Jongste aktiwiteit:

Die man met die ligblou oe – Deel 1

Die man met die ligblou oë

Susan kom elke dag na die koffiewinkel. Die koffie is heerlik en sy sit elke oggend en geniet die aroma van die koffie geure, met melk, sonder suiker, maar die koffie is nie die werklike rede hoekom Susan hier sit nie. Sy sit hier om net weg te kom uit die alleen wees, weg van die beskutting van haar enkelbestaan. Susan wil net ‘n bietjie mense om haar sien, ander klanke en geure ervaar en ontsnap uit die herhinneringe van al haar donker gisters, Sy maak haar oë vir ‘n oomblik toe, net om al die klanke en geure in te neem.

“Ekskuus dame, mag ek hier sit asseblief?” breek ‘n mansstem deur haar droomwêreld en sy maak haar oë vinnig oop en glimlag. Voor haar staan ‘n aantreklike man, skoongeskeer, gryserige hare, in denimbroek , t-hemp en leer baadjie. Hy lyk redelik gespierd, hy glimlag wyd en daar’s ‘n lewenslustige vonkel in sy oë. “Sit hier iemand, of mag ek maar…?” herhaal hy die versoek. Susan ruk haarself uit haar droomwêreld en glimlag breed. “Nee, ek bedoel ja, ja, sit gerus, asseblief, sit” stotter sy half selfbewus en neem vinnig ‘n stadige sluk van haar koffie om haarself tyd te gee om die situasie op te som en terug te keer na moeder aarde. Susan was nog altyd die dromer, die een op die ander planeet.

“Ek sien u het so bietjie in u eie gedagtes rondgedwaal, asseblief, moenie dat ek u steur nie”. Sy stem is diep, aangenaam, sy aksent so bietjie anders as mense van die geweste en sy glimlag is aanloklik, amper uitdagend vanuit sy oë. Dit is toe dat Susan meer oplet en sy oë sien, ligblou oë, soos ys wat vonkel, oë wat deur jou siel kyk, oë waarin enige vrou kan verdwaal. Met ‘n glimlag skud Susan haar kop, “Nee”, sê sy, “Ek geniet net die aroma van die koffie en die feit dat ek leef”, maar sy kan haar oë kan nie van die man af skeur nie. Sy hande, groot sterk hande met netjiese skoon naels, geen trouring, let sy alles in ‘n oogwink op. Sy hele houding spreek van selfversekering en gesondheid, ontspanne tog slaggereed, amper soos ‘n kat, en weer vind sy daardie oë wat alles oplet en sy omgewing inneem. Susan bespeur ‘n mate van gevaar en tog terselfdetyd voel sy baie veilig in sy teenwoordigheid. Met ‘n daadwerklike poging dwing sy haarself om weg te kyk na haar koffie, haar handsak, enigiets wat haar aandag sal aftrek. Sy voel hoe sy oë oor haar streel.

“Ja” sê hy met ‘n sug, “die koffie reuke is baie aangenaam en u is reg, ons moet almal dankbaar wees dat ons leef” en hiermee neem hy ‘n diep teug van sy eie koffie en begin ook om hom kyk na die mense . “Susan, Susan Pienaar” sê sy en steek haar hand uit, “asseblief, noem my Susan, ek voel so vreeslik belangrik as ek “u” genoem word” en sy glimlag breed. “Daniel” sê hy en skud haar hand. Sy greep is ferm tog sag en sy voel die elektrisiteit tussen hulle soos hul hande raak, “Aangename kennis Susan” glimlag hy breed. Die oomblik is aangenaam, die begin van die vriendskap soet, en beide Susan en Daniel geniet die samesyn in ‘n oomblik van stilte.

Skielik is daar ‘n geskree, iemand skop ‘n tafel om en toe ontplof geweervuur deur die lug. Pandemonium bars los, mense gil en skree, party probeer opstaan en hardloop, ander duik onder tafels en stoele in. Koffiebekers en glas spat die plek vol, mense spring en val en skree oral. Vier gewapende mans storm die koffiewinkel binne. Hulle dra doeke oor hul gesigte Net hul oë is sigbaar onder swart wolmusse. Hul kamoefleerdrag en stewels lyk almal dieselfde. Twee van hulle dra AK47 aanvals-wapens, een het ‘n pistool in elke hand. Die vierde een dra ‘n pomp-aksie haelgeweer wat hy oorhaal om nog ‘n skoot in die dak af te trek. Daniel neem dit alles in, sy sesde sintuig en geheimediens opleiding skop in ‘n breukdeel van ‘n sekonde in. Hy duik vorentoe, gryp vir Susan om haar middel en duik agter twee groot potplante in. Sy regterhand ruk die .45mm uit sy onderarm wegsteekplek, en soos hy land flits honderde gedagtes deur sy kop. Wat soek hulle, waar presies het elkeen van die terrorriste gestaan en waarheen was sy lyf gedraai. Sy geheue teken oombliklik ‘n beeld van die winkeluitleg en elke klient wat op daardie oomblik in die winkel was. Daniel fokus op die een met die haelgeweer, hyhet in hul rigting gekyk, hy is die skieter.

