want die sterre voorspel
klepels luier teen gegote luid
en die stad ontwaak onder vlerkgegons
van skutbrons duiwe –
oggendstond laag op laag om gebed-oud knieë
priesters en profete pluk wonders
uit die uurwerk van verlede tyd
om kraakvars op te dien met melk en heuning –
doem verbloem in die koorsang van gevalle engele
‘n stil geprewel van binne-buik bewoners
beding halfprys kompromieë
terwyl hulle treë tel
na nog ‘n voorhangsel wat gaan skeur
dag en datum word gelyn tussen sterre en planete,
gesweer teen kristalbou profesieë
deur die vlammegloed van nog ‘n oordeelsnag
sonde dans ‘n loslyf riel wyl vromes eerbiedig kniel
om ‘n voetbank in die koninkryk te boek,
armes van gees drentel wees
want kennis ontbreek oor waar die ondier
gaan kop uitsteek
teen toiingrige some van ‘n gevalle wêreld
kabbel stil waterstrome
in die afwesigheid van nuwe dissipels om te dompel
in wedergeboorte
‘n stad se poorte onbewaak
waar koning en onderdaan bakhande staan –
smekend vir opgaar koring
en vars genade.
© Almarie Truter
3 Kommentare
-
Louie
"armes van gees drentel wees" - Hierdie is werklik n uitstekende rakende gedig.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Pragtig gestel