Ek is jou liefdesdigter
Ek is jou liefdesdigter
ek sit voor my Ipad met duime op die sleutelbord
want uit my gedagte en wese fonteinborrel woorde
om met elke sintuig met jou my geliefde een te word
woorde vol harmonie in ‘n simfonie en akkoorde
ek skilder woorde wat uit my vingertoppe vloei
in swart ink wat wit of blou glas en papier versier
wat deur die vensters van jou siel jou emosie moet boei
om hamer, aambeeld en stiebeuel luisterryk te laat feesvier
met die reuk van ‘n nuwe digbundelpapier met woorde getooi
woorde soet oor jou tong en lippe drup soos sagte heuning
kleurvolle sinne, verse en gedigte kleurvol in wit, swart of rooi
waaroor stemme dwarsoor die wêreld kan praat en sing
ritmies vol emosie, passie en liefde van my liefdesverhouding
met letters woorde, sinne en verse gepos vol heimwee
die natuur en diere en volle menswees deur my gedigte gebring
oor plekke van berge, dale, riviere, hemel en selfs die see
‘n gedig om jou diepste hartkamers liefdevol te bekoor en saam te bind
sodat jy stil word onder die son, Suiderkruis, die maan en sterre se lig
waar dié gediggie in jou liefdesbundel ‘n lêplekkie in jou hande vind
want dit is as digter ‘n woordskildery op elke sintuig aan jou my lief gerig
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2017 – Oop projek