My Liefdevolle Aardse Ouers
My Liefdevolle Aardse Ouers
As kind onthou ek my liefdevolle ouers
was altyd beskermend rotsvas en sterk daar, en
ek het gedink hulle sal vir altyd onsterflik daar wees —
As die trein vakansies voordag op Karasburg stop en
jou oë sy gestalte op die skemer perron soek was
hy daar, altyd betyds daar, en
ma het tuis sorgsaam vir ons gewag—
Het jy voordag met die luukse bus uit die
destydse Unie oor Noordoewer gekom , het
hy die bus halfpad na Karasburg by Haib ingewag
en kyk jy dan vol verwagting uit op die sterk skemer verlatenheid,sien jy sy gestalte by die Landrover staan,
hy is daar, altyd betyds daar, en
ma het tuis sorgsaam vir ons gewag —
Ghitaarspeler,
vioolspeler, en
ma met haar mooi sterk sopraanstem
het hulle saam musiek gemaak en gesing,
godvresend en vroom, Sankies en ou liedere—
O, hulle was altyd daar vir ons , altyd en ek
voel steeds hulle gerusstellend teenwoordigheid
van my kinderdae asof hulle waak oor my
welsyn en veiligheid—
Janetta – Helena [Babs] ©
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.