Soos hulle agter die potplante val skop Daniel teen die vloer totdat hy verby die potte gly, sy pistoolhand uitgestrek, die blaf van die eerste skoot anders as die haelgeweer se gedonder. Die man met die haelgeweer se kop ruk agteroor en bloed spat teen die spieël agter hom. Voordat sy knieë begin knak rol Daniel op sy maag, pistoor voor hom uitgerek. Die terroris met die pistole draai, maar soos sy hande swaai om op die nuwe gevaar te mik, blaf die .45mm twee keer. Die rondtes tref hom altwee, een in die bors en een in sy keel. Sy liggaam steier agteroor teen die koffietoonbank. Bloed spat oor die kasregister. Daniel is reeds op sy een knie gehurk, die pistool in altwee hande vasgeklem, die dubbel blaf van die rondtes oorverdowend hard, die derde terroris sak ineen.

Skielik bars die geknetter van die AK47 deur die pandemonium. Die vierde terroris storm op Daniel af en skiet wild in die hardloop. Koeëls bars deur die glas en spat hoog teen die muur. Daniel duik vorentoe en in die duik draai hy na regs en skiet die man in sy gesig. Die stormende man verkreukel soos ‘n lappop en sak inmekaar. Daniel rol om, spring op sy voete en met sy pistool in sy hand voor hom uitgestrek ondersoek hy gou die rowers. Hulle is al vier morsdood. Daar is plasse bloed en glas skerwe oral. Koffiebekers en stoele lê verstrooi. Alles is vir ‘n oomblik doodstil, toe begin ‘n vrou skree en skielik begin al die mense gelyk skree en praat. Ander roep na geliefde, party vlug uit die toneel, nuuskieriges van buite hardloop nader. In die verte kan polisie-sirenes gehoor word soos polisievoertuie aangejaag kom.

Daniel druk sy wapen terug onder sy arm en stap na Susan. Toe hy by haar kom sien hy die bloed op die grond, die diep wond teen haar kop. Hy haal dadelik sy selfoon uit en skakel die ambulansdiense direk, terwyl hy servette styf teen die wond druk om die bloeding te stop. Sekuriteits beamptes kom ingehardloop, elkeen met sy wapen in sy hand, maar hulle is te laat, die aanval en teen-aanval was binne 8 sekondes verby. Dadelik begin hulle mense kalmeer en orde skep uit die chaos.
In die ambulans ry Daniel saam na die hospitaal. Die polisie kan daar sy verklaring kom afneem. Hy het reeds sy bevelvoerder gebel en hom vertel wat gebeur het. Die kolonel en vier geheimediens agente wag reeds vir hulle by die hospitaal. Daniel se aksies word aan sy opleiding toegeskryf, die terroriste is reeds uitgeken as lede van ‘n sluimerende splintergroep uit die Midde Ooste. Daniel weet dat hy beslis die teiken van hul aanval was as gevolg van sy werksaamhede in die Midde Ooste. Hy was die agent wat die dood van hul leier veroorsaak het en hul geheime planne om terreuraanvalle in ses wêreldstede te bewerkstellig, onthul het.

Daniel se aandag is nou eers op Susan gevestig. Die pragtige blondine met die vriendelike glimlag. Hy maak seker hy bly by haar tot die dokter hom vra om buite te wag. As sy sou omkom sal hy homself nooit kan vergewe nie. Niemand anders is in die aanval beseer nie. Daniel se vinnige reaksies en opleiding het dit verseker.

Vier ure later maak Susan haar oë oop. Sy fokus moeilik, en die kloppende hoofpyn wat sy het help nie veel nie. Sy besef sy is in ‘n hospitaalkamer en draai versigtig haar kop om om haar te kyk. “Hallo Susan” hoor sy die stem, sag en teer. “Onthou jy my, die koffiewinkel, die geskiet…?” vra hy soos sy in sy pragtige ligblou oë kyk. “Ja” sê sy sag, “ja, ek onthou…” en sy maak haar oë toe.

“Alles is verby” hoor sy Daniel se stem, “Jy het ‘n wond teen jou kop gekry, maar dis net oppervlakkig. Jy sal môre kan huistoe gaan. Is daar iemand wat ek vir jou kan kontak?” vra hy.“Nee, niemand, dankie” sê Susan met haar oë toe. Dan maak sy haar oë stadig oop en kyk na hom. “Nee” sê sy weer, “Ek het niemand nie, sal jy asseblief hier by my bly?” Daniel se ligblou oë glimlag vir haar. “Ek gaan nêrens nie, ek is hier, vir solank as jy my hier wil hê,” sê Daniel en neem haar hand in syne terwyl hy haar arm sag begin streel.

© Grootvissie
Augustus 2017




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed