Die Slag van Opatikloof
(Woordtelling : 310)
Na die Slag van Bloedrivier besoek ʼn kommando van 300 man Dingaanstat om die beeste wat op Bloukrans gesteel is, terug te kry. Die beeste word in die nabygeleë Opatikloof aangehou en die Boere slaan laer op by Entonjaneni-hoogte. Pretorius se hand is egter tydens die Bloedrivier veldslag gewond en hy gee die bevel oor aan Karel Landman.
Bongoza, ‘n Zoeloespioen wat saam met die Boere gewerk het, laat hom opsetlik deur die Zoeloes gevange neem sodat hy inligting oor die beeste kan insamel. Terug by die kommando, en terwyl hulle op pad is na Dingaanstad, verdwyn Bongoza egter halfpad in die kloof af. Die kommando hoor ʼn kreet “i zi pagati (hulle is binnekant!)” waarna die Zoeloes hulle van alle kante af bestorm. Die Zoeloes probeer om die kommando van die laer af te sny, Hans de Lange raak bewus van die gevaar en jaag terug om Landman te waarsku. In die poging om die hinderlaag te ontsnap, het hulle drie keer die Umfolozirivier oorgesteek en uiteindelik die Ulandivlakte bereik. ʼn 9-uur lange stryd tussen 300 Boere en nagenoeg 5,000 Zoeloes volg. Hulle het egter nie genoeg ammunisie nie, en tydens die skermutseling in die rivier sterf ses Voortrekkers, insluitend die Brit, Alexander Biggar, en 5 Zoeloes wat aan die kant van die Boere geveg het. Meer as ʼn duisend aanvallende Zoeloes sou op daardie geveg sneuwel.
Laat die aand kom die Voortrekkers in ʼn uitgeputte toestand in die laer aan. Dit was ʼn noue ontkoming en alhoewel die Slag van Opatikloof heeltemal oorskadu word deur die Slag van Bloedrivier, speel dit egter ʼn uiters betekenisvolle rol in ons geskiedenis.
Die Slag van Opatikloof was deel van die Groot Trek en het op 27 Desember 1838 plaasgevind, slegs 11 dae na die Slag van Bloedrivier. Indien die Zoeloes hier sou seëvier, sou die oorwinning by Bloedrivier tot niet wees.
https://af.wikipedia.org/wiki/Slag_van_die_Opatikloof
https://afrikanergeskiedenis.co.za/27-desember/
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Desember 2023 – Veldslag projek