Jongste aktiwiteit:

Korrelkind – ʼn elegie oor Ingrid Jonker

Jou woorde lê vandag nog in staatsie in vele taal.
Jou verse stort die bloed van jou onstuimige verhaal.
Plattelandkind wat as nomade jou hart hiëroglief,
waarom behandel die lewe jou tog so stief?
Vandag lê jou wese as spieël só ontleed en kaal.

Jou bekende vader op apartheidspolitiek se troon,
het jou en jou moeder se vertroue verloën.
Die soeke na vastigheid in die maalkolk van jou siel,
is op vele woonstel- en losieshuismure soos graffiti verniel.
Jy’t jou hart verloor na “Ontvlugting” se druk,
maar trou se wenstapyt is onder jou voete uitgeruk…
Soveel minnaars, soveel soeke geaborteer
en nes jou moeder, is die psige deur jou pyn verweer.

Jou ontvlugting soos rotskuns op jou klipkou geskryf –
ʼn ontsnapping in teks wat die gebroke wêreld probeer verdryf.
Jy soek na volmaaktheid in aanvaarding gegiet,
maar verhoudings se skerwe beteken als is verniet.
Slegs smart is volmaak in die nag oor jou see,
waar jy aan profetiese woorde in rym uiting gee:
“My lyk lê uitgespoel in wier en gras
Op al die plekke waar ons eenmaal was.”

Verwerping van jou vader nóg ʼn kerf verhef:
Jou standpunt oor ons land wou hý nie besef.
Jy sou so trots wees dat Madiba jou woorde aanhaal,
want “Die Kind” se beeldspraak was aktueel en spesiaal.
Maar het jy ook hier na jóú apartheid verwys –
die kind wat met haar pas van oordeel deur haar wêreld moes reis?
“Die kind lig sy vuiste teen sy vader in die optog van generasies…”
(Sy’s nie dood nie, want haar woorde spreek nóú nog tot die nasies!)

O, jou digterlike beskrywing van ʼn korreltjie sand
wat verdwyn in die niet uit jou eie skrywershand.
Verklein in jou digwoorde en in jou nietigheid,
ironie in wrang komedie en harde werklikheid.
Tussen jou lyne lê ontroerende beelde gelees
van jou wipplanklewe en jou kinderlike vrees:
“Timmerman bou aan ‘n kis
EK maak my gereed vir die Niks.”

In Drieankerbaai het jou ankerkettings finaal gebreek.
Jou liggaam verdrink na stom soeke en smeek
vir aanvaarding en liefde, in verskuns gemetafoor,
maar met diep hartseer en armoede het jy jou stryd verloor.
ʼn Onbekende predikant het nie die laaste woorde by jou graf gepreek,
maar mede-skrywers het in ootmoed uit jou bundels gespreek.
Hoe tragies en dapper jou selfdood, ʼn lewe ontneem,
en ironies het verdrinking in drank ook jou vaderslewe geneem!

Uit die mure van jou graf weergalm jou woorde steeds seer
en die eggo’s van jou skryfkuns reën postuum oor ons neer.
Soos ‘n disseksie van die siel van ‘n woordkunstenaar,
sal jou woorde lank na jou dood steeds geheime openbaar
om só, as vrye gees, na dié wat lees, terug te keer.

Etna Wepener ©️
30 Desember 2021

Voetnotas:

Gedigte en aanhalings:

Oktaaf 2 – ONTVLUGTING

Oktaaf 3 – DIE KIND

Oktaaf 4 – KORRELTJIE SAND




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed