Die gejaag na wind
Die gejaag na Wind
Ek staan die week in ‘n kerk tydens ‘n begranisdiens. Die prediker noem op ‘n stadium in die baie kort boodskap dat die persoon eintlik nie gesterf het nie, maar net oorgegaan het na ‘n ander lewe,’n oneindigende lewe, ‘n ander tyd met ander reëls. En ek weet dit is waar. Ons sien mekaar dalk nie meer in hierdie aardse tyd nie, nie nou nie, maar weer eendag as ek ook daardie nuwe lewe ingegaan het. En dit het my aan die dink gesit. Tyd. Wat is tyd werklik? As ons tyd meet aan ons lewe op aarde, is dit kort, baie kort. Party babas word dood gebore of sterf binne maande. ‘n Bitter kort tyd. Die dame by wie se begrafnis ek was, was 88,’n lang en vol lewe, maar ook maar kort in terme van ‘n ewigheid. As ek myself op die skaal moet plaas tussen hierdie twee ouderdomme, is bykans by 3/4 van my lewe verby. Maar tyd verskil op almal se kalender. Miskien is ek een wat by daardie 88 jaar verbygaan, miskien nie. My seun se tyd was 29 jaar, my vrou se tyd 62. Jare gelede verloor ek my broer op 47. En so verskil elkeen se tydlyn. Die hardste werklikheid daarvan is dat niemand weet waar sy tydlyn eindig nie.
Juis daarom is tyd een van die kosbaarste besittings wat mens ooit kan hê. Daardie pakkie dae, weke, maande, jare aan my uitgedeel met my geboorte. In daardie pakkie lê daar opgesluit geleenthede, uitdagings, pogings, mislukkings, ‘n begin en ‘n einde. Sommige gebruik hulle pakkie tyd vrugbaar, ander mors dit. Ons deel ons tyd met ander, ons gebruik ons tyd om dinge bymekaar te maak, om dinge aan te leer, om te ontgin. En die hele tyd tik ons tydklok, ons uurglas. Iewers eendag, gaan my uurglas leegloop, gaan iemand ook by my begrafnis wees. Dit wat ek in my kort lewe vermag het, bymekaargemaak het, aangegryp het en hulle wat ek aangeraak het, gaan met tyd vervaag. Vir my kleinkinders se kleinkinders is ek dalk net ‘n naam op ‘n geneologielys, of iewers op ‘n grafsteen. Of dalk word ek onthou op ‘n straatnaam, of as ‘n besigheidsnaam. Dalk raak ek heeltemal in die vergetenheid. Tereg het die prediker gesê die lewe, die tyd op aarde, is maar net ‘n gejaag na wind.
Inderdaad ‘n gejaag na wind as ons so na tyd kyk. Want dit wat ek vandag bou, breek iemand môre af, die skatte wat ek bymekaargemaak het, word môre deur ander opgebruik. En die einde van my tyd, word dalk ander se begin.
So was dit ook met baanbrekers in Afrikaans. Pannevis, Hoogenhout en Reitz, om maar net ‘n paar te noem. Vandag name wat vir die jonger geslag niksseggend is, maar tog het ons ons taal aan hulle te danke.
Maar helaas, daar is ‘n ander tyd op ‘n ander plek met ander kritera. Tyd wat ewig is, waar niemand oud word en sterf nie.’n Plek waar een dag en duisend jaar dieselfde is. ‘n Tyd en plek waar almal almal sal ken en waar ouderdom geen rol speel nie. ‘n Tyd en ‘n plek waar almal ewe belangrik is, waar liefde volmaak en ewigdurend sal wees. ‘n Tyd van volmaakte vrede, voorspoed en geluk.
Ek dink ek leef in die verkeerde tyd.
©️Henn
(Brons)
1 Kommentaar
Lewer Kommentaar
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek