dies
wattie wingerd kleintyd geoppas het.
My wingerd die is nou net myne,
ma liefde mag van hierie drywe eet.
Niemand kan vi gjeld my wingerd kry,
hierie stikkietjie jaart behoort aan my.
My wingerd die is nou net myne,
ma liefde mag van hierie drywe eet.
Die boerse sê
Ons hette klein sistertjie,
wat noggie eers speentjiese hettie
ma wat maak ons nou met hom
assitie dag byrie trouvra kom?
As hy sosse skerm kan is,
sit ons gansogiese op hom,
ma gedraag hy hom sosse hek,
sal ons hom met dradewerk
heentemal toe moet gat trek.
Hoe heerlik, Heer,
hierdie brose dae
vol van vrede!
Hoe helder, Heer,
elke droë blaar wat
u Lewe bros verklaar!
Gegesel, gespot, geslaan,
Jesus Mens het opgestaan!
Honend as dood verklaar,
Jesus Redder het opgevaar.
Die Vader het Hom kom haal,
Jesus Gees het neergedaal!
Jesus die Christus is
ons heilige erfenis!
Hoe heerlik, Heer,
hierdie brose dae
vol van vrede!
Hoe helder, Heer,
elke droë blaar wat
u Lewe bros verklaar!
BREEKWATER
(Met apologie aan Alfred, Lord Tennyson)
Breek, breek, breek, my see,
oor die kil klip van my kus!
Ag, as ek tog net kon sê
wat hier binne in my is!
Hoe soet speel die Kruis se kind
met sy sussie op die warm sand.
Op die platrots wuif die vissermanpa
vir sy oogappels op die strand.
Diepsee dreun ʼn tjokkaboot
na haar veilige hawe voort
toe die fratsgolf skuimend slaan
daar waar die pa so pas nog staan!
Twee kinders wat met stok en katrol
huilend en alleen moet huis toe hol!
Breek, breek, breek, my see,
branders teen rustelose rots!
Die silwer dag gaan dood
en keer nooit weer terug!
©hans du plessis
SOMERSEE
Kyk, die skemerson speel
nuanses van rooi en geel,
en val eers weer later
ʼn ryp lemoen in
God se goue water.
BRANDER
Voor my bars branders
uniek en altyd anders:
Ek verstaan eers later
my God leef groot
in elke druppel water.
©hans du plessis