Hups
(Woordtelling: 970)
Lank gelede, pas getroud en heerlik verlief, word ek oorgeskuif na ʼn ander afdeling in ons plaaslike stadsraad. Hier moet ek nou die kantoor met ses ander dames deel, sowel as die toesighoudende oujongnooi wat ons uit haar glas kantoortjie soos ʼn wafferse valk dophou. Dit was ʼn verligting om weg te kom uit die kantoor waar die ander dame soos ʼn goed opgeleide skoorsteen gerook het, maar ʼn groter aanpassing om my persoonlike spasie met soveel ander te deel. As die tikmasjiene nie geraas het nie, was dit net ʼn nimmereindigende geklets.
Soms was dit lekker om geselskap te hê, ander dae ʼn bron van irritasie. As jy nie aan die geselskap deelgeneem het nie, was jy ongeskik en is gou uit die groep gestoot en die mens is tog maar ʼn trop dier, al wil jy graag aan die sykant stap. Wat die heel ergste was, was die gevoel dat almal op een of ander manier van almal se doen en late geweet het. Jy het hul gewoontes tuis en op kantoor leer ken, meer van hul liefdeslewe geleer as waarvan jy ooit wou weet, en van al hul brille-en-pille-skete kennis geneem. Genade, die intieme goed wat mense darem so vir almal kan uitblaker is verstommend!
Hulle het gou gewoond geraak dat ek soggens baie vroeg, en heeltemal teen my sin, op kantoor was. Hubby se werkgewer was in die buurdorp en ons het net een motor gehad. Om my die moeite van ʼn busrit te spaar, het hy my dan soggens douvoordag by die kantoor afgelaai. So moes ek en die liewe oujongnooi, Juffrou Van Rooi, daagliks ten minste ʼn uur alleen in mekaar se geselskap deurbring. Buiten dat ons ten minste drie dekades uitmekaar gebore was, het ons verder ook nie juis dieselfde belangstellings gehad nie en na ons gegroet het, was die stilte soms maar goed ongemaklik.
Juffrou Van Rooi mag miskien ʼn oujongnooi gewees het, maar sy was geensins skaam om ʼn gewillige man nader te wink vir ʼn gesellige ete in haar geliefkoosde restaurant nie. Al het sy heel gepas nooit haar persoonlike lewe met die res van die kantoor gedeel nie, was almal daarvan bewus as sy die vorige aand uitgegaan het. Die stank van haar geliefkoosde slakke-in-knoffelbotter het haar teenwoordigheid aangekondig nog lank voordat jy haar gesien het. So ongesiens moontlik het jy maar ‘n sakdoekie voor jou neus gedruk. Die stank van die knoffel het ons almal na ons asems laat snak. Niemand het die rede vir haar ongetroude status geweet nie, maar haar liefde vir knoffel het heel waarskynlik enige potensiële maat onmiddellik die hasepad laat kies!
Ewenwel, terwyl sy soggens vroeg met haar dagtaak begin het, het ek soms ʼn handwerkie saamgebring om daardie eerste uur om te kry. Ander dae het ek uit pure verveeldheid die woordeboek nadergetrek om te lees. Al is dit nie iets wat ek op ʼn normale dag gedoen het nie, het ek dit wel geniet om nuwe woorde te ontdek en die betekenis daarvan te leer, en hierdie kennis het my goed gehelp wanneer ek blokkiesraaisels ingevul het.
Een oggend, nog voor die horlosie sou aankondig dat ons werktyd amptelik begin, het die dames soos gewoonlik, eers bietjie navraag oor ander se huislike lewe gedoen. Buiten vir daardie betrokke oggend, kan ek nou nie juis onthou of enigiemand ooit spesifiek na die welstand van Hubby gevra het nie. Ewenwel, in my totale jeugdige onskuld sê ek toe dat hy “heel hups is, dankie.” Bedoelende, dit gaan baie goed met hom, hy is gesond en vrolik.
Wel, nodeloos om te sê, die hele spul het omtrent op die vloer gaan lê soos hulle gelag het. Trane het vrylik geloop en dit was geensins uit simpatie nie. Die manier waarop hulle na my gekyk het, het my wange al hoe warmer en rooier laat brand. Daardie “ek weet wat het julle gisteraand gedoen”-kyk het werklik nie woorde nodig nie.
Blosend, verward en baie skaam, vlug ek na die hoektafel waar die woordeboek lê. Ek soek die betekenis van “hups” op en sien dat my interpretasie daarvan inderdaad korrek was. Maar, daar is nie salf te smeer aan ʼn persoon wat iets nie wil glo nie, en niemand wou die eintlike verklaring van hups hoor nie. Dit moet maar moeilik wees wanneer jy eerder toegee aan groepsdruk en onder ʼn wanindruk bly, as wat dit is om die ware betekenis van ʼn woord te leer. Dalk verwag ek net te veel van mense wat nie genoeg omgee om iets nuuts te leer nie. In hul oë was die betekenis, wel, uhm, om die kat in die donker te knyp en niks en niemand sou hulle van iets anders oortuig nie.
Juffrou Van Rooi het miskien nie saam gelag nie, maar sy het ook nie ʼn vinger gelig om te help nie. Niemand sal ooit weet wat op daardie oomblik in haar kop omgegaan het nie. Wou haar mond oophang oor die onbeskofte woord of het sy wel die betekenis daarvan geken maar net niks gesê nie?
Dit mag miskien ʼn argaïese woord wees wat selde gebruik word, maar dit beteken nie dat die betekenis daarvan deur die jare verander het nie. En, het ek dit ooit weer gewaag om daardie spesifieke woord in enige geselskap gebruik? Nie in ʼn miljoen jaar sal dit ooit weer oor my lippe in enige geselskap glip nie. Ek mag soms daaraan dink, maar sal dit nooit weer uitspreek nie.
Maar, al sal ek dit nie hoorbaar uitspreek nie, kan ek seker nog steeds vra, “hoe hups voel jy vandag?” Is dit jou daaglikse ingesteldheid, of hou jy meer van mor en kla oor alles en nog wat waarin niemand in elk geval belangstel nie?
(Volgens die Afrikaanse woordeboek (HAT) beteken hups “lewendig; opgewek; flink; nie dooierig nie”.)
©Susann Moolman
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Oktober 2024 – Afrikaanse woord projek