In my ma se tuin was daar ’n vyeboom
Mamma
as ek kon sou ek vandag
’n draai by jou wou maak
met melktert en geel blomme
en sjokolade na jou smaak
ek sou die hekkie na jou tuin oopstoot;
die paadjie na jou voordeur loop
en aan die riffelruitjies klop
ek sou langs jou sit
op jou voorhuisbank
en later deur jou tuin gaan stap –
daar waar vrugte- en amandelbome
(eens) so deurmekaar kon lap
ou dae se herinnerings
sou aan my lyf kom raak
en ek sou weer onthou
hoe soet die sagte vye
in jou skotteltjie kon smaak
© Carma Shaw
10 Mei 2020
5:42
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.