Jongste aktiwiteit:

Mys die Muis, koning van die diere
vir

Mys die Muis, koning van die diere

Mys die Muis, die dapperste muis in die hele Vrystaat, daag eendag by koning Leeu se lệ-plek op en bekyk ou Leeu op en af waar hy lekker onder die boom lê en snork. Die meeste diere is effens bang vir Leeu en hulle hou hom die hele tyd dop waar hy slaap. “Moenie bang wees nie,” sê Mys vir die ander diere, “ek wed julle ek kan op Leeu se stert spoeg en dat hy niks daaraan sal doen nie.”

Versigtig trek Mys die Muis aan een van Leeu se swart snorbaarde. “Word wakker, koning Leeu,” sê Mys onnutsig, “ek wil jou iets wys.”

Vies maak Leeu een van sy oë oop en loer vererg na Mys die Muis. “Wat wil jy hê, man? Kan jy nie sien ek slaap nie?”

Mys die Muis is al ‘n bietjie oud, maar nog nie koud nie en is daarby ‘n baie slim muis.

“Sê my Leeu, is jy regtig koning van die diere?”

“Miskien,” sug Leeu verveeld en maak sy een oog toe.

“Maar Leeu,” trek Mys die Muis Leeu se siel uit, “jy vertel dan vir al die diere in die Vrystaat dat jy die koning van die diere is. En daarom gaan ek, Mys die Muis, vir jou ‘n dure les te leer.”

‘Hmmm…” snork Leeu wantrouig, “daarvoor is jy te lig in die broek. Jy is net ‘n muis. En jy is nog lelik daarby.”

“Leeu,” sê Mys onnutsig, “ek wed jou tien duisend rand dat ek my eie oog kan byt.”

Leeu sit ewe skielik kiertsregop, baie nuuskierig. “Mys, jy moenie met my kom nonsens praat nie! Niemand in die wêreld kan sy eie oog byt nie. Ek vryf sommer jou ore warm as jy so jok, wat nog van jou tienduisend rand gee.”

“O ja, ek kan my eie oog by,’ sê Mys die Muis heldhaftig. “Hou my net dop.”

Stadig en versigtig haal Mys die Muis sy glasoog uit sy oogkas en gee hom ‘n allemintige byt.

Leeu skrik homself heeltemal wakker. “Mys,” sê Leeu, “jy kierang en kul mos nou! Jy het nie vir my vertel dat jy ‘n glasoog het nie!”

Mys die Muis lag te lekker terwyl hy sy glasoog terugsit in sy oogkassie. “Leeu, jy skuld my tien duisend rand. En ek wed jou nog tien duisend rand dat ek my ander oog ook kan byt.”

Leeu is dom, maar nie sò dom nie. Hy weet Mys die Muis is nie blind nie en dat hy sekerlik net een glasoog het. En hy kan nie twee keer dieselfde oog byt nie. “Reg so,” sê Leeu. “As jy dit nie kan regkry nie, dan geen jy my tien duisend rand terug en ek eet jou sommer op. Reg so?”

“Ja,” sê Mys, “maar as ek dit regkry skuld jy my twintig duisend rand.”

Stadig en versigtig haal Mys die Muis sy valstande uit sy mond. Al die diere van die bos se oë word so groot soos pierings. Mys gryp sy valstande met sy poot en gee sy ander oog ‘n allemintige byt.

Leeu se bek vol tande hang oop van verbasing. “Ha-ha,” lag Mys en hy sit sy vals tande terug is sy mond. “Nou skuld my jy twintig duisend rand Leeu!”

Leeu is baie mismoedig. Waar moet hy nou twintig duisend rand vandaan kry om Mys die Muis te betaal? Mys die Muis lag te lekker vir Leeu se penarie en besluit om hom nog ‘n streep te trek.

“Leeu, nou gaan ek jou ‘n kans om jou twintig duisend rand terug te wen.”

“Goed,” sê Leeu effens mismoedig, “ek sal enigiets doen.”

“Kyk Leeu,” sê Mys die Muis en hy wys na ‘n groot ou vyeboom wat oorkant die rivier staan. “Sien jy die boom wat daar anderkant die goot rivier staan?”

“Ja, ek sien hom.”

“Ek wed jou ek kan tot by daardie boom spoeg!”

Leeu kyk na die groot ou vyeboom oorkant die rivier. Daar is geen manier dat Mys die Muis so vêr kan spoeg nie, al staan hy ook op ‘n boomstomp met sy stert in die lug. Die rivier is baie breed en wyd en die boom staan maklik twee honderd meter weg.

“Wat!” sê Leeu. “Daar is geen manier dat jy oor die rivier kan spoeg nie. Mys, daardie boom is gans te vêr.”

“Ek dink ek kan, Leeu,” sê Mys vol selfvertroue.

“Goed, die weddenskap is aan. As jy twee honderd meter oor die rivier tot by die vyeboom kan spoeg, dan gee ek jou nog twintig duisend rand! Dis sommer veertig duisend rand altesame.”

“Reg,” beduie Mys die Muis vir Leeu en al die ander diere van die bos, wat nuuskierig nader staan om te sien wat gaan gebeur. “Staan terug! As as ek mis spoeg, dan hou ek my twintig duisend rand, maar ek gee jou ander twintig duisend rand terug.”

“Reg so, grom Leeu wat nog nooit juis in Wiskunde uitgeblink het nie. Hy is doodseker dat Muis nie oor die rivier kan spoeg nie.

Mys die Muis gaan staan reg agter Leeu en trek sy longe diep vol Vrystaatse suurstof. Hy wikkel sy stert ‘n paar keer en spoeg vir al wat hy werd is. Die spoeg trek met so ‘n boog en land op Leeu hier langs hom se stert.

“Ha! Dis mis! Sien jy!” brul Leeu uitbundig. “Ek het jou gesê jy kan nie twee honderd meter vêr spoeg nie!”

“Nee, jy is seker reg, Koning Leeu,” sê Mys die Muis bietjie mismoedig. “Nou skuld jy my net twintig duisend rand, ons is nou kiets.”

Leeu brul ‘n paar keer belangrik vir die diere in die gehoor en maak hom reg om weer in die sonnetjie te gaan slaap. Al die diere van die bos kyk na Leeu met Mys se spoeg op sy stert en giggel skelm sodat Leeu hulle nie raaksien nie. Leeu gaan slaap lekker en kom niks agter nie – hy is salig onbewus dat Mys op sy stert gespoeg het.

Net anderkant die boom gaan sit Mys die Muis lekker op sy blaker en lag uit sy magie uit.

“Sien julle,” sê Mys aan die res van die diere wat lekker saam skaterlag. “Ek het vir julle gesê ek kan op Leeu se stert spoeg en dat hy niks daaraan sal doen nie.”

Van toe af is Mys die Muis baie gewild onder die diere van die bos. Elke keer as Leeu grom en brom en brul en maak asof hy die Koning van die Diere is, lag al die diere vir hom en vertel weer die storie van die dag toe Mys die Muis op Leeu se stert gespoeg het.

Van daardie dag af is Mys die Muis koning van al die diere in die Vrystaat.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed