Jongste aktiwiteit:

Eendag lank gelede Brons

Eendag lank lank gelede….
Het julle al opgemerk dat al die kinderstories begin met eendag, lank, lank gelede. Presies wanneer was
lank, lank gelede? Ek het dit bietjie gaan navors en tot die volgende ontdekking gekom. Dit was baie
lank gelede. Dit was so lank terug dat google nie eens die antwoord kon kry nie. Maar toe kom ek op
die volgende staaltjie af en toe maak dit vir my sin.
Eendag, baie baie lank, lank gelede, net toe die aarde gemaak is, was daar ‘n ertjiepit wat begin groei
het. Dit het net gegroei en gegroei en gegroei. Die ertjierank het so lank en hoog gegroei dat die ertjies
in die wolke ingegroei het en hulle water somaar uit die lug uit gekry het en nie uit die grond nie. Die
ertjierank se stam was so dik soos ‘n groot kokerboom. Die peule was so groot soos branderplanke en
die ertjies so groot soos sokkerballe. Die voëltjies, die apies en die slange het heerlik saam gewei daar
bo in die wolke. Van tyd tot tyd het die apies per ongeluk die ertjies mis gevang wanneer hulle gespeel
het en dan het dit soos ‘n meteoriet op die grond geval en dan ontplof. Die dinosaurs en kameelperde
het die ertjies gevreet wat hoog bo in die rank gegroei het en die olifante het die blare met hulle slurpe
probeer buig. Die skape en beeste het die wat op die grond geval het, nadat die apies dit laat val het,
gevreet. Daarom was die ertjierank baie gewild en al die diere het hulle en binne en onder die ertjierank
tuisgemaak. Bo in die takke, net bokant die wolke, het Goliat en sy gesin gewoon. Aanvanklik het
Goliat ‘n klein huise op die rank gebou, maar soos die rank groter geword het het hulle al hoër die lug
in gestyg en het die huis al hoe groter geword. Goliathet later ‘n reus geword van al die groei saam met
die ertjierank.
Goliat se ma het onder in die bos gebly, in die land van die kaboutertjies. Sy was al oud, het aan
hoogtevrees gely en kon en wou nie meer teen die rank uitklim nie. Toe besluit Goliat se dogter, Goue
Lokkies, eendag om vir haar ouma onder in die bos te gaan kuier. Dit was ‘n ver pad daarom het sy haar
tassie gepak, twee ertjies saamgeneem vir die pad en een lekker ertjie wat sy in haar rugsak gepak het
vir ouma waarmee sy kon sop kook. Toe vat sy die rank af grond toe. Goue lokkies was baie lank
gelede onder op die grond en toe sy grond raak, besluit sy om van die ertie se saadjies langs die pad te
strooi sodat sy weer maklik haar pad terug sou kon vind, maar die voëls het dit opgepik. Dit het al
begin donker word en Goue Lokkies het begin koud kry. Hoe donkerder dit geword het, hoe banger het
sy geword. Daar bo, so naby die son, het dit nooit donker of koud geword nie. Gelukkig kon sy darem
haar ouma se huis se liggies in die verte sien. Terwyl sy nog so loop kom ‘n kaboutertjie daar verby en
vra haar waarheen sy op pad is.
“Na my ouma in die bos.”
“Het jy haar adres?” Sy gee aan die kaboutertjie die aanwysings en hy tik dit dadelik op sy GPS in.
“Sjoe, dit is nog baie ver en dit is gevaarlik daar buite. Wil jy nie by ons kom oorslaap vanaand nie?
Dan stap ek more saam met jou tot by jou ouma.”
Goue Lokkies was baie moeg en honger en maar te dankbaar neem sy die uitnodiging aan. Die
kabouter het ‘n mooi strooi huisie gehad waarin hy en sy drie boeties gebly het. Net toe hulle aansit om
te kom eet, hoor hulle egter die nare wolf buite.
“Kaboutertjie, het jy vir my bietjie kossies? Ek is so honger.”
Kaboutertjie een sê nee en toe word wolf so kwaad dat hy die huise omblaas. Goue Lokkies en die
kaboutertjies hardloop so vinnig soos wat hulle beentjies hulle kon dra, sodat wolf hulle nie kan vang
nie en in die proses verloor sy die mandjie wat sy vir haar ouma wou saamvat. Moses se ma het later
die mandjie opgetel toe sy Moses in die rivier wou gaan wegsteek. Baie later kom Goue Lokkies en die
vier kaboutertjies toe aan by die huis van die drie varkies, ‘n mooi houthuisie, en hulle kruip toe daar
weg.
Maar die drie varkies het net kos vir Pappa Vark, Mamma Vark en Baba Vark en kaboutertjie en Goue
Lokkies is baie honger. Daar stap toe voor die venster ‘n seuntjie verby met drie broodjies en twee
vissies en hulle koop dit toe by hom sodat almal genoeg het om te eet. Toe dit nog kouer word, stook
hulle die vuur in die kaggel. Toe wolf weer klop en probeer huis omblaas en hy nie slaag nie, klim hy
op die dak, val deur die skoorsteen en beland in die kokende pot water. So het kaboutertjie en GoueLokkies toe somaar genoeg kos ook vir die volgende dag en sy pak ‘n lekker groot kosblikkie vir die
tog na haar ouma. Die volgende oggend stap kaboutertjie toe saam met Goue lokkies soos hy belowe
het en kom by ouma se huis. Kaboutertjie groet en stap terug. Goue Lokkies het lekker gekuier en
lekker geëet by ouma, want sy ouma se huise was van sjokolade gemaak. Toe sy halpad teruggestap
het, word sy weer moeg en gaan lê onder ‘n boom om ‘n rukkie te gaan slaap. Terwyl sy slaap, kruip
skilpad stadig by haar verby. Toe Goue Lokkies haar oë oopmaak, sien sy vir Liewe Heksie daar
verbyvlieg op haar besem en vra of sy nie haar kan saamneen nie, want sy is baie moeg. Liewe Heksie,
willig in, maar stop eers by die naaste ATM sodat Goue Lokkies haar geldjies vir die terugreis kan trek
en betaal. En so kry nog ‘n kinderstorie ‘n gelukkige einde.
© HENN




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed