Jongste aktiwiteit:

Julie 2023 – OOP projek- Kommentaar en uitslae

Baie geluk aan hierdie 13 lede!

Wenners

Goud:
1ste-NO 11 Loretta Szikra met Dorsgety
2de -NO 12 Loretta Szikra met Tussen dagbreek en drome
3de- NO 14 Elmarie Nienaber Van Kampen met Volmaan

Silwer:
1ste-NO 29 Elize Kruger met Natuurstudie
2de- NO 40 Marlene Erasmus met Liefdeswens(digsoort: Sedoka)
3de- NO 35 Paula Paxton met Letters

Brons:
1ste-NO 10 Lizanne Kruger met kleinletters vir ’n vooskop
2de- NO 46 Colin Steyn met Ek wéét
3de- NO 25 Charlene Jordaan Kotzé met onrustig

MENINGSTUKKE:
1ste-NO 1 Amanda de Meillon met Respek vir twee wiele

ARTIKELS:
1ste-NO. 3, Marlene Erasmus met Sinéad O’Conner se stem raak stil
2de- NO 1, Marlene Erasmus met Tupperware-triomf:’n era van plastiek
3de-NO 2 Ano met Wat lei tot die tragedie van gesinsmoorde?

RUBRIEKE: GEEN

VERHALE:
1ste-NO. 5, Fanus Strydom met Toe val die Lig
2de- NO. 1 Hester Steenkamp met Grond en olywe

KOMMENTAAR:
 
Gedigte:

BRONS

    1.Die spasies tussenin
Die konsep waarop die vers gebou is, is aangrypend en boeiend. Wat ek egter tóg gevind het is dat die gedig ná die 4de stansa onnodig uitgeryg en verleng word. Die totale nuanse in die vers word oortuigend in die eerste 4 versvoete behoorlik behandel en oorgedra. Dit is asof die digter self nie oortuig is dat die boodskap ten volle oorgedra is nie en dan verder buite die karakter gaan delf vir addisionele ondersteuning vanuit die kosmos. Myns insiens is die vers voldoende, geslaagd en oortuigend sonder die 3 laaste kwatryne en die monosteek.

  2.L-e-w-e
Die tipografie hierin is, en ek wil baie eerlik wees, slordig. Die vers wissel-val tussen kwatryne, koeplette, ‘n monosteek ensovoorts. Die keuse van die titel en die monosteek wat met koppeltekens aangebied word blyk ook nie vir my die optimale keuse te wees nie. Stansa 1 en 3 word as ‘n vraag, retories of andersins, aangebied sonder die gebruik van ‘n vraagteken as punktuasie. Die inhoud voel ook nie asof daar ‘n goue draad deurtrek nie, maar kom eerder as losstaande gedagtes voor.

3.Ek het jou gedra
Ek sou wou sien dat die “Ek het jou gedra” nie by die aanvang van elke stansa herhaal word nie. Dit is vir my persoonlik steurend. Dit kan maklik reggestel word. Die res van die vers en die inhoud in geheel is keurig, alhoewel dit soms aan geyktheid grens. Mooi gedoen in elk geval.

4.Nag van verlange
Ek sou aanraai dat jy die openingsin van jou vers só aanpas: “Kaapstad gooi sy flinkers oor nag én lyf…” Die “se” keuse is so effe lomp.
Die tipografiese aanbieding van ‘n versameling tersette is netjies en mooi. Die inhoud is keurig alhoewel ek met sekere van die denkresultate ‘n voorbehoud het, en as voorbeeld, dat Tafelberg met ‘n lenige lyf beskryf word, nie in werklikheid, selfs in beeldspraak, enigsins waar kan wees nie. Die inhoud van die vers is egter keurig. Daar is mooi beelde hierin.

  7.Vrou van die straat
Die sentiment hierin is mooi maar die aanbieding is herhalend. Miskien sou die vers beter lees indien jy die in stansas gebreek het en nie een elle lange vers nie. Ek dink die vers kan baat met redigering.

8.Adonis
Die gebruik van die korrekte, selfs enige, aksente soos deeltekens op woorde soos breëbors en oë, is nie net eenvoudig netjies nie maar ook nodig as ‘n spelreël. Om dit goedsmoeds uit te laat net omdat u nie weet hoe om dit op die rekenaarstelsel in te voeg nie, is onaanvaarbaar. Ek beoordeel nie verse waarin spelfoute so moedswillig deel is van die aanbieding nie.

