Jongste aktiwiteit:

Reuse en dwergies (Goud) 319 Woorde

Sy liggaampie is klein.  Wanneer mens sy liggaamsbou vergelyk met dié van ‘n volwassene, is hy ‘n dwergie teen ons, die reuse.

‘n Kleuter huisves ‘n groot binnekant. In sy kop lê ‘n verstand wat elke dag inneem en verwerk, leer en onthou.  Die hartjie speel gasheer vir groot uiterstes: wanneer hy hartseer is, huil hy klíphard – net om die volgende oomblik borrelend te lag en te bokspring terwyl die trane nog oor sy wange loop.

‘n Kleuter leer maklik en vinnig.  “Woorde wek, maar voorbeelde trek”, speel die belangrikste rol in ‘n kleuter se opvoeding.  Dit waaraan hy van kleins af blootgestel word, sal hy buite gaan uitleef.    Wanneer hy in skeltaal aangespreek word tuis, of kortaf antwoorde op sy talle vrae kry, gaan hy dalk waar hy ookal kom, die taal praat wat hy daagliks hoor.  As Pappa soms hardhandig aan hom of Mamma raak, of hy moet aanskou hoedat die hond deur ‘n ongeduldige grootmensskoen uit die pad geskop word, gaan hy wreedheid as normaal begin beskou en dit heel moontlik ook eendag so uitleef.  Dan gaan hy ‘n dwergie in ‘n reus-lyf wees.

Daarom moet woorde oorgaan in dade.  Praat mooi en beleefd met hom, soos met die mense daar buite.  Laat jou maniere elke dag onberispelik wees, soos wanneer jy baie belangrike gaste aan huis het.  Raak sag aan mekaar.  Kry professionele hulp as alles te veel raak.  Dit is hoe hy gaan leer om ‘n reus van binne te bly en nie ‘n dwergie te raak soos hy ouer word nie.  Laat jou kleuter opsien na jou.  Nie net omdat jy liggaamlik groter is as hy nie, maar ook geestelik.  Dan sal hy jou woorde en dade in liefde aanvaar en sy eie maak.  In sy hart lê ‘n groot liefde sluimerend en wagtend om in die regte omstandighede vinnig te ontkiem en alles om hom toe te rank.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed