Die man met die ligblou oe – Deel 3
Die man met die ligblou oë – deel 3
Oppad teug na sy woonstel maak Daniel die koevert oop. Daar is ‘n enkele handgeskrewe nota in. “B398 lughawe 02h00 vannaand. Wagwoord is BWANA MKUBWA. Bring die goedere na 332 Parkstraat, goederestoor 7 teen 04h00”. Daar is ook ‘n dowwe foto van Susan in die sitkamer van die geheime woonstel met ‘n datumkode van die vorige dag daarop. Daniel lees weer die instruksies en bel die Kolonel. Sonder om te groet lees Daniel vir hom die instruksies voor. “Ek betaal met diamante, hulle hou die woonstel dop” voeg hy by en wag dat sy hoof die nodige besluite neem. “Regso” antwoord die Kolonel na ‘n paar sekondes. “Ons sal in posisie wees, doen die ruil en sorg dat jy wegkom na die afsetpunt. Jy sal gekontak word gedurende die transit, ek sal agent De Kok op hoogte bring en vir haar ook versterkings stuur. Veilige rit Daniel” en hiermee gaan die lyn dood.
Daniel ry tot by die lughawe en parkeer in die parkeergarage naby die ingang. Hy stap na die naaste verhuuringsmaatskappy en huur ‘n klein sedanmotortjie. Hiermee ry hy by die hoof ingang uit en draai by die ingang na die lugvrag afdeling in. Hy skakel die motor se ligte af en parkeer aan die einde van die gebou in ‘n donker skaduwee. Versigtig glip hy uit en stap na die eerste groot pakhuisdeur. Hy hou in die skaduwees en donker hoekies, sy ore oop vir enige ongewone klanke. Dis nou eers middernag en hy wil goed seker maak hoe dinge inmekaar steek voor die bepaalde tyd. Die eerste pakhuis is nommer B391. Nog sewe om te gaan, dink hy by homself en stap vinniger.
By pakhuis B398 se deur skyn lig uit, die deur is effens oop, net wyd genoeg vir ‘n man om deur te glip. Daniel staan aan die oorkant van die parkeerarea. Vanuit die skaduwee waar hy staan kan hy tot in die pakhuis sien, sonder om gesien te word. Daar is beweging en Daniel sien ‘n trok met hout kratte agterop. Hy sien ook ‘n paar mense in militêre uniform, met AK47 aanvalswapens en hy is seker daar is nog ‘n paar op die dak en ander plekke versteek. Stil en onopsigtelik keer hy terug na die motor. Hier skakel hy weer die Kolonel, wat dadelik antwoord. “Een trok, hout kratte, in alle waarskynlikheid wapens. Ag tot tien manne op die grond, AK47’s en handwapens. Ek is seker daar is ook ten minste vier of vyf skerpskutters op plekke versteek. Hulle verwag beslis iets.” lig Daniel hom vinnig in. “Regso” andwoord die Kolonel kortaf. “Ons stuur vlieë in met hitte sensors, sal gou sien waar hulle wegkruip. Maak jy net seker jy kom so vinnag as moontlik daar uit, voor die vuurwerke begin”. “Maak so” antwoord Daniel en druk die foon dood. Hy kyk na sy horlosie, dit is 01h55, amper tyd om te gaan. Vinnig gaan Daniel sy 9mm asook die .22 aan sy enkel na. Hy voel die lang voumes in sy sak en draai die sleutel. Die motortjie reageer dadelik en Daniel ry stadig in die rigting van pakhuis B398.
***
In die woonstel maak susan ‘n beker koffie. Sy kan nie slaap nie en sy het ook geen lus aan televisie of ‘n fliek nie. Sy sit op die bank in die donker sitkamertjie en wonder waar Daniel is, wat hy doen, wat die lang man met die hoed vir hom gesê het en hoekom hulle so vinnig moes padgee. Sy kyk op haar polshorlosie, dis 02h00 in die oggend. Met ‘n swaar sug lê sy terug teen die kussings en maak haar oë toe. Eintlik is sy moeg en sy voel hoe haar liggaam stadig ontspan en sy wegsink in slaap. Dan skrik sy wakker, iets het haar wakker gemaak, sy staan vinnig op, kyk na die kombuis en stap dan stil na die slaapkamer. By die badkamerdeur stop sy, luister aandagtig, maar sy hoor niks. Met ‘n sug stap sy die kamer binne en gaan sit op die rand van die dubbelbed. Ek hoop jy’s veilig en nie in enige gevaar nie my lief, dink sy by haarself en sien in haar geestesoog vir Daniel, sy gespierde lyf, die donker hare wat grys op sy slape deurslaan, die ongelooflike ligblou oë. Met die gedagte gaan lê sy op die bed met ‘n kussing styf teen haar vasgeklou en sink weg in ‘n diep slaap.
***
Om presies 02h00 ry Daniel by die deur van pakhuis B398 in. Die deur is nou wyd oop, maar daar is min lig aan die binnekant. Hy sien ‘n blou motor langs die trok staan. Die motor was nie vroeër daar nie. Stadig klim Daniel uit en stap nader na die lou motor. Twee gewapende mans kom van agter die trok en staan voor hom. Toe hy stop gewaar hy ‘n derde man agter hom, hy lig sy hande op, die man bevoel sy sye en bene, haal sy 9mm uit en stamp hom tussen die blaaie. Hy stap vorentoe, maar maak ‘n nota in sy gedagtes om die man met die skerp naskeergeur nie onafgehandel te laat wegkom nie.
By die voorkant van die motor staan twee mans, in militêre uniform, net soos die res. Die een het ‘n rooi krawat en dra die rangteken van ‘n majoor. “Aaaahhh!” roep die Majoor en lig sy hande in ‘n vriendskapsgebaar. “Hier is die man, die man wat alles laat gebeur. “ Daniel kyk hom stil aan. “Bwana Mkubwa” sê hy duidelik genoeg vir alaml om t ehoor. “Reg, mooi”, lag die Majoor, “Kom, kom, wil jy die items bekyk?” vra hy en stap na die trok. Twee mans haal ‘n krat uit die trok en beur die deksel oop. Daniel merk op dat die krat met Russiese letters beverf is. In die krat is splinternuwe AK47 aanvalswapens, elkeen in hul eie plastiek toegedraai. “Die ander goed is in die lorrie, daar is 15 kratte AK’s, drie kratte RPG’s en ammunisie vir alles. Hier is die sleutel”, en met die hou die Majoor ‘n enkele sleutel aan ‘n ring in die lug op. Met sy ander hand reik hy na Daniel. “Die klippies asseblief”.
Die man agter die Majoor haal dadelik ‘n oogvergrootglas uit sy sak en druk dit teen sy regteroog vas. Versigtig lig hy die eerste diamant en kyk noukeurig daarna deur die vergrootglas. Dan die tweede en die derde. “Gaan ons vannaand nog klaarmaak?” vra Daniel. “Ek moet voor sonop die trok terug kry by die huurmaatskappy”. “Ha, ha, ha,” lagspot die Majoor sarkasties. “Ons sal klaar maak wanneer ons klaarmaak en jy moet net wag.”
‘n Halfuur later fluister die vreemdeling in die Majoor se oor. Hy knik en kyk na Daniel. “Hier, laat jy weg wees.” sê hy en gooi die vragmotor se sleutel met ‘n boog na hom. Daniel vang die sleutel en stap haastig na die bestuurdersdeur, hy klim in en skakel die enjin aan. Die trok brul in die vroeë oggenduur en hy druk hom dadelik in rat en ry by die pakhuis uit. Soos hy ry let hy op dat die Majoor en drie van sy wagte in die blou motor klim. Toe Daniel die draai na die uitgangshek neem hoor hy die barsroep van automatiese geweervuur. Die Kolonel se mense is reeds besig om op die wapensmokkelaars toe te sak, en Daniel weet daar is nie ‘n kans dat een van hulle vannaand in ‘n sel gaan slaap nie, daar kan nie die geringste kans gewaag word dat die smokkelaars die geheime kopers kan waarsku van ‘n aanval nie. Hy draai in die rigting van die westelike voorstede en trap die vergasser plat op die vloer, oppad na die aflaaipunt.
(Word vervolg)
© Grootvissie
Desember 2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.