Die man met die ligblou oe- Deel 2
Die man met die ligblou oë – deel 2
‘n Paar weke na die koffiewinkel aanval en die dag wat Susan in die hospitaal moes spandeer, stap sy en Daniel deur ‘n winkelkompleks. Hulle het weer ‘n koffie kom geniet, die keer by ‘n ander winkel, want die herinneringe aan die terreuraanval was vir Susan net te veel om te hanteer. Daniel het alreeds diep in haar hart en haar lewe ingekruip en stadig maar seker het sy hom toegelaat om daar te wees. Daniel, altyd gereed, altyd oordeelkundig en versigtig, het hals oor kop verlief geraak op die blonde vrou met die mooi glimlag. Hulle het die afgelope paar weke heelwat tyd sam spandeer en meer en meer met mekaar gedeel. Susan weet nou Daniel is ‘n geheime agent wat verbonde is aan ‘n spesiale taakmag wat wêreldwyd terrorisme beveg, maar dit is al wat sy weet van sy werksaamhede. Hulle besef altwee dit is veiliger vir haar as sy min weet, veiliger dat sy geen detail van sy doen en late verstaan nie en ook baie veiliger vir die span waarmee Daniel saamwerk.
Hulle stap deur die wandelgang, verby eetplekke en gaan met die roltrap op na die boonste parkeerarea. Daniel betaal die parkeergeld en Susan is weereens dankbaar vir die man in haar lewe, die man wat die personifikasie van veiligheid is en by wie sy ook so veilig voel. Weereens wil sy haarself knyp net om seker te maak sy droom nie. “Waaroor dink jy as jy so glimlag?” vra hy in haar oor en sy voel hoe hy haar hand in syne toevou. “Oor jou” antwoord sy onbeskaamd en kyk direk in sy ligblou oë. “Oor hoe gelukkig ek is en oor wat ons vannaand gaan eet” las sy met ‘n glimlag by. Hand aan hand stap hulle na Daniel se silwer bakkie waar hy die deur vir haar oopmaak en toelaat dat sy inklim voordat hy na die bestuurder se kant stap.
Op daardie oomblik kom daar ‘n man te vooskyn van agter ‘n pilaar. Hy loop met sy regterhand in sy sak. Daniel maak asof hy nie die man oplet nie, maar soos hy sy deur oopmaak hou hy die man in die truspieël dop. HY besef die man het ‘n versteekde wapen van soorte. Skielik is daar ‘n geskree van bande en ‘n swart voertuig met donker vensters kom voor Daniels se voertuig tot stilstand. Die deure gaan oop en drie gewapende mans klim vinnig uit. Hulle neem strategiese posisies in vanwaar hulle vir beide Daniel en die parkeergarage kan dophou. ‘n Lang maer man met ‘n swart jas en ‘n laerand hoed wat sy gesig gedeeltelik wegsteek, klim by die agterdeur uit. Hy stap na Daniel en die rookwalms om sy gesig maak dit moeilik vir Susan om sy gelaatstrekke te sien.
“Elfuur vannaand op die boonste vlak van hierdie parkeergarage, moenie laat wees nie” sis hy in Daniel se gesig en kyk in Susan se rigting. “Wees daar of blondie is weg…” grysnlag hy en draai terug na die donker voertuig. Daniel wil homself om nie sy pistool uit te pluk en te begin skiet nie. Hy weet hy kan nie al vyf van hulle vinnig genoeg kan uithaal voordat ten minste een ‘n skoot of twee op Susan kan skiet nie. Hy weet ook dat hy alles sal doen om haar te beveilig, en op die oomblik is niks doen die beste. Verder weet hy dat vannaand se ontmoeting van uiterste belang is, en hy wil nie die geleentheid misloop nie.
Daniel klim in sy voertuig en hulle ry na Susan se woonstel. Oppad verduidelik hy net die nodigste en sy weet ook sy moet ook nie verder uitvra nie. Toe hulle die woonstel binnekom neem sy dadelik ‘n reissak ek begin die nodigste klere en toiletware ingooi. Susan is nie gewoond aan sulke ongewone omstandighede en impulsiewe dinge nie, maar sy weet ook dat gehoorsaamheid die verskil tussen lewe en dood vir haar beteken, ‘n lewe saam met Daniel of niks, en sy kies eersgenoemde sonder twyfel. Die reisdokumente en twee pakke geld wat Daniel op die bed langs haar reistas neersit pak sy in haar handsak, met ‘n paar rolle van die geldnote ook op ander plekke op haar liggaam weggesteek. Daniel kyk toe en knik heel tevrede dat sy die instruksies wat hy haar die afgelope week gegee het, so sorgvuldig navolg. Net voor hulle by die deur wil uitstap neem hy haar in sy arms en hou haar styf vas. “Ek is lief vir jou” fluister hy in haar oor, “moenie bekommerd wees nie, doen presies wat ek jou gesê het en alles sal piekfyn wees. Vertrou my, ek sal nie dat enigiets met jou gebeur nie”. Susan druk hom net stywer vas, knik en glimlag stil, seker in die wete dat hy absoluut eerlik en opreg met haar is.
