Jongste aktiwiteit:

Die man met die viool

Hy staan soms op die hoek voor die koffiekroeg. Met sy viool.

Soms krap-krap hy met die strykstok en ander kere is dit bloot ’n ge-fiddle, maar meeste van die tyd is dit byna onhoorbaar bo die gedruis van die stad.

Hy staan klein van gestalte voor die koffiekroeg tussen die ou lendelam tafels en stoele wat daar gerangskik staan. Agter hom, teen die muur, is die dag se spyskaart met wit geskryf op ’n swart bord en nog verder, verby die hoek, verder op met die straat is karre, busse en mense.

’n Klein skare drom gewoonlik saam in ’n halwe sirkel om hom. Een-een kom ’n nuwe toeskouer by en, na ’n rukkie se luister, sal ’n ander een weer koers kry.

Dit is hier waar ek graag, wanneer die man hier is, kom staan met ’n vars Cappuccino in die hand. Ek moet konsentreer om die musiek te hoor. Die musiek is egter nie besonders nie en die ou vaalvernielde viool se klank is al net so gehawend soos die speler.

Ek staan dan in die voetgangerverkeer en veg teen die stroom, veg teen die straat se lawaai en luister en kyk.

Die klank word ingesluk deur die die stad met sy warboel van geluide. Studente wat luidrugtig, bier in die hand, saamdrom om karre waar die musiek doef-doef deur die oop vensters blêr. Ander jaag onophoudelik deur die strate met opgewarmde engines wat pynlik donder en weerklank teen die geboue van Braamfontein.

Ek kyk na die behendigheid waarmee hy met sy vingers die note op die vingerbord druk. Die beweging van die strykstok wat ritmies, soms vloeiend soms hakerig en soms bloot onhandig die snare bewerk en tussen al die geworstel met die instrument soms, net soms, die soetste klanke na vore bring.

Vandag is dit egter anders.

Vandag is die strate stil. Die studente is weg vir die Kersvakansie en die stroom mense op die sypaadjie is minder.

Daar is ook nie die gewone sirkel met toeskouers nie, slegs af en toe ’n enkele voetganger wat verby loop – en ek. Die koffiekroeg se kliënte is al weg en die kelner sluit die deure na die dag.

Voor die viool-man op die sypaadjie is daar ’n skoendoos met ’n enkele muntstuk en ’n stapeltjie koerante met ’n foto van hom op die voorblad. Ek neem ’n kopie.

Hy is die ster van die buurt wat skynbaar voor restaurante en dergelike bymekaarkomplekke sy nering beoefen, lees ek .

Anders as gewoonlik wanneer hy so oor middagete hier opdaag, is hy vandag laat. Die middag lê al laag en sy skaduwee-met-viool strek lank oor die sypaadjie. Ten spyte van die restaurant wat al toemaak speel hy voort. Met sy oë toe. Sy hele lyf wieg heen-en-weer met die moeite om die klank reg en so suiwer as vir hom moontlik na vore te bring.

Ek hoor nou die herkenbare effe-klank van bekende musiek. Is dit Beethoven se Romanse?

Die musiek is so met onhandigheid en al, betowerend. In kontras nou met die skreeu van die stad wat gewoonlik hier heers.

Hy sien my nie. Hy speel en speel en wieg en wieg, maak foute, speel die note weer oor, wieg-wieg, die betowerende klank wat deur die leë strate seil en teen die geboue opstyg. Dit vul die hele stad en verdoof alle gejaag en gedruis.

Hy speel sonder ’n gehoor. Ek weet dit want ek word bewus daarvan dat selfs ék uitgesluit is uit sy wêreld.

Vir kollekte geld wag hy nie. Hy lewer nie sy uitvoering vir toeskouers nie. Dis net hy en sy viool.

En dan, meteens, hou hy op. Sommerso in die middel van die musiekstuk. Hy staan nog ’n ruk met strykstok op die snare, vir eers met sy oë nog toe en laat sak dan stadig die viool terwyl hy sy oë oopmaak. Hy ontwaak uit sy trans en sien my die eerste keer en glimlag verleë.

Hy pak sy viool weg, rol-vou die pakkie koerante onder sy arm in en haal die een muntstuk uit die skoendoos. Hy loop dan ongeërg om die hoek en verdwyn in die laatmiddag skadu’s van die stad.

Ek staan nog ’n oomblik daar. Alleen. Net ek met die reuk van geroosterde koffiebone wat nog hang in die lug.

Die musiek het verdwyn en laat ’n holte agter waar die vêrafgeleë getoeter en sirenes weer invloei.

Die oomblik, soos die man met die viool, is weer weg.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed