Peter Blum
Ou Groentesmous
Die stad word altyd nuut, ‘n mens word ouer
en word ‘n vreemdeling in jou eie wyk
wat om jou groei. Terwyl jy staan en kyk
word jou huis donkerder, jou straatjie nouer.
Jou gasag oor jou kinners word ook flouer:
Hulle wat eers skaars jou knieë kon bereik
staan netnou hard teenoor jou, en gelyk,
en netnou-netnou raas hul bo jou skouer.
Ons karretsjies word ook ammel ingehaal:
Daa’s Abels – hy beef nou op die Laaste Skaal …
en Fransman – hy ry voor ‘n stoet sy laaste trippie.
Lyk my net Tafelberg bly wat hy was,
so’t ek hom kan herken. Ja, Mies, hy skop vas
teen die wind en die weer. Hy’s ‘n goeie ou klippie.
OPWEKKINGSPREEK
Ja, hulle’t ook so ‘n building-boom belewe –
met flets, basaars, banke en groot kantore.
Dit het nooit gareent nie, en op elke more
kon jy katrolle hoor gil, planke sien bewe,
van douvoordag tot skiemerang om halfsewe.
“Ek issie voorman hier op Babilons Tore
– opskud, kjêrels, en trap in julle spore,
of julle word innie pad gasteek.” Hulle strewe
om die bou te voltooi met dubbele drif;
maar toe hulle aankom oppieselle vlak
as die Ou Mutual se torangdak
kon skielak niemand Afrikaans verstaan,
en toe die een ou sê, “Sjee my die sif”,
gee sy maat hom ‘n emmer water aan.
DIE ROMEINSE GRENSPROVINSIES
(1) BRITTANNIA:
Ons fort was nog altyd die ontwerp
van ‘n ryk wat aan wildheid sy limiete gee;
maar hulle hou drifte en byle skerp,
en wag net totdat ons ‘n oomblik skietgee
(2) GERMANIA INFERIOR:
Hulle het hier feitlik wortel geskiet
as windskerm in die stormhoek van die ryk:
duskant en oorkant modder, sand en riet
tot albei oewers ewe huislik lyk.
(3) AGRI DECUMATES:
Hoe kon hul dit verstaan, die veterane –
opgelei om die barbare te bestry?
Besluit? In Rome? Dat die bos-Germane
kragtens verdrag dié landstreek nou kan kry?
(4) NORICUM:
Keiser, krygsman en stoïsyn,
beoefenaar van alle deugde,
waak hy teen wie die Ryk wil ondermyn –
sonder die minste lewensvreugde
(5) PANNONIA:
Stuur my versterkings! Stuur ‘n battaljon!
‘n Vroeë winter – ons linies in die gedrang!
Maar onder Italië se prikkelende son
is ‘n burgeroorlog in volle gang.
(6) MOESIA:
Sommer ‘n japie – hunker na die hoewe,
gesaaides, stamgenote, en sy vrou:
hy moet die dood leer saai, maats maak met boewe,
en met ‘n swyende, kille arend trou.
(7) CAPPADOCIA-ARMENIA MINOR:
Die blaasmusiek is vals, die bergpas steil:
soos verdwaaldes marsjeer die legioen.
Waar is triomf en tuiste? Elkeen kwyl
en hy dink aan die kampvuur en sy rantsoen.
(8) SYRIA-COMMAGENE:
Saans kom die barbarevroue na die fort af
met swaaiende heupe en vleiende stembuiging:
Die soldate weier, pligbewus en kortaf,
en praat van Rome – sonder veel oortuiging.
(9) ARABIA PETRAEA:
Dagtaak en dissipline, ‘n rantsoentjie wyn,
was religie, en twyfel was verbode:
Nou sien hulle nagteliks offervure skyn,
en voel ‘n hunkering na nuwe gode.
Nuus uit die binneland
Soms in die winter as die reën sag stuif
op grasperke, dig en diep soos ‘n tapyt –
As hy die rotsige bergreeks wegskuif
agter ‘n misgordyn – as voor die ruit
popliere, eike en kastaiingbome
saamvloei, en ons versink in blaargroen drome
terwyl ons oor ‘n ou beskawing lees –
dan gryp die onwerklikheid ons met die loop
van waters wat kalmeer; en in die gees
vou grys en sat die graafskap Surrey oop.
Soms in ‘n najaarsdag se skemerty
stap ons in ‘n stil straatjie en gewaar
deur ‘n ou bolig, kunstig uitgesny
in vlegtende patroon van druif en blaar,
die lig van verre dae: Ons word gesluk
soos deur ‘n mond; die luiterse getik
van ‘n ou horlosie vervang ons ontstoke
harte se ritme in die kamerhoek,
en ons gestaltes kwyn tot stywe spoke
in die vernislaag van ‘n Delftse doek.
Maar as die bergwind so rukkerig waai
en tussen ons rondkrap soos ‘n stok
in ‘n miershoop – in die palms blaai
nes ‘n barbaar in ‘n keurige boek –
dan is ons rillend buite alle mure
wat ons opstapel in redelike ure
met doel en plan –
ruik ons droogte en brand, en gerug
van sprinkaan, aardbewing en oproer
op daardie skroeiende binnelandse lug
– dan, dan
weet ons op watter vasteland ons boer.
Die miljenêr se kombuis
‘n Pellie van my, wa da’ wêk as kok,
het my vandag laat inloer innie huis
vannie ou miljenêr,sy baas. Kombuis?
Jy sou gasê het dis die Duncan-dok!
Tsaaina en messegoed tot anie nok,
Fridzidêrs volgaprop met piekfyn vleis,
Eiers,vrugta en groentes van ‘n soort bok!
Toe sê hy, “Ennie kjeller’s die ena kroeg –
Whisky en brannewyn ,dzien en muskedil.”
Toe sê ek , Wragtie , diè baas is gaseën!
Ga’ hy nou patie skop? Daa’s oorganoeg
Om twintag ouens ‘n week lank te laat smul.
“Nei” , sê hy ,”die baas eet altyd alleen.”
Man wat mal word
Onbepeilboor die dag, maar die bewoespyn dààr
dat al-lis beslote is en slags ék oop
vir enige skerf nael, skermloos teen die oog
wat drin die werwel noulet, fynynig vaam
tort in die klier. War-om? Alluin ‘n kwik haat
het heerdie verstrooide pynpuin in kontrole
nog somgehou. Waarvuur? Maar tussen gus knook
en wrig het die entwoord in duisdelike taal
eindelig hoopgebron: Wie só uitgedeel
aan die al is, het die al in hom begryp –
en dít is liefde: kan dus in die greep
van één drong woord kraal wat alle enkelheid
ophef, mág met kloktong die warreld vry, móét preek
wat voldoen om juble te vrymaak: WOKNAKWYF!
Die ou bokser
Wat word van boksers wanneer hulle oud word?
Geleidelik verdor ook die lourier,
verslap die forse houding, spog en swier,
terwyl die geesdrif van die skare koud word.
In kroeë proe hy soms nog die ou roem,
of as ‘n sportliefhebber hom herken
en hom help onthou hoedat hy eens gewen
en weer gewen het. Dít nou sy doem –
om alles heerlìks agter hom te weet:
die vrouens wat glibberig oor hom geraak het,
dawerende applous waarin hy trots geblaak het,
omkrans met kalklig, skreeue, lof en sweet.
Net in gimnasiums het hy nog ‘n tuiste
waar die jongeres gretig sy wenke afkyk,
onbekommerd na sy trofeë reik
met ongeskonde koppe en vars vuiste.
En wat bly oor? Herinnerings wat verflou,
‘n bankbalans wat krimp, ‘n dowwe beker,
‘n suwwc brein en swaar gestel, jaarliks weker
– net geel koerantknipsels bly nog getrou.
Verbanne koning, Simson werkgeboë,
droom jy van ‘n terugkeer na ou glorie?
Dít gebeur net in die Bybel of historie:
Verniet vonk soms ‘n felheid in jou oë.
Gaan lê, ou bul, jóu tyd is nou verstreke,
jou harsings is geskud, jou spiere pap.
Voel jy die jeug se opmars oor jou trap?
Vir hulle hou die noodlot nog sy steke.
Gaan lê, maar waak teen selfbejammering:
ofskoon kortstondig, het jy tog gesmaak
waarna hulle almal dors. Dít was jou taak –
dié plaasvervangende regverdiging
van hulle wat kragteloos na die groot luister
tas – ag, net één keer! – en tog telkens faal,
terugsink — elke doelwit onbehaal –
en naamloos voortgesleur word in die duister.
Voltaire op Ferney
Al die elemente van ‘n goeie lewe
is hier binne die perke van my landgoed;
net die populiere wat gevoelig bewe,
wys aan hoe Tramontaan en Sirokko woed.
Die grond is vrugbaar, sal my en myne voed,
stilte ons brein bemes, terwyl bedrewe
tuiniers die boksbome snoei, en ek ook strewe
om my hawe teen wanorde te behoed.
Wie orden en dink, boer altyd tussen twee ryke,
dus asem ek vry in hierdie grenslandlug
half buite ‘n Frankryk, groot in wanpraktyke,
wat op my denke, ek op sy lafheid stuit,
terwyl elke nag Genève, klein en stug,
sy poorte teen my soos teen die duiwel stuit.