Die goud en silwer van spyt
Gisteraand, nadat die die Sondagaandfliek op die betaalkanaal gedraai het, het ek sommerso op die sosiale blad gaan rondblaai. Dit was egter nie vir baie lank nie, want amper met die oopmaakslag het die hartskuddende en gedagtewekkende bekentenis van ’n kennis se emosionele wankelrit ná sy vader se dood die vorige dag, my genoeg rede gegee om my oë eerder te sluit …
Die blom in my lewe het gisteroggend ’n klomp kiekies van haar pa se sondeurdrenkte vrolike tuin en selfs sy netjiese motorhuis geneem; moontlik omdat die reuke en kleure en plekke haar weer net so tuis en veilig lekker warm laat voel soos toe sy soggens daar wakker geword het, of moontlik omdat dit ’n gesig is wat sy heimlik nie sal wíl vergeet nie, wat sy sal wil onthou lank nadat die blomme vergaan en die motorhuis leeggemaak is …
Die middeljarige dame wat saam met my werk roep my vanoggend om op haar rekenaarskerm iets te kom kyk – haar moeder se vyf-en-tagtigste verjaarsdag. In die videogreep sit ’n ou vroutjie op ’n stoeltjie voor in ’n kerkgebou baie ver van hier en vreemde mense sing vir haar tranetrekliedere, maar ook “Happy Birthday” om geluk te wens.
Haar moeder het hierdie verjaarsdag sonder die meeste van haar kinders en gesin gevier.
Sy wil nog een van die dae vir haar moeder gaan kuier …”Ons moet net ’n plan maak.”
In die kronkelende agterpad tussen Bellville en Durbanville met sy ou akkerbome, wingerd en volksvreemde bloekoms lê daar seker so om-en-by dertig jaar van my herinneringe. Ek onthou hoe ek met my eerste karretjies deur die draaie geblits het en wanneer ek alleen in die kar was, dit elke keer vinniger wou doen. Ek onthou hoe ek saans vaak-vaak van my meisietjie se ouerhuis met die mooi tuin huis toe moes kruie en hoe ek vir die einste bruid varklelies op Tannie Parker se plaas gaan pluk het. Maar dit verander nou.
Die dorp het ’n stad geword en die bome moet plek maak vir ’n nuwe breë pad want die karre is meer as die teer en wat eens was, is môre nie meer nie.
En die pad en die blomme en die dood praat met my oor spyt.
Iemand sê die ander dag dat die woord “spyt” ‘n ongelooflike belaaide woord is, wat glad nie deel van ons woordeskat behoort te wees nie, want dit steel ons energie. “Dit steel ons energie in die feit dat dit nie realisties is nie. Om spyt te wees oor iets verander absoluut niks aan jou situasie nie, inteendeel dit trek jou net meer en meer in ‘n rigting van negatiwiteit.”
As jy die woord spyt gebruik, maak jy ook daarmee ‘n hele ander klomp blikkies met wurms oop. Aan die een kant dink mense dat spyt jou op die een of ander manier verskoon van die feit dat dit jou besluit was. Beslis is jou lewe vol keuses, maar dit was jou keuse en niemand het jou gedwing om dit te doen nie. Hierdie bewussyn van verantwoordelikheid is belangrik, want dit plaas jou in ‘n posisie om aan te beweeg met jou lewe, en nie te krepeer en elke dag jou jammer te kry nie.
“Alhoewel dit natuurlik jou besluit was, is dit net eenvoudig hoe die lewe werk, jy het nie ‘n kristalbal om presies te weet wat die regte ding is om te doen nie, so aan daardie kant moet jy jouself ook vrystel van die blaam van jou besluit.”
Vir my is daar egter ’n anderkant aan hierdie noot …
Miskien is spyt wees juis die hoop om tog reg te eindig in die lewe, met die regte spyt; as ek nie spyt is nie, sou ek moontlik die goeie van my jeug en gister en soms vandag vergeet het en kon ek slegs in my geheue myself oor my spytighede aanspreek.
Spyt is daarom soos goud en silwer wat in my siel saamgedra word, ja, selfs tot by die lewe anderkant die dood; spyt is dit waarvoor ek om vergifnis pleit; spyt word gelouter in die vuur van my gewete en in my doen en late.
“Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan.”
Daniël 12:10
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Kiekies
'n Hele nuwe betekenis vir spyt. Sagter en meer vergewensgesind. Iets waaruit daar tog 'n les geleer kan word om vorentoe in besluitneming te gebruik. waardevolle skryfsel hierdie!