Die bloudruk bevry (silwer)
Die bloudruk bevry
Hulle dink hulle is vry*
waar hul die bloudruk vermy
en boblinkbou**
bloot deur eie impulse gelei.
Hulle dink hulle is vry
waar hul grense oorskrei
sonder reëls wat hul verantwoordbaar hou
en gerieflik so alle gevolge vermy.
Ek bepleit vir my kinders vryheidsbande wat bind
sodat hul vasgeanker hul voete kan vind
en vreesloos vrylik kan leer om te leef
– nie as dwaaldrifsels*** sweef op elke nuwe wind.
Binne ‘n bloudruk met grense en bande wat lei
beleef hul tot beswil: “Hulle is vry!”
©ASvdMerwe
* reël uit Laurika Rauch se lied “Bloubergstrand”, woorde en musiek Udo Jürgens/Thomas Christen/Christopher Torr
** boblinkbou: n.a.v. bo blink, onder stink. Eindpoging vertoon dalk mooi maar ontbreek aan waarde.
*** dwaaldrifsels: sonder doel dwaal jy rond nes opdrifsels voortgesleep en uitgespoel word
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2023 BLOU projek