Hulle staan styf teen mekaar in die hysbak. “Hier” sê Daniel en druk ‘n koevertjie in haar hand, “moenie dit oopmaak tot Vrydag nie. As jy nog niks van my gehoor het nie, maak die koevert oop en gaan die instruksies noukeurig na, en moenie dat enigiemand daardie koevertjie in die hande kry nie”. “Ek sal en ek sal nie” glimlag sy en druk die koevertjie voor in haar broek in. Johan sien die gebaar en glimlag stil. “Niemand behalwe jy kan hom daar kom haal nie” glimlag sy toe die hysbak op die grondverdieping stop. Vinnig soen hulle mekaar totsiens. Susan stap dadelik na haar eie motor en skiet die parkeergarage uit oppad na die geheime woonstelletjie aan die rand van die stad waar sy veilig sal wees.Daniel skuil ‘n oomblik agter ‘n pilaar om te sien of enige verdagte voertuie Susan agtervolg, maar hy gewaar niks.
Oppad na sy eie blyplek skakel Daniel die Kolonel en verduidelik alles in die fynste detail. alles wat sy geoefende oog en fyn opgeleide sintuie opgetel het. Mense, reuke, aksente en houdings. Hy verduidelik die uitnodiging na die ontmoeting om elfuur die aand. “Moet ons mense in plek sit?” vra die Kolonel. “Nee” sê Daniel, “hulle het my nodig, niks sal gebeur nie en ek wil hê ons moet agter die groep kom tot by die leier, ek wil hom hê”. “Goed so” antwoord die Kolonel, “hou my op hoogte wanneer jy kan” en daarmee lui hy af. Daniel het intussen by sy woonstel aangekom en draf vinnig die trappe op. Hy spring vinnig in die stort en trek skoon klere aan. Swart t-hemp met ligte swart leer baadjie, swart langbroek, swart rubbersool skoene en natuurlik die 9mm onder sy arm met twee spaar magasyne, die dun opvoumes in sy regter broeksak en die klein .22 pistooltjie aan sy enkel. Elke keer as hy die .22 aansit glimlag hy, maar dan onthou hy dat dit juis hierdie .22 was wat hom al soveel keer gehelp het.
Om 22h45 klim Daniel in sy bakkie en ry na die ontmoetingsplek. Die parkeergarage se ryvlak is steil en die bakkie se bande skree aanhoudend tot hy op die dak van die gebou tot stilstand kom. Dit is presies 23h00 en behalwe vir die swart voertuig wat vroeër die middag voor hom gestop het, is die plek verlate. Daniel is seker daar is ten minste drie of vier “wagte” iewers in die donker hoeke versteek, swaar gewapen, gereed vir enige verdagte bewegings van sy kant af. Hy klim uit die bakkie, hande omhoog en in die bietjie lig sodat almal wat kyk hom kan sien, haal hy versigtig die 9mm uit en sit dit voor op sy bakkie neer, duidelik onbewapen stap hy nader aan die man met die hoed.
“Goeie naand Mnr” sis die lang man. Sy gesig nou heeltemal in skaduwee onder die rand van die hoed. “kom laat ek verduidelik en jy luister” praat hy verder terwyl Daniel hom stip aankyk, geen emosie in sy gesig te bespeur nie. “Jy gaan vir ons ‘n paar dingetjies aankoop, die detail is alles hier in die koevert, en hier is die koopgoed.” en met die hou hy ‘n swart fluweelsakkie uit na Daniel. Daniel neem die sakkie en voor hy dit oopmaak is hy reeds bewus dat dit diamante is. “Jup, jy gaan vir ons ietsie aankoop met daai blink klippies of blondie is baai-baai”. “As julle haar kan kry” antwoord Daniel met ‘n ligte trek van sy mond maar duidelike haat in sy oë. “Oooo, ja, dit…” sê die lang man en haal sy slimfoon uit sy sak. “Kyk gerus…” en hiermee wys hy vir Daniel die skerm. Op die skerm sien Daniel duidelik die binnekant van die geheime woonstel, hy sien hoe Susan in die kombuisie rondbeweeg en hy herken die blou denimhemp wat sy aangehad het toe hulle vroeër van haar woonstel vertrek het. Met minagting en haat duidelik op sy gesig sug hy en kyk terug na die lang man.
“Janeewat…die geheime woonstelletjie is nie so geheim soos wat jy gedink het nie meneertjie. Solank jy presies doen soos die opdragte in die koevert dit uitspel sal blondie niks oorkom nie, maar as jy een voet mistrap, dan is dit nag vir haar, en daarna kom ons vir jou ook, so gedra jouself” sis die lang man weer, en Daniel sien hoe sy onderlip in ‘n sluwe glimlag vertrek. “Julle sal dit nog berou” snou Daniel hom in ‘n lae stemtoon toe, maar sy hoed verdwyn reeds agter die deur van die swart motor.
(word vervolg)
© Grootvissie
Desember 2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.