10.kleinletters vir ‘n vooskop
Die dubbelontkenning is eintlik ‘n spelreël in Afrikaans waar die eerste “nie” deur ‘n opvolgende opgevolg word. Wat ek egter in jou vers geniet, en daarom die reël ter wille ignoreer, is dat dit dalk die vloei en ritme hierin kan belemmer. Die lukrake gebruik van “crazy” en “fuse” het my aanvanklik gepla, maar met ‘n herlees en ooroorbesinning wil dit voel asof dit by die toon en atmosfeer van die gedig pas. Ek hou baie van jou vers wat diep delf in die warboel van gevoelens. Briljante vers.

  13.Bloediamante
Ek is geamuseerd deur die verpersoonliking van hierdie dooie blinkklippie wat die slegste in die mens te voorskyn bring. Die tipografie is mooi hierin. Ek weet net nie of die losgemaal van ‘n versameling woorde, hoe korrek en gepas ookal, die beste weergawe van ‘n gedig is nie. Ek hou van jou aanslag maar ek dink die woordkeuses en wyse waarop dit aangebied is kon dalk minder “telegrammaties” gewees het.

18.Aanraking
Die rympatroon is mooi en nie werklik geforseerd nie, maar sekere van die woordkeuses laat vrae ontstaan. Is dit werklik die gevoel van die digter of is dit selfs gebruik om die rympatroon te laat slaag? Gun my ‘n voorbeeld: bewoë (s2l3) word dadelik opgevolg in die volgende sin met “vreugdevolle”. Die digter het nie die outonomie om beste van beide wêrelde te hê nie. Daar kan mos nie hartseer én vreugde gelyk wees nie, en daarom wil dit lyk asof “bewoë” slegs ingespan is om met “oë” te rym. Verstaan jy wat ek hiermee bedoel? Waak teen die strik van geforseerde rym: dit is ‘n klein jakkals wat maklik die beste digintensie kan verskeur. Die res van die vers is keurig.

22.Lighuis
Jou vers is swaar geyk. Daar is vir my nie ‘n kriesel varsheid hierin wat nie deur duisende digters voor jou reeds gesê is nie. Die kort sinne (een woord) klink en lees soos ‘n swak voorbereide flitskaart uitstalling. Ek is dalk oordadig streng, maar om in hierdie genre te presteer moet ons maar die kritiek sluk en streef om uit te staan.

23.Gevangene
Ek het hierdie vers meer male gelees as wat dit vir my gemaklik was, nét om te probeer sin maak van die kakofonie. Daar is ‘n aggregaat van gedagtes waar die een met die ander geensins verband hou nie. Dit is soeke na vryheid, winkelgoedere, diere en kinders ens. ens.
Verduidelik die sin: “kinders plus reëls is gelyk denke wat vloei;” Ek breek my harspan om sin te maak maar helaas, geen vreugde.

24.Smekend
Nee! So vers onderskat my intelligensie en verkrummel my liefde vir poësie.

    25.Onrustig
Ek wonder of jy in jou gedig verwys na Fowler se teorie oor die stadia van geloof, en of jy eerder verwys na iemand (fowler) wat voëls jag deur strikke te stel? Die res van jou gedig laat my dink jy verwys na die “teorie” en daarom (as dit so is) vind ek jou vers baie slim. Die menslike toestand van veg om bestaan en daarin die innerlike gestoei om steeds te glo aan uitkoms, voorspoed en bestaan. Ek het aanvanklik gedink die vers eindig té stomp maar met behoorlike oorweging sien ek die simmetrie daarin. Welgedaan.

26.Wintermaand in die Boland
Hierdie gedig is deurspek met spelfoute, slordige sinskonstruksie en sub-par tipografie. Daar behoort ‘n standaard van akademiese trots te wees, altyd, en veral as ons as digters verwag die moderator moet ons werk lees en beoordeel. Dit is onnodig om te sê, selfs al is ‘n skrywer ‘n beginner en neem hul in die bronsklas deel, daar is eenvoudige reëls waaraan gehoor gegee móét word.

27.Botterblom vrou
Die titel kan gerus as een woord gebruik word. Die digter moet besluit of die vers in eerste, tweede of derde persoon geskryf word. Jy kan nie lukraak tussen hierdie keuses spring nie. Die vers is vol spelfoute, sonder aksente soos deeltekens en die hakie op die ‘n. Die sinskonstruksie is slordig, lank en totaal ontneem van ‘n identifiseerbare metriese ritme. Ons moet ‘n akademiese trots handhaaf, hetsy beginner of meer vertroud met hierdie kunsvorm.

