
VAN VLOERLAP TOT WASLAP
Iemand vra my nou die dag wat dit is om ‘n Christen te wees. Ons is dit mos almal want Jesus het ons lief en dit maak alles mos OK, die liefde?
My eerste reaksie was om die Bybel te gryp en hom te wys dat dit meer as net dit is – ‘n mens word nie met ‘n paspoort hemel toe gebore nie.
Toe loer ek hom so oor my brulle en sê die eerste ding wat in gedagtes opkom:
VAN VLOERLAP TOT WASLAP
Ek kon dadelik in sy oë sien hy verstaan nie. Ek het ook nie in die begin verstaan nie. Ek sê toe hy moet maar sit. Dit kan ‘n lang geestelike wasgoed was dag word.
Toe begin ek by die begin:
“‘n Vloerlap was een dag lank gelede ‘n waslap. Die waslap was gewas en uitgespoel. Mooi opgevou en weggebere. Toe op ‘n dag mors ‘n besoeker ‘n bottel koeldrank op die bankstel uit en die naaste lap om droog te maak was die waslap. Die waslap het van toe af ‘n vloerlap geword. Hy is sommer vir alles gebruik, alles wat vuil of gemors het het hy opgesuig. Niemand wou die moeite doen om hom te was nie. Hy is later in ‘n kas gegooi saam met ander vloerlappe en vergeet.
Maar op ‘n dag besluit die eienaar van die huis om “spring cleaning” te doen. Hy stuur sy bediende om al die kaste skoon te maak. Die bediende kom na ‘n rukkie by hom aan en sê dat daar ‘n kas is met baie vuil lappe. Die eienaar stuur toe weer sy bediende om die lappe te gaan haal want daar het ‘n nuwe produk op die mark gekom wat wonders met ou lappe kan doen. Weer kom die bediende terug maar net met ‘n paar lappe. Die eienaar vra toe die bediende of dit al die lappe is want hy wil die nuwe produk toets. Die bediende is toe baie afgehaal en sê dat hy elke lap afsonderlik probeer optel het maar van hulle het vasgeplak en hy kon hulle nie los kry nie.
Die eienaar is toe ook teleurgesteld want hy wou graag die nuwe produk op al die lappe gebruik. Hy vat toe die paar lappe en volg die instruksies van die nuwe produk. Eerste moes hy die vuil lappe oornag laat week. Hy maak toe ook so.
Maar die volgende dag toe hy die lappe uithaal was hulle skoner, maar met nog baie kolle. Hulle was nie meer hard nie en hy kon hulle hanteer en vou. Hy het die proses herhaal en elke keer het die lappe skoner geword. Van die skroplappe het so skoon geword dat hy hulle weer as waslappe kon gebruik. Sag en reukvol. Elke dag het hy lappe uitgehaal en verpak. Hy het elke dag die instruksies van die produk gevolg totdat al die lappe weer hulle plek as waslappe in die linnekas gekry het.
Die eienaar het elke dag sy bediende gestuur om in die kas te gaan kyk of daar nie dalk skroplappe is wat hy kon los kry nie en as daar was, het hy hulle dieselfde behandeling gegee.”
Toe ek klaar die verhaal van die vloerlap en die waslap vertel het, was daar ‘n ander uitdrukking op my besoeker se gesig. Hy het sy antwoord gekry.
HET JY?
Stuur gerus vir my jou vertaalde weergawe van die vloerlap en die waslap. Die antwoord is wat dit beteken om ‘n Christen te wees.
En ja, dit gaan alles oor liefde!
2 Kommentare
-
Koekekranka
Diepsinnig hierdie verhaaltjie van jou omdat dit gebasseer is op die nuwe gebod van Jesus: Oorheersende liefde vir God en 'n ewe-liefde vir die Naaste. Baie dankie, en ja, I Kor. 13 klop deur jou hele vertelling!!!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
wow Louie dankie vir hierdie deel, ja so is ons ook van skroplap tot waslap aan die Kruis gewas. Hierdie is op n besonderse manier oorgedra