My beminde in ‘n wildevyeboom
aan takke van ‘n vlegsel-stam wildevyeboom
in die middel van ‘n donkernag stad,
hang sawens ‘n saggemaakte maan
soms klein, soms groot, soms lewend, soms dood
sy wortels bogronds geknoop
deur wind en weer getemper,
in rioolwater se opstyg dampe
afgespons en oor gedoop
(sy skouers swaar behang met wilde drome)
in die park skuil hadida’s
vir momente in stomheid vasgevang,
want die maan se saggemaakte hart
het hul skrille skal in moeseliendoek opgehang
in hierdie donker stad
slaap ook my beminde
met my glashouthart teen sy bedstyl gebind,
teen wie se bors ek soms oprol
soos ‘n kaalvoet wegloop kind
in sy kamer is daar ‘n pikswart hings
wat snags donderhoef dawer
oor verre wit strande, oor berge en dale,
soms sprei hy sy vlerke –
skeur ons die hemel tesame
maar in die vlegsel-stam van die wildevyeboom
sit my beminde vasgevang,
daar waar die maan elke aand
aan swaar takke hang.
© Almarie Truter
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Nog n mooi gedigte uit jou pen