HOE RY DIE BOERE 1
HOE RY DIE BOERE 1
Geskryf deur Fanus Strydom
2351 Woorde
Pa het onophoudelik daarop aangedring dat ons voor sonop reeds by die die huis moet uit wees op ons lang tog plaas toe díe Desember. Sodat die skelms nie kan sien ons gaan op vakansie nie, want dan kom breek hulle in en steel al ons goed. So, voor die son nog van andertkant af oor die Magalsiesberg kon klouter na ons kant toe, moes die Opel stasiewa se neus reeds links opdgedraai wees in Frystraat oppad Meyerstraat toe. Waar ons dan links sal draai om al langs die berg af te ry aan hierdie kant, totdat ons uiteindelik by Voortrekkerstraat kan regs draai deur die poort oor die berg. Dan af met die steil, krom afdraende oor die nek -verby die reuse wonderboom op links- tot by die hoofpad Warmbad toe. Daarvandaan het die teerpad Noorde toe, plaas toe, lank en uitgestrek voor ons oopgelê. Al die pad deur vyf daaropvolgende dorpe en opophoudelik vir ses, lang ure se ry en ry en ry…
Die Opel is swaargelaai met alles en almal en wat ookal nog nodig was vir die drie weke se kuier op die plaas. Ek sit voor, tussen pa en ma, met my bene wydsbeen oor die rathefboomgedoente tussen my opgetrekte knieë. Ek moet doodeseker maak my regtervoet bly heeltyd uit pa se pad uit waar hy behendig rondtrap tussen die petrol, koppelaar en rempedale aan sy kant om ons veilig op die pad te hou. Aan ma se kant moet Fielies, ons geliefde Pikenese-hond, onder by ma se voete maar haar beknopte lêplek kreunend oopveg tussen die medisyntas, die padkosmandjie, die koffiefles en ma se handsak. Op die agtersitplek sit ousus Adie links, teen die venster, met ouboet Wim regs aan die ander kant. In die middel, en ongeduldig ingewig tussen hulle, was middelsus Hanlie. Agter hulle drie se koppe, en tot barstens toe volgelaai tot hoog bo teen die stasiewa se dak, was ons bagasie in die bagasiebak: koffers, taste, sakke, beddegoed, kussings en komberse, en verskeie sakke, bakke en blikke met koek, kos en koeldrank vir die groot vakansie-eet. Al wat pa kon sien in die truspieëltjie links bo sy kop, was ‘n klein, ronde loergaaitjie deur al die pakkasie deur tot net agter in die pad agter hom.
Alles verloop aanvanklik redelik glad en ons was uiteindelik oppad na weke se alles-deurdagte, wel-bespreekte, beplanning, bespreking en beproewing van iedereen se geheue, emosies en geduld. Tot ons by die eerste sirkel in Meyerstraat aankom, skaars tien minute weg van die huis af. Hier ervaar ma die eerste van haar onwillekeurige en onkeerbare twyfel-aanvalle…
“Willie…” sê sy in haar almal-weet-wat-nou-gaan-kom, benoude stem.
“Ja ma…?” berei pa hom voor op die ergste.
“Ek’s nie seker of ek die stoof afgesit het nie…”
“Is jy seker..?”
“Ja…” kou sy senu-agtig aan haar onderlip.
“Dat jy hom afgesit het..”hoop hy steeds vir die beste.
“Nee…”be-aam sy egter die ergste.
Vir ‘n kort oomblik daal daar ‘n dragtige stilte oor ons reiskapsule neer, terwyl ons onafwendbaar op die eerste sirkel afpeil. Pa kyk vir ma. Sy kyk vir hom. Hy kyk na die sirkel voor ons in die pad en besef hy sal vinnig ‘n moeilike, onwelkome besluit moet maak. Ons sal moet terugdraai om te gaan kyk. Wat as die huis afbrand terwyl ons weg is..?