30.Toentertyd se grootmaak proses
Die gesegde is: “skoenmaker hou jou by jou lees” ; geseëvier sal só gespel word en die hakie op die ‘n moet korrek wees. Ek verstaan die sentiment hierin maar die gedig lees swaar met lang stansas, lang sinne en die gebrek aan punktuasie. Ek dink hierdie vers sal veral goed daaruit sien indien jy dit redigeer en funksionele punktuasie gebruik.

  33.Ek soek jou
Ego is die eie ek, waar eggo ‘n weerklank is. Jy het die verkeerde opsie gebruik in (s1l2). Kyk hoe kan ‘n paar aanpassings ‘n gedig se gewigtigheid verander: (Stansa 2)
“Ek soek jou in die bosveld
waar die wind asem ophou,
en droë rivierlope my trane inneem
‘wyl sonbesies ween oor my verlies
en kwêvoëls haastig verkas
– alles was eens net nóg ‘n dag.”
Ek hou van jou vers. Dit is teer en aards maar met klein aanpassing (soos hierbo) kan die gedig ‘n groot impak maak.

  34.Tammeletjie
Ek vind jou gedig swaargeestig, kripties en arm aan metriese ritme. Die gedig kan baat by redigering om die potensiaal te ontsluit.

37.Vals note
Met die konstruksie van die gedig is daar akademies geen tekort nie, maar die inhoud vermoei die leser omdat dit van gedagte tot gedagte spring. Daar is ook ‘n wisselvallende rympatroon wat nie netjies lees nie.

  38.Agter die skynglas
Daar is soveel woorde wat herhaal word in die vers dat dit steurend is. Die gouedraad wat hierdeur getrek behoort te word ontbreek ook. Ek is verward deur hierdie vers en daarom kan ek nie dit werklik goed beoordeel nie.

  39.Breek los! 
Dit is nie meer gebruik om elke sin met hoofletters te begin nie. ‘n Geaprektrant in poësie maak altyd die aanbieding meer eerlik, maar as skrywers moet ons waak om nie ‘n gedig in prosa te omskep nie. Ek vind ook dat lesers nie daarvan hou as ‘n gedig ‘n predikerigheid bevat nie. Jou gedig is gevaarlik naby aan beide.

41.Toekoms van hoop
Hoofletters by die aanvang van sinne in poësie sonder voorafgaande punktuasie het in onbruik geraak reeds jare gelede. Waak daarteen. Jou vers is in die enkel persoon (ek, my) dan spring dit na “ons” en gaan weer terug na enkel. Daar is ook herhaling van gedagtes wat onnodig is.

  44.Wet van liefde
Ek ondervind ‘n gebrek aan vloei in jou vers. Dis ‘n versameling los gedagtes waarmee die digter hoop om ‘n geheel te skep maar faal. Dit is predekerig en woordoorbodig.

46.Ek wéét
Dit is n teer, aards en eerlike vers uit die hart. Die woordkeuses, die konstruksie, ritme en metrum hierin is pragtig. Dit is werklik mooi poësie wat in ‘n sterk crescendo sluit. Welgedaan.

47.Psalmus meus lucis
Dit is n moeilike gedig om te volg, woordoorbodig met wat my betref, geheel té veel inligting. Soms is minder meer en maak die gedig dus makliker sin. Ek verskil ook van mening oor die tipografie wat in ‘n versameling koeplette aangebied is wat steurend op die ritme inspeel. Die gedig kan baat by redigering.
 
    48.Sewevoudig
Die gedig is keurig alhoewel ek nie werklik verstaan na wie of wat die “jou” verwys nie. Ek dink die vers is steeds beeldmooi en interessant

SILWER
 
    5.Die melkweg
Die gedig ongelooflik woordswaar en grens aan ‘n sensoriese oorlading. Parkykeer is minder meer en kan die leser kophou. Ek is oorweldig met al die inligting wat hierin vervat is.

  6.Briefie in die sand
Ek dink daar bestaan iewers in jou woordeskat en in die aanslag van jou skryftalent ‘n beter weergawe van hierdie vers. Dankie vir jou deelname.

  9.bedaard
Ek vind die gebruik van geyk (L3) baie interessant. Wat beteken dit vir jou in hierdie konteks veral met die verwysing na grondpaaie? Geyk, wat verouderd (onder andere) beteken kan sinspeel op ouderdom  maar met grondpaaie as verwysing, sou geëts nie beter bruikbaar wees nie?
Die gebruik van periferaal (wat jy verkeerd gespel het) maak ook nie sin in die konteks nie. Dit beteken “ruimtelik, omliggend of meetkundig” Dit maak dus geen sin nie. Die gedig poog om slim te klink maar dit oortuig my glad nie. Die slot is egter mooi. Dankie vir jou deelname.

16.Blare
Nie-indrukwekkend. Dankie vir jou deelname.

  17.Herfs
Die tipografie is interessant maar dit is waar die opwinding vir my eindig. Geykte vers wat oor geen oorspronklikheid beskik nie. Dankie vir jou deelname.

19.Vir Elma
Ek weet dit moet emosioneel wees, maar die aanbieding het my in sy geyktheid verveel. Dankie vir jou deelname.

  28.Brief uit Boesmanland
Die sinne is té lank. Dit lees eerder soos prosa en nie ‘n treffende gedig soos dit hoort nie. Dankie vir jou deelname.

29.Natuurstudie
Dit is vir my ‘n perfekte voorbeeld van ‘n sterk gedig wat met die leser praat en in sy brose eerlikheid ‘n sterk boodskap oordra. Jou vers is slim, raak, oor denklik en uiters goed versorg. Welgedaan.

35.Letters
Ek wil myself verstout en klein bietjie filosofies raak aangaande die inhoud van jou vers. Ek dink dit is gevaarlik om te aanvaar dat elke gedig wat pad vind papier toe, ten alle tye die waarheid is. Miskien pak jy jou digwerk so aan, maar wat waarheid vir een is, is nie werklik vir andere so nie. Dit daargelaat. Die inhoud van jou vers is werklik keurig. Miskien die herhaling van “bladsye” kon vermy gewees het. Jou rympatroon is pragtig on ongeforseerd. Werklik ‘n mooi stukkie werk.

36.Onweersdag
Selfs één spelfout in poësie is ‘n onvergeetlike aanklag teen die ordeskepping van die ernstige digter. “Ventsters” moet seker nog ontdek en gepatenteer word, maar tot dan vergeef ek swaar aan sulke onnodige “glipsies”.
Die herhaling van treur kon ook vermy word. Daar bestaan ‘n legio sinonieme nl. Verknies, bedroef, smart ens. ens.

40.Liefdeswens (Sedoka) 
Ter inligting vir die ander digters wat die kommentare lees: ‘n Sedoka vers bestaan uit twee tersette waarin daar 5-7-7 lettergrepe onderskeidend in elke sin voorkom. Jy het dié digvorm pragtig baas geraak. Die inhoud is keurig en die aanbieding is pragtig.

GOUD
 
    11.Dorsgety
Hierdie is die soort vers wat my liefde vir hierdie kunsvorm onderhou. Sulke verse voed die diepste hunkering wat ek het om die skoonheid van Afrikaans is haar grootsheid gade te slaan. Jou talent hiein, jou kennis van die kunsvorm en jou volmaakte aanslag om ‘n treffende vers te skryf het my beïndruk. Hierdie is ‘n wenner soos min ander. Onoortroffe.

12.Tussen dagbreek en drome
Die vers is so ryk aan besonderse beelde dat dit sommer my tone laat krul. Dit is ongelooflike sorgsaam en keurig voorberei en aangebied. Ek voel ek was daar toe díé dag gebreek het. Pragtige werk.

14.Volmaan
Die vers is keurig. Ek sou wou sien dat dit minder stomp eindig om die waarheid te sê. “Donker” se metriese toon op die twee lettergreep is sag. Draai donker en lig om dan sien jy watter groot verskil dit maar. Keurig nietemin.

15.Liefdesbaan 
Daar is niks akademies verkeerd met die vers nie. Die inhoud is keurig en mooi versorg. Dit laaste terset is egter voorspelbaar asof die leser wag vir dié spesifieke uitkoms.

20.Net ek en die wind
Ek wonder of die visarend beeld in die beton oerwoud werklik raak is. Kry mens visarende in die middedorp? Sulke vrae ontstaan altyd by my as ek deur jul gedigte lees en wonder dan of die digter dit genoegsaam oorweeg het. Jy vers is egter keurig en mooi versorg.

21.My land, my lewe, my liefde
‘n Keurige vers. Ek het geen kritiek te lewer nie.

  31.Namibnes
Alhoewel ek baie van die “nes” beeld hierin hou is die gedig net eenvoudig té slordig aanmekaar geweef. Daar is werklik ‘n tekort aan funksionele punktuasie waar dit nodig is. Die gedig lees soos een langasemsin wat sukkel om die crux oor te dra. Die vers sou baat by ‘n geselkteerde groepering van stansas en die gebrek aan rusplekke vir die leser laat ons moeg.

32.Gesteelde spasies
Alhoewel ek baie van die inhoud hou dink ek werklik hierdie spesifieke vers sou baat by funksionele punktuasie. Die volta hierin is treffend.

