Grond so rooi soos bloed
Arek grawe met sy vingers in die droeë grond. Rooi stof koek onder die priester se vingernaels en klou aan die bloed wat sy verrimpelde hande vlek. Sy trane verwring die wêreld om hom tot ’n wasige, rooi poel. Hy stoot nog grond uit die vinnig gegraafde graf, vee oor sy gesig en laat sy gelaat besmeer met strepe rooi grond, trane en bloed.
’n Entjie van hom af, naby die Sluier wat gewoonlik vir sterflikes weggesteek is, staan een van die Bewakers van die Sluier. Haar ligblou mantel vorm ’n sterk kontras met die donkerbruin leer wapenrusting wat sy dra. Haar gesig is agter ’n sluier weggesteek en haar regterhand is om ’n spies geklem. Sy staar uit oor die uitgestrekte vlakte met sy klein nedersettings. Agter haar lê Khalne Alima se heiligdom gebreek en verbrand.
“Hoekom het jy my nie gevat nie?” skree hy vir haar. Sy draai ’n erstige gesig na hom en frons.
“Ek is die een wat vandag die heiligdom moes oppas. Jy moes my gevat het!” skree Arek.
Sy beweeg nie en hou aan om vir hom te staar. Agter haar skitter-vloei die Sluier asof dit, ook, deur trane beskou word.
Arek staan op en steier na haar.
“Asseblief, laat ons plekke ruil,” pleit hy. “Galeun is te jonk. Hy moes nooit daar gewees het nie.”
“Jy het dadelik gekom toe jy die vuur by die heiligdom sien. Jy het nie aan jou eie welstand gedink nie,” sê sy kortaf, asof sy nie daaraan gewoond was om te praat nie. “Jy vra vir my iets wat ek nie vir jou kan gee nie.” Die Bewaker steek haar wysvinger uit en wys na iets agter die man. Hy draai om. Op die grond, langs die seun, is sy eie liggaam, geskend van die wonde wat hy ontvang het.
4 Kommentare
-
-
Ronel Janse van Vuuren
Baie goed gedoen - veral die einde.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
baie mooi hierdie buiteruimse gebeure vasgepen