Jimmy se kafee (Goud)
by ‘n tafeltjie vir twee
by Jimmy se kafee
sit ek in solo
met my koffie
in die son
ek dink aan hierdie dag
aan gesprekke wat nog wag
die lewe en sy goed
die mens en sy gemoed
die hymerings en mymerings
en alles wat verbrand
tot rook en roet
ek dink aan wat gebeur
met die wêreld en sy weë
sy einde en die tyd
wat ons nog hier gaan verslyt
die glinstering en kentering
en alles wat nog kom
van suur tot soet
ek dink aan die sielespel
in die hemel se kapel
wie die opperskuif gaan maak
wat die laaste siel gaan raak
aan die roerings en die skuddings
en alles wat nog wag
in angs en bloed
ek sien my lewe weer
en hoe vinnig dit gebeur
hoe die tyd vir niemand stilstaan nie
of eens weet van jou verbygaan nie
en die lerings van my nerings
en alles oor my ek
vergaan vir goed
ek vat weer die leisels vas
en hervat die lewenspas
in die rigting wat bepaal
of ek my liefdesdoel behaal
en die dienings en die sienings
van alles hier tersaak
los ek vir goed
by my tafeltjie vir twee
by Jimmy se kafee
met ‘n laaste
slukkie koffie
in die son
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die September 2021 – Positiwiteit projek