Besluit gemaak, verstel pa sy hande onwillig terug na tien voor twee op die stuurwiel, en gooi die Opel se rathefboom tussen my bene af na derde toe. Ons vlieg by sesuur by die sirkel in, hel gevaarlik vyf-en-veertig grade oor bakboordkant toe al om die sirkel, tot ons weer by sesuur regop kom en terugskiet huistoe. Onder by ma se voete skop Fielies se honde-instink meteens in en dink sy ons is alreeds weer terug oppad huistoe na ’n baie kort vakansie. Sy hyg opgewonde teen ma se bene op en probeer rooitong sien wat aangaan met twee albaster uitpeuloë. Ma dreig haar ongeduldig met ‘n pak slae en druk haar kop weer onseremonieël terug in haar beknopte lêplek in. Uit protes los sy (Fielies, nie ma nie) prontuit ‘n wind wat spoedig die binnekant van ons kar met stinkende gifgaswalms oorrompel. Pa kyk na ma, want die reuk kom van haar kant af. Ma kyk vies-verontwaardig terug na pa om te sê dit was nie sy nie, terwyl sy naarstigtelik begin krap in die paneelkassie voor haar opsoek na die vuurhoutjies om te trek teen die stinkende walms. Op die agtersitplek druk Wim en Adie gelyktydig hulle koppe by hulle onderskeie, oopgegooide vesters uit, opsoek na vars lug en redding teen die oorweldigende stank. Gestrand in die middelste gestoeltes, moet ek en Hanlie maar maak doen met die tydelike verligting van die een getrekte vuurhoutjie na die ander deur ma, totdat die asemhalingsvlakke binne die kar se kapsule weer kan terugkeer na amper uithoubaar.
Terug by die huis wag ons almal in gewyde stilte in die luierende kar op die aanloopbaan, terwyl pa ongeduldig worstel met die verskeie sleutels, slotte en sekuriteitshekke om te gaan kyk of die stoof inderdaad aan, of afgesit is. Met sy terugkoms verklaar hy vieserig-versigtig in ma se rigting:
“Hy’s af…”
“Ag, dankie tog…” sug ma verlig en sluk haar eerste hoofpynpil; dankbaar by die wete dat die huis ten minste nie gaan afbrand in ons afwesigheid nie.
Toe ons weer opstyg berg se kant toe, was die veiligheid van donkerte nou vinnig besig om te verander in die onheilspellende eerste lig van potensiële misdaad, onheil en moontlike rowery.
Vir die tweede keer draai ons links in Meyerstraat, en skiet ons kort voor lank, weereens by sesuur by die eerste sirkel in. Díe keer hel ons net kortstondig oor na links, voordat ons dan suksesvol by twaalfuur uitwip vorentoe. Pa skuif homself gemakliker in sy stuurstoel terug en steek ‘n sigaret aan as teken dat dinge klaarblyklik, vir eers, onder beheer is. Hy kyk dankbaar, vir oulaas, na die vinnig-opkomende son in die loergaatjie agter hom. Onder by ma se voete vind Fielies weer haar oorspronklike, beknopte lêplek en kry haarself gereed vir die tweede probeerslag. Oomblikke later duik die tweede sirkel in Meyerstraat voor ons op in die Opel se dowwe hoofligte. Weer begin ma onrustig rondskuif in haar passasierssitplek en begin sy verbouereerd soek na iets wat net sy weet waar sy dit gesit het…
“Wat soek jy nou, ma..?” wil pa weet. Skieik weer onrustig by die duidelike voorbode van ma se onseker lyftaal.
“Die waskamer se sleutels…” antwoord sy sonder om haar kop te lig vanuit haar handsak onder by haar voete.
“Hoekom…?”
“Ek kry dit nie…”
“Maar het jy dan nie..!?”
“Ja ek het, maar ek kan nie onthou of ek..!”
“Ag nee maggies, my vrou…hoe kan jy nie..!?”
As hulle eers so in kodetaal met mekaar begin kommunikeer dan kan mens maar weet die temperatuur is verseker besig om te styg.
“Ek dink ek het hom in die deur gelos toe ek gaan kyk het of ek die wasmasjien se krane toegedraai het..!” erken ma onomwonde die moontlikheid van ‘n dubbele, meer ernstige katastrofe as die eerste een.
“Genade tog, vrou..!” sug pa vies en gryp weer die stuurwiel onwillig vas om die tweede sirkel op dieselfde manier aan te pak as die eerste een. Weereens hel ons almal onkeerbaar eers na links, dan na regs, soos ons drie honderd en sestig grade al in die rondte om die tweede sirkel in Meyerstraat tol op ons pad terug huistoe vir die tweede keer. En nogsteeds in presies die teenoorgestelde rigting as die een waarvoor ons almal so lank beplan en uitgesien het die afgelope tyd.
Teen die tyd dat pa, nou hoogs bemoerd, vir die derde keer haastig teruggly in sy sitplek in, en sy veiligheidsgordel ongeduldig vasknip vir ons derde keer die berg op Meyerstraat toe, wag die son reeds vir ons bo-op die berg. Nou reeds gemaklik op sy gewoontelike oggendsitplek bo die reservoir strooi hy die nuwe oggendlig uit oor die bleekwit Moot onder hom. Agter hom deur die loergat sien pa in sy truspieëltjie hoe die laaste kans op ‘n vroeg-oggend, veilig-in-die-donkerte wegkomkans vir ewig vervaag in die son se eerste strale oor ons werf.
Díe keer navigeer ons beide sirkels in Meyerstraat sonder enige verdere voorval en in relatiewe stilte, terwyl elkeen homself besig hou met sy eie gedagtes. Teen die tyd dat ons by Voortekkerstraat aankom om regs te draai teen die steil bult op, kon ons ten minste ooreenkom dat ons dankbaar is dat ons uiteindelik oppad is, en herhinner ma ons almal op hierdie punt, dat ons ten minste seker kan wees van twee katastrofes wat afgeweer is: ‘n helse vuur en ‘n Bybelse vloed.
“Altwee kon al ons aardse besittings in ‘n oogwink uitgewis het terwyl ons weg was, as ons nie teruggedraai het om te gaan seker maak nie…” profeteer sy so half-beskuldigend in pa se rigting, omdat hy duidelik nog nie oor sy buierigheid gekom het oor die twee keer se terugdraaiery nie. Die feit dat die skelms verseker kon sien ons gaan op vakansie, moes maar vir eers in die duister binnekamers van ons bekommerde koppe agterbly, want pa het dit intussen baie duidelik gemaak hy draai nie weer om vir enige-iets nie.
So snel ons toe aan die verkeerde kant van die Magaliesberg af in Meyerstraat al die pad tot by die groot kruising met Voortrekkerweg, waar ons uiteindelik kan regsdraai Noorde toe…plaas toe.
Die verkeer in Voortrekkerweg dreun onophoudelik voor ons Opel se neus verby in albei rigtings, maar hoofsaaklik berg se kant toe van die stad af. Motors, motors met karavane, motors met sleepwaentjies, motors met bagasiebondels hoog gestapel bo-op hulle dakke…almal stoom naarstigtelik berg-op om oor die steil bult te kom op hul lang pad Noorde toe.
Pa moet sy kans goed kies om ‘n opening te kry in die nimmereindigende stroom voertuie wat voor ons verby trompetter oppad boontoe. Ek lê so plat as wat ek kan terug teen die sitplek om uit sy gesigveld te bly, terwyl hy links, dan regs, dan weer links meet-meet aan elke moontlike gaping om ons in die sleurstroom in te kry. Ma soek net so naarstigtelik vir ‘n geskikte opening en met tye kyk hulle oorkruis, maar lynreg, in mekaar se onderskeie gesigsvelde in. Dan sug pa moedeloos en sak weer terug teen sy bestuursitplek om van voor af te begin soek.
“Genade tog, vrou…ek kan nie sien as jy so vorentoe lê nie!” berispe hy vir ma en skiet sy sigaret by die klein kantvenstertjie aan sy kant uit.
“Maar ek probeer net help kyk…!” protesteer sy moedig terug.
“Ek weet, maar sit asseblief tog net terug dat ek kan sien wat aangaan…”
Op hierdie stadium begin ek wonder of hulle huwelik hierdie uittog gaan deurstaan…
Pa druk-druk die Opel se neus nog ‘n klein entjie vorentoe, kyk vir een laaste maal links, dan regs en vat dan sy kans. Ons bokspring rats vorentoe en maak ‘n wye, slap draai reg oor die dubbel-hoofstraat, tot in die heel linkerkantste baan aan die anderkant, waar ons rakelings ‘n nou gaping vind aan die teenoorgestelde kant van die besige verkeer berg-op. Ma snak liggies na haar asem langs my en bring haar hand na haar mond. Sy besef dat sy liewers op hierdie stadium niks meer moet sê nie. Op die agtersitplek laat Wim vir die eerste keer iets van homself hoor:
“Nice pa..!”
Agter ons, deur die loergaatjie, sien ek hoe ‘n oom in ‘n bloedrooi Chevrolet of iets, baie naby aan ons, vir pa sy vinger wys en iets onhoorbaars beduie deur sy voorruit. Die tannie op die sitplek langs hom se oë is amper netso groot soos ma s’n en sy praat ook heftig saam. Pa blaf iets ewe onhoorbaar terug in sy kantspieëltjie vir die ongeskikte oom agter ons voor hy sy aandag vestig op die pad voor ons. Ons is in. Nou klou hy verbete vooroor aan die Opel se stuurwiel en gryp na die rathefboom tussen my knieknoppe. Onder sien ek hoe sy voete kruis en dwars orrelspeel oor die pedale soos hy probeer spoed optel die steil bult op. En om ‘n groter gaping te probeer bewerkstellig tussen ons en die onvriendelike oom in die rooi Chev agter ons. Maar, so hard as wat hy probeer, wen ons nie juis veel veld nie. Onder ons dreun die Opel se enjin hoorbaar ontsteld onder sy swaar vrag en klim die temperatuurnaald op die konsolepaneel voor pa se neus vinnig oppad na sy rooi afsnypunt.
“Kom Opeltjie, kom…!” moedig pa die stasiewa aan, terwyl ma bekommerd oor my leuen om te sien waar lê die naald. Langs ons gly die rooi Chevrolet moeiteloos by ons verby met die onvriendelike oom en sy rooihaar-tannie langs hom. Toe ons almal opgewonde vir hulle waai, pluk hulle hulle koppe verontwaardig vorentoe en seil moeiteloos onder ons uit die steil berg op.
“Kom oubaas, nog net ‘n entjie…”pleit pa smekend in die rigting van die Opel se neus voor ons, vanwaar daar nou ‘n duidelike stoomwalm begin uitpeuel van onder die enjinkap. Voor hom op die konsolepaneel druk die naald nou styf teen die rooi kookpuntpennetjie vas.
“Gaan ons dit maak, pa..?” wil iemand van agter-af weet.
“Moenie vir pa nou pla nie..!” berispe ma die onwelkome ondervrager terug tot stilte.
“Ons is amper bo…” stel pa ons almal gerus “nog net ‘n klein entjie…”.
Dan breek ons genadiglik deur die poort bo-op die berg en lê die lang, steil afdraende uitgestrek en oop voor ons al die pad ondertoe.
“Jippee…!” gil ons almal in diepe dankbaarheid en begin opgewonde hande klap.
“Nee Fielies, af…!” druk ma die hond weer terug ondertoe en begin solank soek na ‘n vuurhoutjie. Die ergste is vir eers verby.
“Nice pa…” sê Wim weer een van sy min woorde.
“Nice pa!” lag ons almal saam in ‘n dankbare koor. Tot ma lag saam en ontfrommel die sakdoekie wat sy in ‘n senuweebol tussen haar voorvingers opgebondel het.
Die egste is inderdaad, vir eers, agter ons.
(word vervolg../)
©Fanus Strydom
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2022- Samesyn projek