Maak tyd
“Hallo Mandie”. Die sagte stem ruk ‘n fyn snaar aan my hart. Hoeveel jare het verby gemors. Nou bel sy om te vra ons moet kuier. Wil ek rerig? Ou bande weer optel net om dit binne dae weer te verloor. Tyd genees. Ek kan nie eens onthou watter kleur haar oë is nie.
Ek laat sak die spreekbuis stadig. Die groot K. Hoe wreed maar tog ook verlossend kan dit wees. Wanneer die uitslag ‘n doodsvonnis oor jou kop kom hang. Ten minste weet jy dan hoeveel tyd, maande daar tot jou beskikking is. Dae wat elke sekonde belangrikker maak. Jy kan briewe skryf. Elkeen wat saak maak bel. Daardie laaste vergifnis ontvang. Jou vergryp aan outydse malva poeding en room, net omdat jy mag. Jou laaste myl kan jy met trots loop. Jou oë op God gerig.
Bessie was my tweede oudste suster. Sy was maar 49 toe sy na ons Vader verhuis. Daardie oproep was die laaste wat ek ooit van haar sal onthou. Nee, ek het toe nooit gaan groet nie. Daar was vir my nie tyd nie. Ek het uitgestel. Altyd rede gevind om nie te gaan nie. Vandag sou ek so bitter graag my arms om haar nek wou slaan. Ons kleintyd herrinneringe met haar wou deel. Verspeelde tyd. Verskonings het ons kosbare tyd gesteel.
Weer ruk die nuus deur ons harte. Almal skarrel rond en hou familie vergaderings. Niemand praat daaroor nie. Tog weet almal. Sekondes, ure, dae, maande. Kuiersessies word gerëel. Ons hou hande en bid almal saam. Klou vas aan die belofte dat God wel luister. Ek wonder of mens rerig weet wanneer jou strepie getrek is. Is daar diep in jou hart tog daardie besef. Weke voor die tyd begin jy jou verlede opdelf. Maak jy lysies van wie wat moet kry. Skryf jy notas en grepies neer. Veg jy teen die uurglas wat korrel vir korrel leegloop. Maak jy vrede met ou geraamtes in jou kas.
Stadig word die kuiertjies al hoe minder. Word jy net nog ‘n nommer in die kontaklys op die selfoon. Niemand het tyd om te kuier nie. Sit almal net en wag vir daardie laaste oproep. Dan stroom hulle soos miere na die laaste krummeltjie brood. Stort ‘n kamma traan met een oog op die wit tafeldoek, gedek met pastoorpasteitjies. Ou vriende en familie wat slegs met die lui van ‘n kerkklok die rafels opte. Net om dit weer te laat val sodra die Dominee die kerk se hekke toetrek. Don’t put flowers on my grave. Make time to give them whilst I can still appreciate their tender touch. Bessie se laaste boodskap brandmerk my stukkende hart.
3 Kommentare
-

Kiekies
Mmmm en so kan ieder 'n ietsie bylas op dieselfde trant. Dis goed vir my om sulke goeters te lees. Dankie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2019 projek - TYD