 49.Klipwysers
Dit is werklik ‘n reis langs die Weskus op. ‘n Heerlike pad-vat vers wat lekker lees en sommer so op die koop toe nuwe plekkies aan die leser bekend stel. Interessante titel en die vers sluit ook mooi.

50.Voornemens
Wat ‘n interessante, ritmiese gedig wat lekker lees en lieflik vrolik is. Baie goeie vers. Welgedaan.

MENINGSTUKKE:
 
    1.Respek vir twee wiele
Dankie vir jou meningstuk. Natuurlik lê skoonheid en oordeel in die oog van die behouer.
Jou aanbieding is keurig en netjies. Dankie vir jou deelname.

ARTIKELS:
 
    1.Tupperware-triomf: ‘n era van plastiek
Jou artikel is pragtig nagevors en sorgvuldig vol interessante inligting aangebied. Baie dankie vir jou sorgsame meningstuk. Pragtig.

2.Wat lei tot die tragedie van gesinsmoord? 
Ek dink jy het die artikel goed nagelees en probeer sin maak van hierdie uiters hartseer fenomeen. Jy haal genoegsame bronne aan maar ek is versigtig om jou die eer te gee want in jou bronnelys gee jy slegs twee artikels aan. Ek vertrou jy het jou eie woorde gebruik en nie nét andere se artikels aangehaal nie. Jou artikel is egter goed versorg en dit behandel die tema goed.

3.Sinéad O’Connor se stem raak stil
Die artikel is mooi nagevors. Pasop vir klein jakkalsies soos “wee” plaks van “weer”. Sinne soos “Sinéad se lewe is gekenmerk deur onstuimige kenmerke.” lees nie mooi nie. Die herhaling maak die konstruksie lomp. Verder het ek lekker gelees hieraan.

RUBRIEKE
 
    1.Geheim van die woud
Die artikel is meer van ‘n biografie op iemand se lewe en nie werklik ‘n persoonlike ervaring of filosofie nie. Let op sinskonstruksie. Dit klink en lees altyd beter as die selfstandige naamwoord (geskiedenis) die bywoord (verkeerd) voorafgaan, m.a.w. “Dit is wat met die geskiedenis verkeerd is.” en nie andersom nie.

    2.Kinderspeletjies
Alhoewel ek grootliks en oorkoepelend met jou sentimente hierin saamstem, en die erns en belangrikheid daarvan terdeë ondersteun, is jou skrywe egter nie ‘n rubriek nie maar eerder ‘n artikel. Daar is werklik ‘n groot onderskeiding tussen die twee en ons moet nie die grense lukraak oorsteek nie. Sou ek as moderator dit toelaat, dan maak dit mos een van die genres onnodig. ‘n Artikel is ‘n nagevorsde skryfsel wat met ‘n bronnelys aangebied word, terwyl ‘n rubriek ‘n persoonlike, filosofiese benadering is tot die menslike toestand en ervaringe.

  3.Leef u kind in ‘n warm of koue huis? 
Alhoewel ek met die sentimente hierin saamstem is jou skryfsel ongelukkig nie ‘n rubriek nie. ‘n Artikel is ‘n nagevorsde skryfsel wat met ‘n bronnelys aangebied word, terwyl ‘n rubriek ‘n persoonlike, filosofiese benadering is tot die menslike toestand en ervaringe.

    4.Genade water. 
Die sinskonstruksie is nie netjies nie. Let asseblief ook op spelling.

5.Medemens, brood en liefde. 
Sinkonstruksie en spelling laat veel te wense oor.

VERHALE:
 
    1.Grond en olywe
Dit is sag, eerlik en mooi vertel. Oulike verhaal. Mooi gedoen.

  2.Verfoeilik, veraglik
Die storie is nie netjies gekonstrueer nie. Daar is spelfoute en die hele skryfsel lees baie moeilik.

3.Uncle en sy blue bird of happiness
Die Sinkonstruksie is nie netjies nie. Daar is kort sinne wat haak en lang sinne wat die leser moeilik lees. Die verhaal kan ontwikkel word maar dit skort ernstige redigering.

4.Die skaal lieg nie
Goeie poging om ‘n komiese verhaal te vertel. Let op spelling: selfs een is té veel.

5.Toe val lig
Dit is n pragtige verhaal wat goed ontwikkel is. Selfs die karakters is goed ontwikkel en die dialoog is sonder veel inspanning mooi in die verhaal verweef. Welgedaan.

Indien julle die wenplasings wil gaan lees klik op hierdie skakel asb: https://ink.org.za/biblioteek/projek-wenners/ 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed