Jongste aktiwiteit:

Dit kon ek of jy gewees het

Op die openingsblad van ’n video greep op die sosiale netwerk waar ek soms rondblaai, lê daar iets in die palm van ‘n man se hand wat net soos ‘n bok se ingewande lyk.
Ek druk die “speel” merkie op die skerm en skielik is die beeld duidelik en met die kamera se naderskoot wriemel daar ‘n ding wat soos ’n ontsnapte ruimtewesentjie uit ’n fliek soos “Starwars” of “E T” of so iets lyk.

Tussen die dermagtige goeters in die man se hand, lê die buite-verhouding groot vlesige kop en te midde van bewegings wat soos ’n skop-aksie lyk, ruk die bitter klein amper ontwikkelde lyfie en besef ek dat dit die fetus van ’n mensie is; ‘n opskrif rol op die skerm onder die hand van die dood verby…. “Sowat die helfte van alle swangerskappe in Suid-Afrika eindig in aborsie.”

Die geheue van hierdie gesig wou my nie met rus laat nie. Ek sien die bloedrooi massa en die pienk dingetjie wat eens ‘n mens kon wees wat sterwend tot stilte ruk.

Die fetus se ontstaan is nege-uit-tien keer die gevolg van ’n forniekerende plesier maar tog, is sy toekoms ’n ewigheid verwyder van die asem, die lewe, geluk en trane wat hy of sy dalk kon gehad het, en alhoewel hierdie een fetus nou oornag vir ’n oomblik ’n internet sosiale superster met flitsende woorde en boodskappe wat skok geword het, is sy voorland dieselfde soos ’n hand vol ander “bok ingewande” wat spoedig die binnekant van asdrom of drein sal sien!

Gister deel ek hierdie menswees kommer en die werklikheid van hierdie gebeure met iemand anders en as hulle dit nie met dieselfde angs en hartseer ervaar nie, dan is dit bloot omdat min van ons goeie landsburgers tot op hede die misplaaste “voorreg” gehad het om die vaal afval, wat uit ‘n verstopte drein erens in Voortrekkerweg, Goodwood gegrawe word, te herken as tientalle fetusse, met watookal daarmeesaam, wat deur hul baarmoederplunderaars in ’n winkel se toilet weggespoel was.
Dit kon net sowel ek of jy in daardie drein gewees het…

Weens die kronkelpadpaaie wat ek ook al gestap en gery het en die skone onkunde oor elke meisiemens se rede en drang om die besluit te neem wat die fetus in haar buik losruk van die baarmoederwand en haar liggaam seermaak en haar wese vermink, mag ek nie oordeel wie is reg en wie is sondaar nie. Maar, ek mag wel dagdink oor hoe dit sou wees indien my geliefde hierdeur moes gaan; indien ons twee seuns as net nog ’n vlesige hopie afval in ’n bedpan moes opeindig…

Op die lamppale en kragbokse in ons minder gegoede dele van die dorp plak die verskaffers van plesier en kuur hul plakkers skuins en skeef oor mekaar. “Penis enlargements…call dr….” , “safe and clean abortions… call “, “Rooms to Let for hour…” ensovoort en so meer. Jy kan amper sê die dienaars van die vlees en die dienaars van die dier kuier hier gesellig saam om dieselfde vuur!

Laat my dan sommer nog ’n mite die nek omdraai vanmiddag: die sogenaamde minder gegoede dele van die dorp is lankal nie meer in die besitreg van salaristrekkers met eenvoudige dagtake of pensioentrekkers met karige Spoorweggeldjies nie, nee, dit is meestal in die hande van die misdaadvarke.

Die buitelandse sindikate wat kerke bedags open en bedryf, maar snags die vuil geld van dwelmverkopers op straat en hoere met siektes bymekaarmaak, voordat hulle hierdie dele van die dorp agter in hul swartglaskarre verlaat.
Hul huurhuise is bordele en tikfabrieke en hul nalatenskap is sakke vol vrot vullis, lewende menslike oorskot en strate vol stukkende gesinne.

Elke mens wat gereeld die sosiale netwerke van ons tyd deurblaai, ongeag van sy of haar geloof, taal of geur, sal deur die hand met die buiteruimtelike wesentjie of eerder die aborsie-oorskot geraak word en sommige, soos die uwe, sal sukkel om die beeld behoorlik te verwerk en te vergeet – moontlik ook omdat ek nie biologie as skoolvak gehad het nie – maar tog, nie een van ons redelike opgevoede verantwoordelike burgers sal die bloederige hand as ‘n sakegeleentheid wil raaksien nie!

Dit is waar die verskil en die aanslag lê: ons, ek en jy en jou buurman en oom of tannie, het toegelaat dat ons samelewing eenvoudig agteruitgaan. Ons het huise gebou en gekoop alhoe vêrder weg van die sogenaamde “probleemgebiede”, want ons is mos gekersten met die oortuiging van “wat ek nie sien nie, sal my nie pla nie!”

Ons lewe net vir ons gesin, miskien sommige van die familie en ’n vriend of twee uit die omgeegroep of die gemeente se dinge; ons vul lysies met bestandele vir basare in en gee ou klere vir tuinwerkers en haweloses, maar ons doen niks aan die vrotbuurte wat in ons oud-sakekerns dan en nag groei nie. Dis hier, onder in die appelkrat waar die vrottes toegelaat word om hul vretende verterende wurms stadige maar seker vet te voer; reg om varsser “appels” te gaan soek, reg om dalk jou of my nageslag erens in ‘n toilet weg te spoel!

“Sowat die helfte van alle swangerskappe in Suid-Afrika eindig in aborsie… dit kon net sowel ek of jy in ‘n drein gewees het…”




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed